"Eerste span" deur Dirk Blignaut

  • 0

Eerste span

... rol jy nog jou vensters op
wanneer jy by daardie rooi lig stop
moenie vir hulle geld gee nie, hulle gaan net gom daarmee koop.
Ek sou help maar ek's te besig,
my barmhartigheid afwesig,
so kom ek kyk net voor my en maak of ek nie sien nie.

Want waarso is die menslikheid
in hierdie onbereidwilligheid
om ons hande en ons oë en ons harte oop te maak.
Jy's 'n Christen maar jy's glad nie soos Jesus nie
As hy sy pêrels kom haal kry hy net swyne hier.

Ek sê dit mos
natuurlik net om 'n reaksie te kry
nog 'n klein bietjie skok om jou kop te bevry
jy's nie alleen nie, ek blameer elke kant ewe veel
as daar 'n hel is sal daar moet plek wees, want ons almal gaan moet deel.

Daar's 'n brein in hierdie skedel
en ’n gedagte in my kop wat ek moet uitkry en in jou in kry
ek's jammer as jy seerkry
maar dis hoe dit moet wees, want ek's ook maar net vlees,
my intellek en my feilbare vlees.

En my wonde word gesond, so ek krap weer bietjie rond
want dis lekker om te bloei, dit in my are te voel vloei.
Maar ek bloei nou al te lank, niks meer bloed in hierdie bank
waar my siel in 'n kantoor werk en elke oggend 'n das aantrek

Ek wil nie maar ek sal my narkose met jou deel,
want dis mos 'n feit, hierdie lewe raak te veel
ek het drie gram se doofstom en blind in my sak
medisyne, wat jou beter laat voel.

Ek kan nie ophou kyk nie, wens jy sou.
Ek kan nie ophou luister nie, wens jy sou,
wens jy sou.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top