
Foto: Canva.com
Ek het gewonder
Ek het gewonder of jy sou kom
tot by die anker van my wingerd
en tot by die voet van my berg.
Waar die skaduwee van sy groot gestalte
die son uit my oë kan skemer
en dan sy magiese koelte oor my wier.
Ek het gewonder of jy sou kom
tot waar die pers velde laventel lê.
Kleur vanuit ’n groot ou hand,
gestrooi om in die lentemiddag
uit die skatkis van heide
haar sonbesies
met ’n pers glans te verryk.
Ek het gewonder of jy sou kom
tot waar die gees van my branders breek.
In die spieël van Tafelberg.
Die blou groot kabels se gewoel
om my stilte te erken.
Die groot draaigolwe
my salig,
stil op my bankie
dan uit te spoel.
Ek het gewonder of jy sou kom
tot waar die son oor die see se punte sak
en met ’n lang geel stert
oor die aarde val.
Met die beroering van die wind
die dag te groet.
Hier waar die see teen die rotse
my berg –
ontmoet.

