Een van die wonders van 'n leesmasjien is dat boeke wat eens onbereikbaar was, binne 'n minuut of twee vir lees beskikbaar kan wees. Ek gaan agtereenvolgend drie sulke boeke van Edmund Gosse (1849-1928) bespreek. 'n Bonus is dat hierdie e-boeke my nie 'n sent gekos het nie, want Amazon het hulle gratis gelewer.
Gosse was 'n digter, literêre kritikus, skrywer van biografieë (hy praat van "the romance of biography", Kindle 1406, bron hieronder) en ook 'n bibliotekaris, eers as assistent in die British Museum en later as hoof van die House of Lords Library. Destyds was daar nie formele, professionele opleiding vir bibliotekarisse nie. Aan die hoof van stedelike en akademiese biblioteke is geleerdes in dissiplines soos die letterkunde of geskiedenis aangestel.
Ampshalwe het so 'n bibliotekaris die voordeel gehad dat nie alle boeke wat aan sy biblioteek geskenk is, in die voorraad opgeneem is nie. Geen professionele bibliotekaris sou alles voor die voet opneem nie. Dit sou op ongewenste "collectaneomania" (K 603) neerkom. Keuring is noodsaaklik. 'n Bibliotekaris kan oortollige skenkings heeltemal eties na sy eie boekversameling kanaliseer. Geen haan sou daaroor kraai nie, tensy die boeke (beduidende) monetêre of ander waarde het en dus ten bate van die biblioteek verkoop of op 'n praktiese manier aan ander biblioteke geskenk kon word.
Daar is bibliotekarisse, veral bibliofiele, waarvan Gosse een was, wat op 'n onetiese manier waardevolle, skaars boekskenkings buit. Ek beweer nie dat Gosse oneties was nie, maar hy het uitsonderlik waardevolle items in sy private versameling gehad. Wanneer 'n bibliofiel-bibliotekaris 'n veiling bywoon, is daar die etiese probleem dat hy moet besluit of hy 'n item vir sy biblioteek of vir sy eie versameling aankoop. Die biblioteek se belange behoort voorkeur te kry. Dit is immers ampshalwe dat die bibliotekaris bevoorregte toegang tot skenkers, veilings en boekhandelaars het: "The bibliophile hunts in all weathers," (K 595). Die bibliotekarisse wat ek ken, is toegewyde, eerlike mense. Uitsonderlike gevalle is egter bekend waar bibliotekarisse selfs waardevolle items uit die biblioteekvoorraad vir eie gewin verkwansel het.
In Gosse se boek Gossip in a Library (1892) gaan dit nie om 'n geskinder oor bv biblioteekgebruikers nie. Die bundel bestaan uit essays oor meesal ou gedrukte boeke wat in sy versameling aanwesig was. Om die teks te waardeer, verg van die leser nogal heelwat literêre en historiese kennis, of ten minste sodanige belangstelling. Gespesialiseerde kennis van historiese bibliografie is hoogs wenslik. Dit is beslis nie ligte leesstof nie, maar loon die moeite omdat Gosse behoorlike navorsing, insluitende veldwerk, gedoen het oor die boeke wat aan bod kom. Hierdie bundel is, in die woorde van Charles Lamb, "a healthy book" (K 1463). In hierdie geval kan ek van my leeservaring sê: "The curtain rises ... on a smooth stream of intellectual reflection" (K 1673). Gosse doen die tradisionele beeld van die bibliotekaris as geleerde eer aan.
Entoesiasme en liefde vir sy werks- en leefomgewing ("the cage doth some birds good", K 304) spreek uit die teks: "There is something awful to me, of nights, and when I am alone, in thinking of all the souls imprisoned in the ancient books around me" (K 44). Wat die skeppende kunstenaar, bv skrywer, agtergelaat het, is dalk mettertyd al wat sy eertydse bestaan in herinnering roep. Omdat die gebeurtenis op skrif gestel is, kan ons vandag steeds kennis neem van bv die volgende voorbeeld van verdraagsaamheid: "The ... woman excused her husband for not answering the bell 'cause he's dead, and the excuse was considered valid" (K 714). Na mate die leser in 'n gesonde boek vorder "the caged bird begins to sing like a lark at Heaven's Gate" (K 319).
Voorheen was daar, soos tans, baie klein mensies wat elkeen, in Shakespeare se woorde, "a diminutive excelsitude" (K 845) was en wat voortleef in boeke. Maar daar was waarskynlik baie groot geeste wat in die vergetelheid verdwyn het omdat niks gerekordeer is wat toon dat hulle eens gelewe het nie. Van ander weet ons egter iets omdat iets oor hulle geskryf is, soos van hierdie dame: "The learned lady ... bears her learning lightly and can discuss 'the quadrations of culvilinear spaces'" (K 1467).
'n Grafskrif soos die volgende kan verkieslik bo vergetelheid wees: "Here lies an Odd Man" (K 1391). Dít na aanleiding van wat 'n dame aan hom oor sy huweliksaanbod gesê het: "You force me to smile and oblige me to call you an odd compound of a man" (K 1432). Die naturalis Thomas Pennant word onthou vanweë sy publikasies. Pennant "rises superior, either in style or information, to his own dead level of pompous inexactitude" (K 1551). Selfs al het iemand soos Samuel Johnson heelwat geskrifte nagelaat, sou ons baie minder van hom geweet het as James Boswell nie in besonderhede in Life of Samuel Johnson (1791) hulle doen en late, bv gesprekke en reise, aangeteken het nie.
Wat duidelik uit die teks spreek, is Gosse se voorliefde vir poësie. Hy beskou dit as die hoogste uitdrukkingsvorm van die letterkunde. "Good poetry seems to be almost as indestructible as diamonds" (K 2006). "For Death, he taketh all away, but these he cannot take" (K 2039). Daar is digters wat, in die woorde van Keats, "great verse unto a little clan" (K 2042) nagelaat het. Vir goeie vertaalwerk het Gosse waardering gehad: "No translation ever smelt less of the lamp, and more of the violet than this" (K 2039).
Gosse kies veral digbundels as onderwerpe vir sy hoofstukke, insluitende ballades. Hy het die volgende hipotese geformuleer: "The quantity of excellent verse produced in any generation is not merely limited, but keeps very fairly within the same proportions" (K 2008). Hy haal graag uit gedigte aan om tuis te bring wat hy wil sê, bv "The memory of what has been / And never more may be" (K 1607).
Hy is dalk ietwat sinies as hy soos volg oor Britse oorerflike adellike titels skryf: "These little romantic surprises are denied to Americans, who do not find that old friends get new names, which are very old names, in the course of a night" (K 1933).
Gosse sluit sy bundel af deur 'n lansie vir die gawe van verbeelding te breek: "Little by little, even our children are losing this happy gift of believing the incredible, and that class of writing which seems to require less effort than any other, and to be a mere spinning of gold thread out of the poet's inner consciousness, is less and less at command, and when executed gives less and less satisfaction" (K 2152). Hy skryf dit daaraan toe dat onderrig ons "habituated to science" maak (K 2155).
Volgende keer skryf ek oor Gosse as literator.
Johannes Comestor


Kommentaar
'Wat die skeppende kunstenaar, bv skrywer, agtergelaat het, is dalk mettertyd al wat sy eertydse bestaan in herinnering roep'.
Wouter, jou reaksie verskaf 'n welkome aanvulling tot my skrywe.
Johannes Comestor
Vele dank Comester.