
Foto: Canva
Een oggend in Bonteheuwel
befoeterd soos ’n warrelwind
storm jy na buite
sonder om soos ander dae
te sê waarheen jy gaan
of hoe laat ek jou min of meer
terug kan verwag
wees asseblief versigtig
roep ek agter jou aan
in ’n poging
om jou te waarsku
teen die gevreesde bendelid
wat uit is op parool
jy uiter nie ’n woord nie
en ek kan net my kop skud
jy lewe weer vandag
in ’n wêreld van jou eie
iewers klap skote
ek hoor iemand gil
en dan ewe skielik
is alles grafstil
uit by die hek haas ek my
na die afgesperde toneel
waar nuuskieriges saamdrom
soos ’n lastige swerm bye
jou bloedbevlekte T-hemp
stuur ’n rilling deur my lyf
so ook die vrou met die wit laken
wat langs jou kom kniel
dit voel kompleet soos ’n nagmerrie
toe ek in my broeksak krap
en my selfoon uithaal
om vir Avbob te bel

