In die eerste toets teen die Engelse gee Hougaard 'n taktiese skoppie met minder as 2 minute speeltyd oor. Natuurlik gee die Engelse nie besit af nie en fase op fase vorder hulle totdat hulle punte aanteken en die Springbokke lyk toe na die wedstryd nie so goed as wat hulle op minuut 78 gelyk het nie.
En jou wrintiewaar, met minder as 2 minute oor in die tweede toets teen die Engelse doen hulle dit weer, gee besit weg in die doodsnikke van die wedstryd, hierdie keer Morné as ek dit nie mis het nie. Weer, fase na fase, vorder die Engelse maar gelukkig maak hulle 'n fout en dis die einde van die wedstryd maar dit was so hittete of hulle het weer punte aangeteken.
Ebersohn en Goosen het al op die manier wedstryde weggegooi. Terloops, Ebersohn was verguis omdat hy 'n strafskop verbrou het so'n paar wedstryde terug maar dit was heeltemal onregverdig; dit was nie sy skuld dat die wedstryd verloor was nie al sou daardie skop 'n oorwinning beteken het. Dit was die feit dat die puntelling sodanig was dat hulle minder as 'n strafskopwaarde voor was en dit was die gevolg van gebrekkige balbesit wat weer die gevolg van taktiese skoppies op die verkeerde tye was.
Nou hoop ek van harte dat met die derde toets hierdie naweek hulle nie WEER in die doodsnikke van die wedstryd besit gaan afstaan nie.
Jan Rap


Kommentaar
Ek hoop nie ons eindig weer op met 'n eerste helfte span soos 'n paar jaar terug nie. Al teken hulle in die eerste helftes genoeg punte aan om deur die 2de helfte se insinking vas te klou aan die wedstryd en dan net-net te wen, is dit nie lekker om sulke rugby te kyk nie 🙁
Toe gebeur dit weer, in die doodsnikke van die wedstryd klou die Engelse aan besit soos ... Engelse aan besit. Die drie wat die Engelse gekry het, vroeg in die wedstryd, was half persent gegee deur Morné. Om punte aan te teken moet jy die bal hê om oor die doellyn te dra. Skop het sy plek maar mens moet die situasie mooi lees, soos Naas destyds goed kon doen.
Ons lynstaanspel laat veel te wense oor. Alhoewel Bismarck 'n uitstekende speler is, wonder ek of groter beweeglikheid en balvaardighede van byvoorbeeld, Strauss, ons nie beter sal pas nie. As Morne se skopafrigter hom tog net kan leer om die bal regop te plaas sal dit klaar beter gaan. 'n Denkende losskakel,(Naas het 'n rugbybrein gehad) sal ook meer lewe in ons agterlyn plaas.
Ons lynstaanspel laat veel te wense oor. Alhoewel Bismarck 'n uitstekende speler is, wonder ek of groter beweeglikheid en balvaardighede van byvoorbeeld, Strauss, ons nie beter sal pas nie. As Morne se skopafrigter hom tog net kan leer om die bal regop te plaas sal dit klaar beter gaan. 'n Denkende losskakel,(Naas het 'n rugbybrein gehad) sal ook meer lewe in ons agterlyn plaas.
Heyneke Meyer sal moet diep dink as hy 'n wenspan vir die All Blacks wil kies. Morne is nie en was nog nooit 'n volledige losskakel nie. Hy kon nog net goed na die doelpale en lugskoppe skop. Vergelyk hom met die losskakel van die Wallabies [Barnes] en Carter van die All Blacks en hy lyk maar taamlik gemiddeld.Daar is, myns insiens, ook 'n probleem op 8ste man. Spies sien jy nie waar hard gewerk word nie en hy kom ook nie oor die voordeellyn nie omdat hy te skuins hardloop. Op huidige vorm en mits hulle fiks is, sal ek vir Coetzee en Brussow op flank kies en Alberts op 8ste man
Wat Spies betref: Is hy af of word hy net intenser gemerk deur die opposisie? Is dit nie dalk die rede vir sy skuins hardopery nie? Hoe dit ookal sy, dit werk nie goed nie; Meyer sal 'n plan moet maak. Terloops, pond vir pond is Aplon waarlik 'n yster.
Ek stem saam oor Strauss en 'n goeie moyveerder is hy ook.