Einde van Zinkplaat se “mooi besoedeling”

  • 0

Dis ’n geskarrel vir kaartjies en ek raap net betyds twee van die laastes op. Ek sleep my vriend Francois saam wat nie ’n ondersteuner is nie. Jy kan nie Zinkplaat alleen gaan kyk nie; hulle musiek vereis samesyn.

Aangekom by die Bridgehouse-teater buite Franschhoek, is die afwagting tasbaar. Die ligging pas soos ’n handskoen. Dis soos die teater-weergawe van De Akker, die ou eikehoutkroeg in Stellenbosch. Jy voel dadelik tuis.

Die venue sluit aan by die groep se folk-klank. Dis ’n pragtige eindbestemming vir hierdie deurmekaarhaar manne wat die musiektoneel betree het met hul plaasgeraas en stelselmatig gegroei het tot pure plattelandse rock ’n roll.

Hulle is ’n kombinasie van die oud en die nuut. Tradisionele klanke, soos ’n ou bekfluitjie en akoestiese kitaar, gemeng met moderne geluide, soos die tromme en elektriese kitaar.

Binne ruik dit amper soos ’n stal. Oud en vars tegelykertyd. Jy voel die herinneringe van die verlede en die verwagting van nuwes wat gemaak gaan word.

Die ondersteuners is meestal studente. In tien jaar het hierdie groep diep in Stellenbosch se hart gekruip. Almal is stylvol toegerus teen die koue winterbries wat buite waai. My gebruiklike leerbaadjie, denim en sluipers smelt sonder moeite in.

Twee kroegmanne van Bohemia beman ’n besige kroeg. Oudergewoonte soek almal betyds iets koud in die hand voor hierdie legendariese local band afskop.

Ons word verwys na die galery en bots daar met ’n  lang, bekommerde man wat skarrel om almal by hul toegewysde sitplekke te kry, en te hóú. Hy laat ons egter in vrede toe vier immer-bebaarde jong manne die verhoog betree. Bertie, Beer, Basson en Beitel. Hulle ryg vinnig die een treffer na die ander in, en selfs ’n nuweling sal kan sien dié sinkronisasie is te danke aan meer as net alliterasie.

Die gehoor sit stigtelik by lanternbeligte houttafels en -stoele. Hulle klap en juig op die gepaste tye. Dit voel aanvanklik soos ’n  teatervertoning eerder as ’n musiekgroep se laaste optrede.

Die prentjie verander egter dramaties na die pouse. Zinkplaat open met die ou gunsteling, “Krismis in Kampala”. Skielik storm hordes jongmans na die verhoog soos ondersteuners by ’n Kaizer Chiefs-wedstryd. Die rede ? Dit mag die akoestiese liedjie se sagte en eenvoudige lirieke wees: “Ek is lus vir ’n lekker dis. Bullybeef of geblikte vis. En ek dink vanaand aan almal wat ver is. Dis Krismis in Kampala.”

Of  dalk is dit die vloei van alkohol wat teen dié tyd ’n niksvermoedende brein getref het. Waarskynlik ’n kombinasie van die twee.

Sagte rooi en geel ligte dra by tot ’n gevoel van samesyn en intimiteit. Die mans sit hulle arms om mekaar en wieg salig heen en weer.

Drie fotograwe met donker hare en swart T-hemde sluip heel aand soos huurmoordenaars agter op die verhoog rond. Hulle neem duisende foto’s.

Dit is baie aandag vir die groep wat ’n  dekade gelede in ’n koshuiskamer by Paul Roos Gimnasium begin het. Hulle het sedertdien vyf albums uitgereik en al derduisende kilometers getoer, onder meer ’n  draai in Londen.

Hoofsanger Bertie Coetzee sê hul afskeidskonsert was die toppunt van gemengde gevoelens. “Dit was veronderstel om ’n  jubilee en nie ’n  begrafnis te wees nie. Op die ou einde was dit bietjie van beide.” Dit is die einde van ’n hoofstuk. Die grootste een van sy lewe tot dusver. Maar tog, vir hom en sy drie boesemvriende gaan die lewe aan.

Hy is op pad om te gaan boer op hulle familieplaas langs die Oranjerivier. Beer Adriaanse, drommer, is steeds druk besig om draaiboeke en advertensies te skryf. Beitel van der Merwe, baskitaarspeler, is deesdae ’n  doktor in die regte en gee klas by UWK in internasionale strafreg. Basson Laubscher, kitaarspeler, bly aan in die musiekbedryf en sal steeds gereeld optree met sy blues-band, The Violent Free Peace.

 

Intussen het die groep voor die verhoog gegroei tot ’n  reuse wiegende, dansende massa. Soos ’n  wemelende boksjellievis wat heeltyd verkleur en beweeg saam met die flitsende ligte en ritmiese klanke.

Met elke liedjie word die groep bygestaan deur ’n  ander gaskunstenaar, ’n  goeie vriend of vriendin wat iewers langs hul kronkelende pad gemaak is.

Die laaste liedjie is “Karoo Poison”. Of so het hulle gedink. Die gehoor skreeu en smeek, en uiteindelik kom die manne weer te voorskyn. “Ons kan nog heelaand speel, maar dan moet julle vir ons sê wat,” sê boerseun Bertie.
“Piekniek op die maan,” is die antwoord. Al die gaskunstenaars kom uit en sing die laaste liedjie saam. “Die Aandster is ons kersie ... Ons hou piekniek op die maan ...” Die sagte melodieë smelt saam in die nag en ek pink ’n  traan in die donker.

Terug in die kar sê Francois: “Weet jy hulle is eintlik baie cool.”

“Hulle was ja,” antwoord ek. “Hulle was.”

 

Lees Henry Cloete se in-diepte onderhoud met die lede van Zinkplaat oor hulle 10 jaar van musiek maak.

Hierdie bydrae vorm deel van samewerking tussen LitNet en Universiteit Stellenbosch se Departement Joernalistiek gedurende 2013.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top