John Stuart Mill (1806-1873) vertel in sy outobiografie (1873) hoe hy die proefkonyn vir sy pa, James (1773-1836), se opvoedkundige teorieë was, bv "A pupil from whom nothing is ever demanded which he cannot do, never does all he can" (Essential Works of John Stuart Mill, New Yorl: Bantam Books, 1971, p xi, 28) en "Good seed is never wasted" (p xviii, 22). Op drie jaar het sy tuisonderrig in Grieks en op agt jaar in Latyn begin. Op veertien het hy sy onderrig voltooi. Mill se strawwe onderrigprogram het hom, volgens eie erkenning, dalk ’n kennisvoorsprong van ’n kwart eeu bo sy tydgenote besorg. Die eksperiment het geslaag in die sin dat Mill van die invloedrykste geleerdes van sy tyd geword het.
Maar as opvoedkundige het sy vader misluk in soverre sy seun emosioneel, moreel en sosiaal skade gely het, bv "I ... remained inexpert in anything requiring manual dexterity" (p 30). Mill het groot bewondering vir sy pa se geleerdheid en dié se toekomsvisie vir en jarelande toewyding aan hom gehad. In hierdie dwangbuis het daar egter by Mill ’n wrokkigheid teen sy pa opgebou wat tot ’n senu-ineenstorting op twintig en selfs gedagtes aan selfmoord gelei het. "I ... grew up in the absence of love and in the presence of fear" (p 4). Hierdie situasie het ook meegebring dat Mill mettertyd al hoe meer idees ontwikkel het wat met dié van sy pa verskil het.
By Edmund Gosse (1849-1928) was daar ’n ander rede as by Mill vir opstand teen ’n dominerende vader, naamlik godsdiens. Gosse se pa, Henry, en sy ma, Emily, was fanatieke, puriteinse aanhangers van ’n christelike sekte, die Plymouth Brethren. Toe Gosse sewe jaar oud was, het sy ma, in ’n laaste opdrag voordat sy gesterf het, sy pa versoek om hulle seun op die smal pad van hulle godsdiens te hou: "She most tenderly and closely urged my Father, who, however, needed no urging, to watch with increasing care over my spiritual welfare" (Kindle 605 - bron hieronder). Die idee was dat Gosse ’n aktiewe lekeprediker soos sy pa sou word.
Teen die einde van verlede jaar is Christine Barkhuizen-Le Roux se boek, Die Getuie, gepubliseer. Daarin word ’n bepaalde variasie van die sekte-mentaliteit uitgebeeld. Dieselfde geld Gosse se bekendste boek, Father and Son: A Study of Two Temperaments (1907), wat al ’n "literary masterpiece" en "the first phychological biography" genoem is. Gosse het hierdie teks geskryf nadat sy biografie oor sy pa in 1890 gepubliseer is en die skrywer, George Moore (1852-1933), opgemerk het dat die teks "the germ of a great book" bevat.
Gosse se ervaring was egter van so ’n pynlike en persoonlike aard dat die boek aanvanklik anoniem gepubliseer is. Ek het groot waardering vir Nigel Nicolson (1917-2004) se boek, Portrait of a Marriage (1973), oor sy ouers, Harold Nicolson en Vita Sackville-West, se seksueel-eienaardige huwelik. Gosse se taak was nie minder uitdagend nie en heel moontlik selfs meer belaai met emosie. Albei outeurs het uitmuntend in hulle doel geslaag.
In die voorwoord verseker Gosse sy lesers dat die teks "scrupulously true" is (K 2). Dit is deur party waarnemers, bv sommige van dié wat sy pa geken het, ontken. Dit moet vir die outeur uiters moeilik gewees het om die gebeure na verloop van so baie jare te rekonstrueer. By my het die teks deurgaans ’n aanvaarbare, opregte en deurleefde indruk gewek. Dit was ’n leeservaring in die beste en onvergeetlikste sin van die woord. Diep bewus van die erns van die saak, het ek lanklaas ’n teks so geniet. Dit was nie Gosse se bedoeling nie: "It is not that I seek entertainment ... but to call out sympathy" (K 2829).
