
Foto: Canva
Kwistig verf jou kyk
’n palet van kleur
oor my grys drumpel
Die mure wat eens
gefrons het, glimlag
en die vertrekke
knik instemmend
Jy het my koue kamers
met somerson versier
en oral lig gebring
Die winter het egter
deur oop vensters ingewaai
en ons warmte verdring
Oplaas is dit
hartseer deure
wat jou vaarwel roep,
die huis koud
en vol verwyt
Agter jou voetspore lê
’n vertrapte blom en
terwyl jy een laaste keer omkyk,
ontmoet ons oë
en sonder woorde
neem ons finaal afskeid.

