Ek lees Elridus Grobler se brief en dit maak vir my baie sin. Ek weet daar is baie mense deesdae met geestesafwykings en persoonlikheidsprobleme en dit word lyk my erger. ’n Mens kan oral fout soek en almal blameer vir die situasie waarin jy jouself bevind. Daar is mense in my familie wat so is en selfs die ouers wil blameer.
Ek het in die vorige eeu vir ’n departement gewerk waar daar ’n streng keuringsproses deurgemaak is om toegelaat te word. Wat my opgeval het was die gonswoord, "dinamiese persoon", wat daardie tyd baiekeer gebruik is. My mening van daardie persone was beslis nie so vleiend soos die gonswoord nie. My ervaring van die "dinamiese persoon" was dat hy/sy iets by jou wou gehad het of jou gebruik om eie doel te bereik. M.a.w hulle was gebruikers. Hulle het jou probeer manupileer om jou met die heuningkwas te moer om sodoende hul doel te bereik. Ek is half sinies teenoor sulke mense, en ’n persoon wat jou te veel loop en komplimenteer se bona fides moet jy eers uitkyk. Eerstens vra jouself af, wat die lid wil hê?
Die enigste gonswoord deesdae vir ek dink meeste van ons is, wat is daarin vir my? Niemand dra jou belange op die hart soos jyself nie. Dit gaan alles vir eie gewin en selfbelang. Ek het grootgeword in ’n huis waar my ma se hand vir almal "oop" was. Ek het dit nagevolg totdat ek op een dag besef het, ek het niks oor nie. Wou almal help. Het agteroor gebuig om mense te akkomodeer en ander se belange voor op te stel. My woord daarvoor is onnoselgeit.
Baie mense beweer geld is ’n euwel. Dit is beslis nie so nie. Dit is baie lekker om geld as jou pel te besit. Sodra hy jou god word, het jy probleme. Ek het mense gesien wat persoonlikheidsveranderings ondergaan het, toe hulle skippe inkom. Jy kan die manne en maninne skaars groet. Wil nie eers met jou praat nie. Aanvanklik was dit bietjie krapperig maar het gelukkig gou daaroor gekom. My siel was en is nie te koop nie.
Die persoon wat op jou neersien en af praat na jou toe het gewoonlik ’n lae selfbeeld wat hulle op jou projekteer.
Wat my rooi laat sien is, baie keer seg mense vir jou ons moet bietjie by mekaar uitkom of bel my sodat ons kan kuier. WTF. Ek het dit voorheen afgelag, deesdae sê ek gou, hier is my nommer en bel jy my wanneer jy reg is om te kuier of wat ook al. Jy hoor selde weer van daardie persoon.
Ek het baie tyd maar nie tyd om te mors nie. Ek laat ook nie meer toe om op getrap te word nie. Jy kan jouself laat geld deur bedag te wees op die gebruikers, misbruikers en lieplappers van die samelewing.
Grond kan jy koop, maar agtergrond nie.
Reusedwerg