Aansluitend by die ondertitel, lui die eerste sin van die eerste hoofstuk: "This book is the record of a struggle between two temperaments, two consciences and almost two epochs" (K 20). Aan die einde van hierdie stryd het die twee partye, vader en seun, ongelukkig opgehou om mekaar te respekteer. In die huis waarin Gosse opgegroei het, "pleasure was found nowhere but in the Word of God" (K 65). Selfs Kersfees mag nie gevier word nie. "There was ... narrowness, isolation, an absence of perspective, let it be boldly admitted, an absence of humanity" (K139). Henry, ’n dierkundige, het Gosse se geboorte soos volg in sy dagboek aangeteken: "E[mily] delivered a son. Received green swallow from Jamaica" (K 65). Twee maande later het sy ma oor Gosse, hulle enigste kind, geskryf: "We have given him to the Lord" (K 87).
Gosse is in sy eerste dekade nie toegelaat om kontak met ander kinders te hê nie. Hy verwys na "an infancy so cloistered and uniform as mine" (K 1316). Van ouderdom vier kon hy godsdienstige, natuurkundige en reisboeke lees. Stories en ander fiksie, selfs nie-godsdienstige gedigte, is as sonde beskou. Hy het sy ouers as "cultivated" beskou, maar "I was told about missionaries, but never about pirates; I was familiar with hummingbirds, but I had never heard of fairies" (K222). Vir sy ouers het dit primêr om "heavenly citizenship" gegaan (K 293). Hulle was nie ’n gesin van net drie nie. "An Omniscient God ... was always with us, who made, in fact, a fourth in our company" (K308).
Henry het met oorgawe vir sy gemeente gepreek, maar nie graag huisbesoek gedoen nie. Sy vrou het hierdie tekortkoming egter goed aangevul: "She was drawn forth into the clamorous harvest-field of souls" (K 346). Na haar dood het groot droefheid lank oor vader en seun in hulle "Eveless Eden" (K 1453) gehang. Soms was daar ’n bietjie afwisseling. "These were happy hours, when the spectre of Religion ceased to overshadow us for a little while, when my Father forgot the Apocalypse and dropped his austere phraseology, and when our bass and treble voices used to ring out together over some foolish little jest or some mirthful recollection of his past experience. Little soft oases these, in the hard desert of our sandy spiritual life at home" (K 790).
Vader en seun, "the wifeless man and the motherless boy" (K 1013), het uit Londen na ’n huis aan die kus van Devonshire, naby Torquay, getrek, waar hulle die seelewe bestudeer het. ’n Huishoudster het sy vader met Gosse se skoolonderrig bygestaan. In 1857, twee jaar voor die publikasie van Charles Darwin se Origin of Species, was dit reeds duidelik dat ’n krisis in die natuurwetenskappe op hande was. As kreasionis het Henry dit toe noodsaaklik geag om buite sy spesialiteitsveld ’n boek te publiseer: Omphalos: an Attempt to Untie the Geological Knot. Daarin beweer hy dat God op die skeppingsdag fossielrekords van lewe wat nooit bestaan het nie, geskep het. Kritici se vertolking was dat God, volgens Henry, geoloë doelbewus tot ongeloof probeer mislei het. Hiermee was sy beeld as wetenskaplike aan skerwe. "He allowed the turbid volume of superstition to drown the delicate stream of reason" (K 950). ’n Ander gevolgtrekking wat dikwels gemaak is, is dat aangesien Adam as ’n volwassene geskep is, hy nie ’n naeltjie gehad het nie.
Saam het vader en seun hulle nuwe plattelandse sekte-gemeente bearbei: "He did not like to walk alone, and he had no other friend" (K 1062). "Certain senses were absent in him; I think that, with all his justice, he had no conception of the importance of liberty; with all his intelligence, the boundaries of the atmosphere in which his mind could think at all were always close about him; with all his faith in the Word of God, he had no confidence in the Divine Benevolence; and with all his passionate piety, he habitually mistook fear for love" (K 1248). "I almost longed ... to be a godless child, who had never known the privileges of saving grace" (K 1435). Terwyl hy by sy pa gewoon het, was hy teen wil en dank "a sapling in the Lord's vineyard" (K 1659).
