Ek het vergeet om te noem Jaco …

  • 0

… in my laaste kommentaar op jou vorige brief: Daar is nie sprake daarvan dat Dan “behep” is met Engels nie. Dit is net mooi andersom; ek dink hy is redelik gatvol vir juis diegene wat behep is met Engels, die wat hulle kinders in Engelse skole sit, die wat saamstem dat die universiteite en spyskaarte en melketikette Engels moet wees en so aan.

In hierdie briefwisseling waar ek wou uitvind presies wat dit is wat jou so dwars in die krop steek omtrent Dan Roodt het jy my baie teenvrae gevra waarvan ek elkeen beantwoord het. Ek het jou selfs uitgenooi om my te vertel waar ek ’n vraag oorgeslaan het sodat ek hom kan antwoord.

Op nie een van die antwoorde het jy, sover ek kan onthou, kommentaar gelewer nie. Moet ek aanvaar dat jy saamstem met die antwoorde? Een waaraan ek nou vinnig kan dink is jou stelling dat Dan beweer het dat as jy die mense nie werk gee nie hulle sal verkas na die plekke waar hulle wel werk kan kry.

My kommentaar daarop was dit ek nie veel verkeerd met daardie redenasie sien nie. Om die waarheid te sê, die einste ding is aan die gebeur in Somalië, die Kongo, Mosambiek, Zimbabwe, Zambië, Nigerië en Angola; niemand gee die mense daar werk nie en almal het hiernatoe verkas. Daarop het jy niks gesê nie. Moet ek aanvaar dat jy besef dat Dan toe reg was? Indien wel behoort jy hom dan darem om verskoning te vra.

Jy maak steeds eienaardige aantygings. Jy minag Dan oor hy nou saam met Tim du Plessis sou stem oor iets. Hoekom? Wat vrywaar Tim van minagting omdat hy saam met Dan oor iets stem? En mag mens nie saam met ’n opponent oor sekere aspekte saamstem nie? Ek is seker daar was goed waaroor selfs Kitchener en Krüger saamgestem het, al was dit vroumense.

Jaco, dis nie Christelik (of Islamities of Boeddhisties) om iemand te minag nie. Dit is jou volste reg om ’n ander politieke siening as Dan te hê maar dan beredeneer mens dit; iemand is nader aan reg en om uit te vind wie gaan slegs deur sinvolle gesprek opgelos word. Alles wat jy in jou laaste brief aangehaal het wys duidelik dat jy polities gesproke van Dan verskil maar hoekom dan “minag”? Minag jy almal wat nie jou sienings huldig nie?

Groetnis

Jan Rap

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top