Een-dag

  • 0

Sy gly haar hand in syne. Haar hand is koel en kalm. Syne skielik sweterig. Sy kop ’n warboel van gedagtes en emosies. Wat moet hy doen?

Saam kyk hulle uit oor die vallei onder die berg Yulongshan (Jaspis-Drakeberg) in China. Ver in die verskiet is die Naxi-dorpie waar sy vandaan kom; hyself kom uit die verre Suid-Afrika. ’n Vreemdeling in ’n vreemde land. Waarom moes hy juis hier sy geliefde ontmoet?

Etienne, in Mandaryns getranslitereer as Yi Tian, oftewel Een Dag (of is dit nou Eendag?). Eendag, het hy homself belowe, sal hy gelukkig wees. Hy sal die meisie van sy drome ontmoet, ’n gesin begin en vir ewig gelukkig wees. Dan sal hy nie meer so ’n eenkantmens wees nie.

Maar hy het van die begin af gewonder of dit moontlik is in hierdie land met sy snaakse gewoontes en gebruike. Waar meisies moet trou voor hulle dertig jaar oud is en ouers dikwels foto’s van hul dogters teen bome opplak om só ’n skoonseun te probeer kry. Dis baie belangrik, want wie gaan vir hulle sorg wanneer hulle oud is? Tradisioneel moet dit die oudste seun wees, maar met net een kind, ’n dogter, is dit baie moeilik. En daarbenewens moet dit ’n Chinees wees.

Etienne is ’n laowai, ’n vreemdeling in China. Hy het nie hier ’n vrou kom soek nie, nog minder in die gebied van die Naxi, ’n minderheidsgroep in die Yunnan-provinsie in die suidweste van die land wat homself die Middel-Koninkryk noem. Hier het nie net mans nie, maar ook vroue voorheen vrye liefde beoefen; later is hulle tot monogamie ingeperk. Daarna het verliefdes die struikelblokke in hul pad aan die noodlot toegeskryf wat hulle dan ná selfdood in die hiernamaals weer sou verenig. Behalwe by die Mosuo-groep wat in afsondering dieper in die berge woon, het die patriargie die septer bly swaai. Dit het Yi Tian ’n paar dae gelede besef toe Mnr. Li Jinchun, nou die patriarg van die dorpie daar onder in die vallei, sy kop gewas het. Nee, het Li gesê, daar is geen kans dat jy met my dogter Zhai kan trou nie. Jy is ’n laowai, gee pad!

Enkele dae tevore was Li nog baie vriendelik toe Zhai (oftewel Linda), haar geliefde by haar ouerhuis aangebring het. Tydens die Chinese Nuwejaar mag niemand alleen wees nie, daarom het sy hom genooi om saam met haar huis toe te gaan. “Kom vier saam fees,” het sy gesê, “jy moet saam met ons vis kom eet … dit bring geluk vir die nuwe jaar.” Linda, die kort, slank meisietjie met die bruin oë en hare wat tot by haar heupe hang. Dis hy wat haar dié naam gegee het; soos baie in China wou sy ook ’n Westerse naam hê.

Linda, die meisie met die drome in die oë in sy Engelse klas. Drome wat praat van reise op die spoor van Marco Polo na sy geboorteland Italië, wat nie vir ewig met China tevrede kan wees nie. “Ek wil wegkom,” het sy gesê die eerste aand toe hy haar in sy arms vasgehou het. “Ek is ’n Naxi, maar ek wil soos die arende van die Drakeberg my vleuels kan sprei en selfs na jou land, Nanfei (Suid-Afrika) vlieg.”

Die Drakeberg, waar die bome staan waaraan geliefdes hulle soms opgehang het as hul ouers geweier het dat hulle trou. Daar waar sommige jong mense na hul dood gespring het. Liewer dood as apart. Amper soos Romeo en Juliet, hoewel Linda nog nooit van  Shakespeare gehoor het nie.

Etienne dink terug aan die skool in Beijing waar hy vroeër klas gegee het. Die eertydse Amerikaanse sendelingskool waar die Kulturele Rewolusie in 1966 begin het. Waar leerders hul skoene uitgetrek en onderwysers daarmee bygedam het, waar die gespes ’n bloedspoor op die rûe van leerkragte getrek het. Waar Uighur-meisies uit die Xinjiang-gebied hul skouers skud as hulle die ekspressiewe volksdanse doen … net om die volgende oomblik by hom te kla dat hulle eensaam voel.

Daar was die dam in die middel van die skoolterrein: vreedsaam met sy Chinese eende, swierige swane en wilgerbome. Waar daar dalk in die donker dieptes geheime skuil waarvan hy liewer nie moes weet nie. Die kinders in sy klas het grootoog vertel. “Jare gelede het ’n seun en ’n meisie verdwyn. Daar is hoog en laag na hulle gesoek. Einde ten laaste is die dam leeggemaak en is hul liggame op die  bodem gevind. Vasgemaak aan mekaar. maar met ewigdurende glimlagte verstar in die dood op hul gesigte. Dood, omdat hul ouers nie wou hê hulle moet ’n verhouding hê nie … dis mos verbode op skool in China. Die twee is veras; is hul siele verdoem tot die uiterste duisternis?

