Vir Ran
Hallo Ran
Ek verwys na jou brief van 18 deser en stem saam met jou, Johannes Comestor skryf interessant en skiet raak. Sy briewe is vir my 'n hoogtepunt in elke aflewering.
Ek wil egter nie oor Johannes praat nie maar meer uitvind oor jou siening van 0 en ∞. Hoe het ∞ byvoorbeeld gelei tot die idee van 'n oerknal? Die begrip ∞ bestaan tog al eeue, lank voor iemand met die oerknalidee vorendag gekom het. En al kom die astrofisici eendag agter dat die oerknal 'n klomp tjol is, gaan die begrip "oneindig" nog steeds bestaan. Miskien verstaan ek jou verkeerd.
Oneindig is nie 'n getal nie, jy kan nie tel tot by "ontelbaart" soos ons dit in die grade genoem het nie. Maak nie saak hoe groot 'n getal is nie, so groot as googolplex selfs, jy kan nog altyd 1 byvoeg, en nog een, en nog een ...
Oneindig is nie so 'n vreemde begrip nie, veral nie as jy dit aan tyd koppel nie. As jy byvoorbeeld by die ewenaar begin en heeltyd rigting noord-oos beweeg gaan jy nooit by die noordpool uitkom nie want jy is besig om 'n oneindige spiraal te beskryf. Jy kan 'n foto neem as die spiraal se punt 'n millimeter van die noordpoolpunt af is en hy gaan presies lyk soos die spiraal gelyk het toe hy 'n meter van die noordpoolpunt af was (selfs al laat jy nie die kromming van die aardoppervlak buite rekening nie). Met "tyd koppel" bedoel ek jy kan nog aanhou reis en die spiraal se punt kom nooit by die noordpool uit nie, al is jy naderhand 'n nanometer van die pool af.
'n Mier kan op 'n oppervlak van A4-grootte stap en gou die einde van die oppervlak bereik maar omvorm die A4-oppervlak tot 'n bal dan sal die mier vir ewig daarop loop sonder om 'n einde te bereik. Die oppervlakte is wel eindig, naamlik 4/3πR^3, maar die vlak self is nie begrens soos 'n plat stuk papier is nie. Indien die mier spore laat mag hy agterkom hy was al voorheen op 'n plek maar hy kan vir ewig stap, hy gaan nooit 'n einde kry nie.
Indien jy die bal se oppervlakte oneindig wil maak dan moet die straal oneindig wees maar dis weer 'n ander storie (jy kan dan net sowel die plat papier se oppervlak oneindig maak deur die lengte en die breedte oneindig te maak).
Wat die afwesigheid van die jaar 0 in die Westerse kalender betref – is daar hoegenaamd 'n kalender wat 'n jaar 0 het? Nêrens is, of niemand het, 'n jaar 0 nie; van die oomblik wat jy gebore is leef jy in jou eerste jaar. Jy kan wel 0 jaar, 1 maand, twee weke, 1 dag, 3 ure en 7 minute oud wees maar dit is deel van jou eerste jaar. Om die waarheid te sê, die boonste tydsverloop kan omgesit word na 0,124757 jaar; jy is dus 0,124757 jaar oud. Jy kan nooit daardie breukdeel van 0 wees nie, daar is dus nie 'n 0de jaar nie.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Miskien moet mens onderskei tussen "syfer" en "getal".