Kobus,
Daar’s eenvoudig geen krag agter jou eentonige intellektualisme nie want jy bulder jou naakte haat soos ’n muur vas teen andersgelowiges en ongelowiges.
Jy deel nie die Waarheid in vrede en liefde met ander nie - nee, jy bliksem "die leuen" asof in ewige kruisverhoor gegrond op jou eie veronderstellinge uit jou medemens.
’n Hater is iemand wat hul tyd en energie spandeer om ander klein te laat lyk sodat hulle groot kan lyk. Kobus, jy het dit nou reeds oor en oor bewys - haat is na al die jare die hoofsaak wat oorgebly het danksy jou op die werf ...
Nietemin, elders (https://www.litnet.co.za/Article/darwinsime-se-archaeopteryx-achilleshiel) tik jy in een van jou woernale aan Angus die volgende: "Angus, jy moet onthou, regslui weet hoe om met deskundige getuies en getuienis om te gaan – die getuienis is nie ons eie nie en hoef ook mos nie te wees nie – maar word deur ons aangebied komende van deskundiges self. Ek kan sien dat jy heeltemal onkundig is met die hantering van deskundige getuienis. Dus, dit is glad nie nodig vir my om die dinge wat jy vra, te doen nie – jy het reeds die inligting, vir jou verskaf vanaf kundiges op die gebied. Dus, jóú metodiek laat veel te wense oor. Nou ja, jy het nou jou tyd gemors – in stede dat jy aanvaarbare weerleggende (sic) getuienis aanbied wat nie hipotese is nie, kom jy met die nonsens hierbo."
Kobus, dis werklik interessant.
Ek’t jou nog altyd gemaan oor die kammahof wat jy op die werf poog. Dis asof jy jou verlore glorie probeer herwin na jou skraping van die rol vir eerbare prokureurs.
Natuurlik kan jy jouself as martelaar verhef jeens my voor die gees laat kom van jou dwalinge in die regte lewe. Maar laat asseblief jou hardvogtigheid net vir ’n oomblik en dink aan die geldigheid van my veronderstelling.
Met alle respek; as grootmens verstaan ek dat jy iewers erge trauma in jou lewe ervaar het en nou jou toevlug in enge rasionele denke probeer vind.
In die regte lewe het ek ook te doen met iemand wat deur sy eie nalatigheid (en dié van sy vrou) hul driejarige seuntjie in ’n swembad sien verdrink het. Hul seuntjie was een van ’n tweeling en die dogter is vandag ’n jong getroude vrou.
Die traumatiese ervaring jeens die verlies van hul kind jare gelede terug het hierdie persoon in ’n gewetenlose geldmasjien omskep. Die Bybel is nes joune ook sy wapen.
Hulle open hul besigheid elke oggend met skriflesing en gebed en neem slegs Christen-naïwelinge in diens. Hulle huiwer nie om te lieg en te bedrieg onder ’n dekmantel van Christelikheid nie. Hul bedrog behels miljoene sonder saak met die publiek se gesondheid en veiligheid. Soos jy dalk weet beteken sulke gedrag ’n skedule ses oortreding. Na ’n lang uitgerekte ondersoek voer hulle heel moontlik hul bediening voor die einde van jaar in die tronk.
Ek noem dit sodat jy kan weet dat ek heelwat ervaring van mense in die regte lewe het wat met ’n Bybel onder die arm skaamteloos lieg en bedrieg om geld te maak. Hierdie mense is "nooit skuldig" aan iets nie en plaas alle verantwoordelikheid en skuld op almal om hulle - hulle is dan uitverkore gelowiges - kyk net met hoe baie geld is hulle dan geseën ... en die wonderwerk hoe ander verblind is sodat hul dade ongesiens vir jare verbygegaan het ... wie kan daarteen stry?
Jy kan seker aflei dat ek ook soms tyd in howe en kommissies deurbring. Lees ek dus jou herinnering omtrent regslui se rol in die hantering van getuies en bewyse aan Angus, sien ek jou onreg as aanklaer duidelik op die werf.
Die werf is eenvoudig nie ’n hof of kommissie waar jy jou rede op grond van aanklag- regter- beskuldigde kan voer nie.
Tensy ... en hier is my voorstel; bepaal jy wie die kommissaris/regter/jurie sal wees, wat die aanklag is en in watter kategorie jy as aanklaer jou getuies en bewyse plaas (byvoorbeeld hoorsê getuie/ooggetuie/vyandig ens ...). Ek sal namens die verweerder/respondent/aangeklaagde argument voer.
Kobus, ek nooi jou op jou eie terme in jou eie kammahof om jou saak op geordende wyse te voer.
Jou amigo in Adam,
Cornelius


Kommentaar
Sjoe Cornelius, Hierdie is nou 'n uitmuntende stukkie en 'n wonderlike uitdaging aan Kobus. Tog dink ek nie die grote het die potensiaal om op geordende wyse sy saak te stel nie. Jy weet mos hoe lank hy al die kwessies waarna jy verwys omseil. Selfs die destydse "ontboeseming" van hom, laat my skielik koud.
Soos wat hy met mense soos Perdebytjie praat, laat my regtig wonder of die ou grote enigsins 'n begrip het van wat sy eie geloof propgageer. Ek sien niks liefde in sy redenasies nie, en sy optredes is op rekord, vir almal om te lees en hulle eie afleidings te maak.
Johan, jy is reg.
Ek sou ook vreeslik naïef wees as ek wel 'n antwoord van die ou grote verwag het.
Die mense na wie ek in my uitdaging verwys doen baie dieselfde as Kobus om hulself uit 'n hoek te kry. Nes 'n slang vervel en sy leë dop agterlaat; so likwideer hulle belange en groei in hul geslepenheid tot dit weer tyd is vir 'n nuwe vel ...
Kobus laat my weer aan 'n akkedis dink wat sy stertjie laat val en dan terug in sy gaatjie vlug; of soos 'n inkvis 'n wolk maak en in dit probeer verdwyn ... of soos die gewone muishond ...
In alle geval is hul geestesaandoening duidelik. Dis iets ergs wat duidelik 'n langdurige steurnis teweegbring. Dit laat hulle uiteindelik koud omtrent enige verantwoordelikheid teenoor hul medemens en dis die hartseer wat die res van ons om hulle tref ...
Ek's nie hul natuurlike vyand nie daarom werk hul kuns om ander te uitoorlê nie met my nie. Dis bloot 'n kwessie dat hulle my pad op die verkeerde plek kruis en ek hulle wil optel en uit my pad neersit.
Hier en daar misgis ek myself en die donder pik my.
Maar nou ja, nes Paulus het ek 'n mate van immuniteit teen hulle gif. Ek sal egter lieg as ek ontken dat ek al 'n paar keer so opgeswel het dat ek myself amper nie herken het nie.
Die vrees in hul ogies is altyd duidelik en behalwe vir 'n klomp lawaai is hulle eintlik skadeloos ... tot op 'n punt ...
Kobus is egter skadeloos met sy drogma op die werf. Ek bid net dat my amigo in Adam sal besef dat sy geheim glad nie so groot is nie en dat hy maar gerus met iemand in die regte lewe daaroor moet gaan gesels. Dis mos hoekom God so baie van ons geskape het - sodat ons nooit alleen aan ons las hoef te dra nie ...
Dankie vir jou belangstelling Johan.
Hindoe-, Moslem-, Joodse, katolieke en Boeddhistiese groete,
Cornelius