En nou staan Etienne hier, op die rand van ’n afgrond. Hier het hulle die afgelope paar dae elke dag gekom om te praat, te besin. Is daar ’n ander uitweg? Sy hou sy hand al hoe stewiger vas. “Moenie bang wees nie,” fluister sy in haar gebroke Engels. “Ek sal jou nooit in die steek laat nie.”

Hy kyk weer oor die vallei. In die verte is die Naxi’s besig om hul landerye te bewerk. Hier en daar trek die rook uit bouvallige houthuisies. Kindertjies speel onder reusedennebome. Hy kyk na die plaat vreemde bossies onder sy voete, dit strek so ver af as wat die oog kan sien. Linda buk af, pluk ’n handvol blare van die bossies, gee dit aan. “Eet,” sê sy, “dit sal jou kalmeer. Moenie bang wees nie.” Hy steek ’n blaar in sy mond. ’n Soeterige smaak. Maar met ’n kalmerende invloed. Amper soos dagga, wat hy nou hoor in Suid-Afrika wettig is. Hy sien Linda eet ook.

Maar hy is ’n vreemdeling, soos in Albert Camus se boek L’Etranger. Nie net ’n vreemdeling in China nie, maar ook in sy eie land. Waarom was hy altyd buite, waarom kon hy nooit om sy ouers te plesier met die hoofstroom saamgaan nie? Is hy werklik soos Meursalt, wat eintlik van ’n absurde afstand sien hoe sy ma sterf?

Meursalt se son is in sy oë. Linda trek aan sy hand. Kyk hom aan. Haar mond vorm die woorde “kom, kom.” Hy wil nog teëstribbel, al het hulle saam besluit. Die volgende oomblik verloor hy sy balans, tuimel deur die lug met haar hand stewig in syne. “Nee, nee” wil hy skreeu, maar daar kom geen geluid uit nie. Dis asof sy stembande nie werk nie. Is dit dalk wat die snaakse bossie aan ’n mens doen? Dit voel asof die ewigheid stilstaan voor hy die grond tref.

Die volgende oggend het ’n veldwagter die twee liggame daar aangetref. Nog steeds met hul hande vas inmekaar gestrengel. Op draagbare is hulle dorp toe gedra en selfs die ou mans op straat het vir ’n oomblik opgehou om mahjong te speel. Li Jinchun het die stoet ingewag, sy gesig onleesbaar, net ’n waas oor sy hartseer oë.

In Li se hande was ’n jaspis-standbeeld van Kuan Jin, die Naxi se Godin van Genade. Uit Yi tian se rugsak, in die agterkamer, het hy Dante se Paolo en Francesca gekry. Van die “windgeeste wat ligter as die wind op die wieke wegsweef”. Dit sit hy woordeloos op Yi tian se liggaam.

Toe begin die proses om die geeste van die twee jongmense met die Jifeng-rites te suiwer. Volgens die Dongba-voorskrifte, half-Naxi en half-Tibetaans, sal die geeste van enigiemand wat ’n liefdesdood sterf, nie tot rus kom voordat die demone wat hulle daartoe gedryf het, tevrede gestel is nie. Tot dan, word geglo, sal die geeste van diegene wat ongelukkig in die liefde was, op aarde rondswerf en nie in die hiernamaals kan rus vind nie.

Die Jifeng-rites neem twee dae. Daarna word die lyke weer bergop geneem. Tot daar waar die arende en aasvoëls hul volgende maal sit en afwag. En dadelik aan die nuwe feesmaal begin smul. En daarbo het die arende al in die rondte gemaal. En saam met hulle  het Yi tian en Linda se geeste gedwarrel.

Twee dae later is Li Jinchun bergop om te gaan kyk of daar iets oorgebly het. Nie veel nie, maar tog: buite Linda se liggaam, nog met ’n naelstring verbind, was ’n fetus. Li kon nie sien of die gesiggie ook Kaukasiese gelaatstrekke het nie. Dit was ’n seuntjie.

Nou was Etienne vry, nie in sy onrustige suidland Nanfei nie, maar in die Middelkoninkryk. Hy is nie tussen die seemeeue by Tafelberg nie, maar tussen die arende van die middel van die wêreld. Sy Een Dag/Eendag is hier.

***

Eendag, jare daarna, staan Etienne se ouers voor Rodin se beeld van Paolo en Francesca in Parys wat “Die Soen” genoem word. Verbode liefde wat geëindig het in die dood. ’n Verhaal so oud soos die aarde wat hom steeds in vele gedaantes afspreel. Dante se gedig wat Etienne se gunsteling was:

One day for our own pleasure we were reading
Of Lancelot and how love pinioned him.
We were alone and innocent of suspicion. 

"Several times that reading forced our eyes
To meet and took the color from our faces.
But one solitary moment conquered us. 

"When we read there of how the longed-for smile
Was being kissed by that heroic lover,
This man, who never shall be severed from me, 

"Trembling all over, kissed me on the mouth.
That book — and its author — was a pander!
In it that day we did no further reading." 

While the one spirit spoke these words, the other
Wept so sadly that pity swept over me
And I fainted as if face to face with death, 

And I fell just as a dead body falls.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top