Die dag is baie mooi vandag. As ek in Singapoer was, sou ek afgestap het na een van die water reservoirs toe. Dit was so 20 minute se stap. Daar aangekom was dit nog ’n hele ent om tot by die water te kom. Daar was gras. Gras was skaars in die betonstad. Bome ook. Daar was ook bome anderkant die water. Die bome wat wel bestaan het in die stad was ontsaglik hoog weens die hoë humiditeit (ek reken). Op die oewer van die water was groot klippe gestapel vir seker so ’n meter of wat. Die water-lyn was in die klippe. Die water was suiwer. Hulle het naby die water bome geplant om die water suiwer te hou en die reën te trek. Die Chinese is slim mense. Die bome het diep donker groen blare gehad. Daar was baie skaduwee. Daar was vrede en iets in die Gees wat ek nie geken het nie.
Ek’t soontoe gegaan van tyd tot tyd. Die eerste keer was ek bang om te vêr te stap en het ek kort voor ek daar aangekom het, teruggedraai – nie geweet ek was so naby nie. Was spyt dat ek dit gemis het.
By die water was ’n bankie, dalk so drie van hulle - groot ente uitmekaar uit. Ek’t altyd net op die een gesit. Dit was seker nie veilig daar nie – een van die busse se advertensies het gelees... “Low crime, does not mean, no crime”. Ek was nie bang nie. Daar was groter dinge daardie tye wat moeiliker was, as om bang te gewees het op verlate plekke. Die bome was vêr – dit was aan die ander kant van die water en ek kon nie daar uitkom nie ... maar steeds kon ek hulle geniet.
In die woonstel waar ons gebly het, was ons op die derde of vierde verdieping. Ek reken derde – kan nie meer onthou nie. Daar was baie trappe. Dit het soos die vierde gevoel. Was die grondvloer, dan ’n vloer wat hierdie trappe nie gedien het nie ... en dan moes ons op twee vlakke by ander woonstelle verby klim ... ja ... dit maak dit die vierde verdieping ... of is dit nou die vyfde? By die venster uit was ook bome – hulle het ligter en fyner blare gehad ... hulle takke het bo die kamer-vlak uitgehemel. Hulle was nie so mooi nie en het my nie werklik aangeraak buiten die dag toe ek besef het hoe hoog hulle werklik was nie. Dit was ’n effense skrik. Ek het baie uitgekyk ... mens se oë soek mos groenigheid om te rus ... of is dit die siel?
Maar by die reservoir was daar iets anders. Daar was stilte en oopte en God. In ’n land waar ‘n heidense regering aan bewind was ... was God.
Een dag was ek seer. Dit het daardie dag gereën. Die waterdruppels in Singapoer is groter as dit in Suid-Afrika. Heel anders en hul ‘waarde’ is ook groter as wat hulle self is. Dit is ’n ondervinding wat ek in geen woorde kan beskryf nie. Die natuur is ook nie so dankbaar soos in Suid-Afrika nie. Hulle kry genoeg water daar.
Dit het gereën, maar hierdie dag was die druppels nie almal so groot nie. Ek was seer binne en het afgestap reservoir toe. Ek dink ek was meer as seer, maar ek sal nie kan weet wat dit genoem word nie. Dit het al die pad gereën en ek kan nie onthou of ek skoene aangehad het nie. Soms het ek sonder skoene gaan stap en soms het dit amper ongelukke veroorsaak in die verkeer ... wel ... een keer ... meer as een keer. Hoe dit ook al sy ... ek het in die reën afgestap soontoe en daar aangekom, in die reën op die bankie gesit en huil. My trane het met die reën gemeng en dit was nogals ‘bevredigend’ om soveel oor my wange te voel afrol. My gees het oopgemaak en dit het binne-in my in-gereën. Ek’t myself uitgehuil en die Here was so naby ... God deur Sy Gees.
Nog nooit het ek Hom ervaar soos in hierdie stad nie. Iewers kry die Christene daar dit reg om God se Gees meer tasbaar te maak as in SA. Dit was nie ‘ek’ nie ... want ek is nog dieselfde mens en my soeke en afhanklikheid tot God ook nog dieselfde - al groei ek. Dit was ook nie ‘God’ nie, want Hy is tot my mos dieselfde daar ... as hier ... Dit was ’n verskil wat die Christene gemaak het. Dit is wat ek glo.
Ek kan nie glo, ons land se ‘witch-craft’ is groter as hulle Oosterse heidense gelowe met Boeddhas en slange en drake en kristalle en dinge nie. Evil is evil en is oral te kry, maar wat het die Christene daar gedoen dat God so kosbaar, tasbaar teenwoordig was. Ek wens ek kon weet! Ek wonder of hulle weet!
