Ek droom nog
Na Breyten Breytenbach se "drome is ook wonde"
in my jeug was die bome se groen anders,
die son het lig en spatsels donkergroen
oor die blare geverf met ’n kunstenaarskwas,
die sekelmaan het die voetpad huis toe verlig
want in my hart het die ink gebrand,
is ek verwond soos een wat hopeloos op redding wag
met die rowe soos skarlaken oor my lyf
wonde wat nie genees nie
die blomme se kleure was helderder as nou
maar die asyn bly bitter,
want drome vergaan in hopelose verwagting
in hierdie drome waar slaap ontwyk,
sou ek bid dat drome kan bly leef
en die littekens volkome genees,
want die liefde sou alles bedek
drome wat nie genees nie
as ons mekaar sou kon ontmoet
net vir ’n oomblik kon praat – sonder verwyt,
sou my bloed nie stol nie
sou water straks wyn word,
in ’n wêreld vol haat en vrees en verwyt
sou ons dalk kon sing
of droewig neurie
maar die bloed genees nie
iewers loop my drome joune raak,
oplaas sal ons dalk dan weet
die rowe genees,
maar die littekens bly
Kommentaar
Puik Deon
pragtige vers
Dankie Anzé
Absoluut beautiful, Pappa.
Treffend!
(snaaks genoeg het ek 2 Julie 2020 ietwat van 'n soortgelyke tema -- gedig ingestuur --Litnet)
Sjoe...