eers liefde, dan gedigte

  • 0

Fotobron: Canva

eers liefde, dan gedigte

hulle sê vir my die mense lees nie meer gedigte nie,
maak baie sin daai ding, want daar is geen digters nie,
as jy woorde skryf in ’n bedryf, gesog en aan liefde verkoop
dan moet jy versigtig wees met naamnoem gebaseer op domhoop;

moet ’n digter van liefde skryf, van goedheid en van
die vrou se lyf, of mag die woorde nie meer gaan
oor die valse goor gedrag van ’n besigheids-skyf;

die tyd het nou gekom, vir die een wat homself
nog heeltyd vermom, die een wat al die idees het,
die een wat Afrikaanse woorde uit die berg laat kom;

dis nie ek nie, ek’s nie die een ─ wat skryf, ek het
’n pen en ek het ’n lyf ─ maar die digtergees bly ver
van my, ver van waar ek die antwoorde kry;

wat beteken die sin wat geen betekenis maak,
en hoekom is daar te veel studente wat dit uit braak,
die antwoord weereens is eenvoudig genoeg,
hou aan soek ─ en hou op sê jy’s te moeg;

afgesluit word geen skrywe, of dit suur gehoor word
of soet soos druiwe, die digter sal sy verskyning weer
maak, maar eers moet liefde weer ’n ding raak.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top