Teen sy tiende jaar het Henry sy gemeente oorgehaal tot sy siening dat sy seun so godsvrugtig was dat hy in die openbaar grootdoop kon ondergaan en daarna nagmaal kon gebruik asof hy volwasse was. Sy pa het hom hierna teen "spiritual pride" gewaarsku. "This was certainly required, for I was puffed out with a sense of my own holiness" (K 1762). Gosse was nou ’n "dweller in the tents of righteousness" (K 1773) en "if I did not keep my lamp burning" (K 1776) sou dit rampspoedig wees. Henry "was in a hurry to see me become a shining light, everything that he had himself desired to be, yet with none of his shortcomings" (K 1843).
Mettertyd het Gosse ’n skool bygewoon en die eerste keer van bv Shakespeare gehoor. Sy pa het in 1860 weer getrou. Gosse se stiefma, Eliza Brightwen (1813-1900), was ’n oujongnooi-Kwaker, maar was minder puriteins as sy ouers. Sy het goed met sowel Henry as sy seun oor die weg gekom. "She always described my Father, when she was alone with me, admiringly, as one 'whose trumpet gave no uncertain sound'" (K 2931). ’n Bonus was die boekversameling was saam met sy stiefma in hulle huis gekom het. Dit het Gosse se horison met bv digbundels (Burns, Byron, Keats) en Dickens se romans verbreed. Sy band met Henry en sy huis en godsdiens het nog losser geword toe Gosse na ’n kosskool is. Maar naweke en vakansies was hy tuis en moes hy verslag aan sy pa oor sy godsdienstige lewe doen. "The Great Scheme" was steeds dat sy toekoms in die "service of the Lord" sou wees (K 2453).
Gosse het soms verkies om ure lank huis toe te loop en die vervoergeld te spaar sodat hy boeke, veral digbundels, kon koop. ’n Kleinood was ’n poësiebundel van Ben Johnson en Christopher Marlowe. Omdat die inhoud nie sy goedkeuring weggedra het nie, het Henry dit verbrand. Daarna het Gosse as agtienjarige in Londen loseer en in die British Museum in Londen begin werk. Steeds moes hy skriftelik in briewe en na tuiskoms mondeling verslag aan sy pa oor sy daaglikse en veral geesteslewe doen. "Does the candle of the Lord shine on your soul?" (K 2826). Gosse se horisonne het egter progressief verbreed en die band met sy vader het al hoe losser geword, todat dit een naweek verbreek is.
Henry het vas bly glo dat die Wederkoms in sy lewe sou plaasvind. "Who knows? We may meet next in the air, with all the cohorts of God's saints!" (K 2751). (Henry was, toe hy op sy sterfbed gelê het, erg teleurgesteld dat die Wederkoms nie plaasgevind het nie.) Gosse: "'The Lord has not come, the Lord will never come,' I muttered, and in my heart the artificial edifice of extravagant faith began to totter and crumble. From that moment forth my Father and I, though the fact was long successfully concealed from him and even from myself, walked in opposite hemispheres of the soul, with 'the thick o' the world between us'" (K 2781). Gosse was dankbaar "that holiness was not hereditary" (K 2848).
Dit was nie dat hy op agtien die christelike godsdiens met feite of argumente kon verwerp nie. Dit was bloot dat glad te veel daarvan vir te lank aan hom opgedring is. "Whether the facts and doctrines contained in the Bible were true or false was not the question that appealed to me; it was rather that they had been presented to me so often and had sunken into me so far that, as someone has said, they 'lay bedridden in the dormitory of the soul', and made no impression of any kind upon me" (K 2860).
Hierna was Gosse iemand "who earns his own living and lives his own life" (K 2953). "Let me speak plainly. After my long experience, after my patience and forbearance, I have surely the right to protest against the untruth ... that evangelical religion, or any religion in a violent form, is a wholesome or valuable or desirable adjunct to human life" (K 2956).
Iedere volwasse mens is ’n kind wat groot geword het. ’n Mens besef nie altyd watter van hulle, toe hulle klein en jonk en sag was, deur die harde kante van godsdiens (eintlik mense) gekneus is nie.
Johannes Comestor


Kommentaar
Hello,
Sjoe - weet nie wat om te sê!
Dankie Comestor, hierdie stuk het my aangeraak, omrede ek myself, wat ook onder sulke streng godsdienstige reëls grootgeword het, daarin kon sien.
