Ek ag jou

  • 0

Foto: Canva

Ek ag jou

Die chirurg staan opsy en vra: “Kan jy sien?”

Skrefies oë sien lig, blomme en bytjies is steeds mooi –
verward en verbaas is gebarste voete en vuil hare ’n uitnodiging,
verslae oë en vuil naels ’n gespreksknoper met ’n méns,
’n iemand, wat verlos is van dié “iets”, ’n gelyke aan en van my.
Ek ag jou ...

Asem druis in en stoot breëbors vol –
tussen verskeie reuke in die neusgange is ek in jou straathuis, maar dit skeel my min,
die vreemdheid op my palet word nou die prioriteit om jou behoefte te bedien,
walms tot wierook, ’n lofoffer wat ons gee.
Ek ag jou ...

’n Skone bloeisel en skerpste doring registreer –
ek het rus gekry met jou hand in myne, sonder ontsmettingsmiddel aan my sy,
skurwe hande roep ’n balsem sodat jy kan gedy,
hande wat die lewe ken, erken ek, wil ook getrou dien.
Ek ag jou ...

Suising rond uit in harmonieë en koorsang –
wat lê agter jou verhaal?
my venster draai ek af om jou te hoor
nie ek, nie iemand, behoort jou stem te vermy.
Ek ag jou ...

Proe was die laaste een, moeilik, maar lekker –
soutdruppels oor wange laat droë mond dors,
palet van smake is eentonig as jy nie saam proe nie,
’n eenvoudiger tong bring saam ’n voller maag.
Ek ag jou ...

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top