Dit was stil op my bankie ... ook om hom. Ek’t maar altyd ook agter my gekyk ... so van tyd tot tyd. Daar was net een keer nog ’n persoon ... nee ... twee keer. Een keer was ’n man, hy’t afgekom tot by die water en toe is hy op na die wagtoring. Later is hy weg. Daar was baie trappe tot bo en het ek dit nooit aangepak nie. Genoeg trappe geklim om by my bed te kom elke dag! ’n Ander keer was daar ’n paartjie met ’n klein kindjie wat ’n rukkie vertoef het ... of ek het geloop – kan nie onthou nie, maar die dag ... in die reën ... was daar niemand. Net ek en God se Gees. Die water het my hele liggaam gestreel. Elke druppel was ’n aanraking van God. Dit was nie sommer net reën nie. Dit was een van die kosbaarste belewenisse van my lewe en daardie dag het ek nie eens die realiteit van dit besef, soos vandag nie. My hele lyf was in hoendervleis uitgeslaan en my liggaam het reageer tot dit wat in die gees gebeur het, maar hoe kan ek beskryf wat nie woorde het nie en watse woorde sal ek gebruik as dit my nie gegee word nie en as ek sou probeer ... dan sal die vervulling ... van God ... in my ... nie beskryf kan word nie. Sy stem het ek gehoor, sag, tog duidelik. Strelend. Helend. Kosbaar. Liefde.
Vandag begeer ek nog so ’n dag met soveel reën en net soveel Gees maar as daar trane sou wees, dan sal dit dankbaarheid wees en woorde sal ontbreek maar ek sal weer sing deur die reën en deur die trane sal ek weer Sy lof besing en Hom hulde bring. Sy ere ter naam. Sy Gees sal weer in my reën ... en dalk op my ook ... Sy woorde sal ek hoor.
Ek verlang vandag om daar te gaan sit ... soos daardie dag. Ek het nie gedink ek sou ooit teruggaan woonstel toe nie. Ek wou daar sit tot ek vergaan en vandag ook.
Vandag is die mooiste dag in Suid-Afrika. Dit is ’n helder blou sonskyndag met geen wolke nie. Die voëls tjirp altyd by my agterdeur en soms pik-pik hulle op die sement dat dit klink soos wanneer ek op die rekenaar tik ... of soos reën. Dit is ’n vroeë lente dag in Junie. Hoe kan mens vir meer vra. Dis ’n dag waarin mens begeer om soos kinders in ’n swembad rondom ’n trekker binneband te baljaar. ’n Dag waarin mens uitgaan en die son en die dag en die goeie wat God gee, geniet.
Dit is juis hierdie dag wat my roep om uit te gaan, maar waarheen sal ek uitgaan en waarnatoe sal ek stap en wat is daar vir my om te gaan geniet. As ek met my geestesoë die pad soek na waarheen ek wil stap, vind ek nie hier, die natuur en God-belewenis wat ek vandag soek nie. Ek vind nie dit, waarin ek my dankbaarheid wil gaan uitstort nie, maar ek vind die paadjie vêr oor die see tussen klein mensies deur met klein handjies en vinnige draf-stappies. Almal se ogies gerig na voor ... uithou, aanhou ... wen. Ek weet ek kan, ek weet ek kan, ek sal. Ek moet. Ek doen. So, so, so ... daar sý ... daar is dit nou so. So vind ek my pad ook self deur hulle heen, met ’n ondersteuning wat niemand van weet, hulle gee nie.
Wanneer ek uit-asem by die bankie kom soek ek die water moet lewe en dalk soek ek golwe en bruisende branders, maar die bietjie wat daar is in die windjie breek tussen die groot klippe – of was dit grys sement blokke wat teleurstel. Die bome roep. Iewers is ’n lewe, maar dit is verberg. Weggesteek. Ontken.
In my geestesoog kan ek vandag daardie plek soek en vind soos ek dit wil hê, tog kan ek nie die water teen my gesig en lyf voel afvryf nie. Ek kan vandag daardie plek vind en my dankbaarheid uitstort in die Gees wat vandag hier is ... in my huis ... in my erdekruik. Het ek Hom saamgebring of was Hy maar altyd hier ... altyd daar as mens soek.
Ek onthou ek het destyds dors geword, my gesig gelig en van die reën gedrink. Dit was koud op my lippe en op my tong. Koud in my mond en koud op my lyf. Vervulling van God op my vel, maar ook binne-in my. In my liggaam, in my siel en in my gees. Elke druppel het my gevoed, dit was soos lewende water. Ek het die salwing van die Here in my voel invloei met elke druppel asof dit ’n druiwe-korrel was wat ek gebyt het en die sap my mond gevul en met my keel afgegly en my liggaam versadig het. My siel versadig het. Dit het lank gevat voor ek afgekoel het. Die koeligheid, brandende vuur van God ... in ... en op my.
Dalk vandag, dalk is dit ook vandag daar ’n mooi sonskyn-dag en dalk is daar ’n paar Chinesies en ’n hele paar kindertjies, ’n koek, koeldrank, chippies en lekkers. Dalk ’n bak met Chicken-rice en chop-sticks ... pastel-kleurige duvets op die gras uitgegooi. Dalk lag en skerts die kinders in ’n taal wat ek nie sal verstaan nie en dalk is dieselfde Gees nog daar tasbaar teenwoordig en dalk doen Hy vir hulle in ’n snikkende sonskyndag wat Hy vir my in ’n baie grys kosbare, nat, God-deurdrenkte dag gedoen het en dalk sal hulle ook jare later terugkyk en die kosbaarheid van Hom opnuut ervaar in ’n wyse wat nie beskryf kan word met baie woorde in enige van ons tale nie en dalk sal daar dan ook ’n traan opwel en sukkel om sy pad grond toe te vind. Dalk sal hulle ook daardie dag God se stem hoor midde die lag, gesels en geraas en sal hulle so met die terugkyk weet ... dat daardie dag ... een baie spesiale dag was.
Berdine