Maar tog wonderlik om te sien dat Gosse wel op die einde sy lewe kon leef soos hy wou. Godsdienstige mense KAN jou lewe kneus en verkeerd vorm. Ek kan lange stories daaromtrent skryf.
Jou stuk was vir my 'n leserservaring. Ek dink Wouter moes eintlik die boek klaargelees het, dan sou hy meer gesien het.
Ek dink julle lees uiters interessante boeke. Baie dankie hiervoor.
Trienie
Hello Trienie et al,
Ek twyfel of daar meer gesien sou word wat 'n verandering van mening sou veroorsaak in my denke, al sou die boek nou klaar gelees word.
Die rede daarvoor is omdat die tema van die boek so universieel is.
Die verhouding tussen vaders en hul seuns en die stelling dat die kinders soms dit wat deur hul ouers bereik is verbysteek maar dit moet gewaarsku word dat dit relatief is en daar geen begeerte in my gemoed is om so 'n stelling te maak in verhouding tot my eie pa.
Om so te sou doen sou verwaand wees en in essensie 'n gebrek aan respek toon van my kant af.
Dit kan aanvaar word dat dit in die algemeen moontlik is om 'n eie bestaan oop te kap met die verloop van tyd en dat dit nie 'n bloedbad behoort te wees nie, maar daar sal wel skermutselinge langs die pad wees en dat daar vir sommige persone permanente skade kan wees.
Dit is daarom dan eerder die ander aspek van die tydperk waaruit die boek wat vir my meer belang het. Die publikasie van Charles Darwin se On the Origin of Species en die effek daarvan in die intellektuele samelewing van die tyd.
Die konflik tussen wetenskap en godsdiens in die begin van die debat.
Vir 'n intellektuele ontleding kan daar dalk eerder gedraai word na die Cambridge Companion to Darwin en die twee opstelle wat die tydperk in detail aanspreek."Darwin's science and Victorian philosophy of science", asook "Darwin and Victorian Christianity".
Dit is verteenwoordigend van die tipe van studie wat oor die tydperk handel en ondersoek kan word.
Dit word egter aanvaar dat die werk van Gosse ook 'n blik daarop kan bied, maar daar is meer as een manier om by die bestemming te arriveer.
Comestor verduidelik na daardie konflik met die verwysing dat "Henry Gosse dit toe noodsaaklik geag om buite sy spesialiteitsveld ’n boek te publiseer: Omphalos: an Attempt to Untie the Geological Knot. Daarin beweer hy dat God op die skeppingsdag fossielrekords van lewe wat nooit bestaan het nie, geskep het".
'n Verstommende poging om Genesis en evolusie te probeer versoen en defnitief nie die laaste keer nie en woed die stryd nou nog.
Die ander aspek waarop ek egter ook sou wou fokus is die van temperament, wat vir my net so waardevol is en werd is om te ondersoek.
Dit is veral Johnathan Miller, aanbieder van 'n reeks getiteld, A brief history of disbelief, http://tinyurl.com/c2gav6a wat uitstaan as 'n voorbeeld van 'n temperament wat "onaangeraak" staan deur godsdiens en nog nooit die punt daarvan kon sien of deelneem aan die sielewroeging wat so kenmerkend van die ateïs kan wees in plaas daarvan om doodgewoon aan te beweeg en dit net beskou as een van hope onderwerpe wat intellektueel ondersoek kan word.
Meer belangriker en wat 'n studie met 'n sielkundige inslag verlang is die effek in enige huishouding waar die verhouding so oorheersend is soos die vader in Gosse se verhaal maar enige tipe van oorheersing sou veronderstel en nie net beperk is tot godsdiens nie.
Voorbeelde soos seks, onhoudbare dissipline, emosionele aftakeling, geweld, drankmisbruik, verwaarlosing, dieselfde in konsep maar verskillend in aard en 'n studie wat ek ook graag sou wou lees uit die veld van sielkunde.
Hierdie dui dus nie op 'n inherente boosheid van godsdiens nie maar veel eerder die omstandighede spesifiek tot die Gosse huishouding wat dan verteenwoordigend kan wees van soortgelyke gevalle tot en met vandag se tyd en in die lig van ander tipes van oorheersing uitgelig in die vorige paragraaf.
Baie dankie
Wouter