suid-oostelikes, vlakte-vervlaktes, uitskot, oorskot,
verwerp deur bloedgroep-groep, onderdrukkers,
Broederbonders, Anglo-Amerikaners, invallers,
grond-, water-, landoornemers, eksploiteerders,
Ses-skoonmakers, anti-integrasie-verskuiwers,
bittervrugkwekers, struktuurgeweldenaars:
Bibault, Franko-Afrikaans, was waarlik nie eerste,
inderwaarheid, hy was onder, onderdeur die weer,
hele paar bottels met vriende gedeel, VOIC se arak,
toe hy sy genetiese herkoms oppie Braak radbraak,
idee van identiteit, van inheemsheid, vandaangeid
soveel geslagte al in, van, op hierie grond, “umhlaba”,
“umlungu”-status kort na seilbootlanding prysgegeef,
slaafkinners gesoebat, Mens te beskerm, teen indigeen,
versus Eerstes, Eerstes se kenners, hoeveel jaar al hier,
Mens mossie lus, soos Khoikhoi-os, teen eie juk te skuur
nie so toegewyd soos man uit Deenmark uit, Dok Havgard,
nugter geskrik, virrie beeldskoon Khoisan-vrou, Jan se meid,
toe hy Eerste Mens trou, in magtig VOIC se gebedplek, eish,
’t Piet Havgard res vannie inkommers, fisies, duid’lik gewys,
lat hy lus is vir inheemse bloed, net so goed, indien nie beter,
as dié vannie inkommer, vol vrees vir inmeng, vermeng, meng
Havgard sy rug mooi krom maak vir Afrika, Krotoa ook mooi wys,
wat presies in haar, as Eerste Vrou, steek, haar veeltaligheid,
as tolkin, taktikus, Khoisandiplomaat, tot baie liefde in staat,
bereidheid tot versoening, nes Pocahontas haar deel te doen
Havgard uit Denemarke, toe allie tyd ons eerste “Africaander”,
ja, nie Bibault, soos historici m’t historillusie probeer voorgee,
nes mettul “ras”,“klas”, kapitalisties, Naaste in tipe boks druk,
almal wat “anders” is as “ander” kategorie op hul lys af wil tik,
noggie b’reid, afskeid te neem van “isiBhulu”, “Boer se Taal”,
noggie gereed, vir Begin, Aanvang, van God se Waar V’rhaal
Jacobus Faasen


Kommentaar
Bibault het gesê hy is een, nie die eerste een nie. Buitendien, ek vermoed sy 'Africaander' sou in Engels vertaal kon word as 'African', met ander woorde behorende tot Afrika en nie meer Hollander of Fransman of wat ookal nie.