Ebet wil New York toe gaan

  • 2

Foto van Jerusalem: Pixabay

Die wyse kind met die groot ronde gesig en die groot ronde oë bly in die voorste huis, reg langs ons straat, hier in Sheikh Jarrah. Die binnehof waar die waskamer en toilet is en die wasgoed opgehang word, word van die straat afgesluit deur ’n klipmuur. In die winter sit Ouma in die son teen die muur en dan speel Wyse Kind sommer in die klippies en stof langs die straat.

Die eerste keer wat ek hom elders teëgekom het, was hy nog klein, seker so drie jaar oud. Dit was vroeg die môre en hy was nog nie skoongemaak en ordentlik aangetrek soos gewoonlik nie. Ouma het met veraf oë en lang, los grys hare in haar kamerjas langs die muur gesit en het nie gesien of nie omgegee dat hy onder in die vallei ronddwaal nie. Ek ken toe al ’n paar maniere om mense in Arabies te groet en ek probeer ’n paar.

“Hallo.”

Hy kyk na my met sy groot ronde oë, maar sê niks nie.

“Môre van lig.”

Nog geen antwoord nie.

“Vrede vir julle.”

Nou besluit hy dié vrou is beslis mal en hardloop vinnig terug na Ouma. Ouma is kinds, maar nie mal nie. Hy weet wat hy aan haar het.

’n Week of wat later kom ek weer met die voetpad deur die vallei aangestap. Ek sien vir Ouma teen die muur met ’n baba in ’n kombers toegedraai in haar arms. A, dis hoekom Wyse Kind met die groot ronde oë so onversorg in die vallei rondgehardloop het – Ma was besig om geboorte te gee.

Wyse Kind kom my op die pad teë.

“Ebet wil New York toe gaan.”

“Regtig. Hoekom dan?”

Hy kyk net na my en draai terug na Ouma en Sussie toe.

Toe ek by Ouma verbykom, hou sy die baba omhoog en beduie vir my iets in brabbeltaal. My Arabies is nie goed nie, maar sy klink besonder onverstaanbaar. Wat ek wel verstaan, is die glimlag en haar gesig wat skyn asof ’n lig in haar aangeskakel is. Dis die eerste en laaste keer dat ek haar sien glimlag het.

’n Hele paar maande later sit Sussie ook langs die pad en speel in die stof saam met Wyse Kind. Haar gesiggie is ook rond soos syne en haar baba-oë is ook rond en bruin, maar sy kyk ’n mens nie so vas in die oë nie.

“Vrede vir julle.”

“Vrede vir jou,” antwoord Ouma langs die muur.

“Hallo.”

“Hallo,” antwoord Wyse Kind.

Ek stap hoogs tevrede aan. My kommunikasievaardighede vorder mooi en my bure groet my al terug.

Wyse Kind gaan nou al skool. Elke oggend staan hy skoongeskrop langs die straat met sy skoolsak op sy rug. Sy pa bestuur ’n Ford Transit en hy kom laai hom so teen nege-uur op. Die bussie het nie ’n taxiteken op nie, met ander woorde hy het nie ’n lisensie nie, maar die dialekwoord vir ‘n gemeenskaplike taxi is nie verniet Ford nie. Net Israeli’s of buitelanders het tekens nodig om te verduidelik dat ’n wit Ford Transit ’n taxi is.

Eendag staan Wyse Kind nog en wag toe ek weer verbykom.

“Ebet wil New York toe gaan.”

En daar val al my kommunikasievaardighede in die water. Ek wil sê: “Ek dag dan sy is lankal weg soontoe”, maar my Arabiese onderwyser dink nie ons het sulke frases nodig nie, dus kan ek dit nie uitkry nie. Buitendien kom die Ford teen ’n spoed om die draai en Wyse Kind staan nader om in te spring. Sy pa is ’n groot man en daar is nie baie mense wat met hom moeilikheid sal soek nie.

Ek wonder wie Ebet is. Teen dié tyd weet ek nou al hoe om dit te vra en ek oefen, ingeval ek hom weer onverwags teenkom en nie tyd het om na te dink nie: “Miin Ebet?”

In die somervakansie sien ek nie vir Wyse Kind nie. Miskien is hy weg om by familie te gaan kuier. Baie Palestynse families het mos ooms in Jordanië of Sirië of selfs in Amerika. Dalk in New York, waar Ebet teen dié tyd al moet wees. Ek het intussen besluit Ebet is dalk ’n vorm van Heba, oftewel Eva. In hierdie plek kom ’n mens nie ver weg van Bybelse verwysings nie.

Toe die skool weer begin en ek een oggend vroeg terugkom na ek my kinders by die skool gaan aflaai het, staan Wyse Kind weer en wag. Ek stop my kar in die middel van die straat, klim uit en stap nader.

“Hallo.”

“Hallo.” Sy stem is ’n bietjie onseker, maar sy oë kyk vas in myne.

“Wie is Ebet?”

Hy beduie in die lug en sê ’n woord wat ek nie verstaan nie.

Die Ford kom vinnig om die draai en Pa blaas op die toeter. Ek spring om my Peugeot’tjie uit die pad te trek en Wyse Kind maak dat hy by die Ford inklim.

Toe my Arabiese onderwyser ook van vakansie terug is, vra ek hom wat die woord beteken. ’n Swaeltjie wat wegtrek na die ver lande, beduie hy.

Ek raak baie besig met ander dinge en my taalvermoë bereik ’n plato. Die linguiste sou gesê het ek het gefossileer. Maar ek en Wyse Kind het nou ’n gevestigde verhouding: As ons mekaar teëkom, sê ons eers beleefd dag en dan vra ek: “Het Ebet al vertrek New York toe?”

“Nee, binnekort.”

En dan gaan elkeen sy gang.

Die probleem is, die Arabiese woord binnekort beteken “’n bietjie”, soos in ’n kort rukkie, maar as jy sê “bietjie-bietjie”, dan bedoel jy geleidelik of selfs stadig. Hoe langer, hoe meer wonder ek oor Ebet se planne. Gaan sy binnekort of is sy geleidelik besig om gereed te maak sodat sy kan gaan wanneer die volheid van die tyd aangebreek het? ’n Paar ander scenario’s is seker ook moontlik in die geval van ’n swaeltjie wat wes wil trek totdat sy New York bereik.

Toe nog ’n nuwe skooljaar begin, kan ek my oë nie glo nie. Sussie staan ook al saam met Wyse Kind gereed: skoongeskrop, haartjies netjies vasgemaak en skoolsak op die rug. En sy weet ook, as Pa se Ford om die draai kom, moet ’n mens gereed staan, maar nie nader aan die straat kom nie. Die teerstreep is net een motorwydte breed en die Ford is vet – hy staan die hele straat vol. Ek en die Peugeot staan geduldig en wag terwyl Ma vir Sussie intel. Dan ry ons almal verder. Mettertyd hoef Ma nie meer te help nie – Wyse Kind neem nou vir Sussie aan die hand en help haar om in te klouter.

Ek wil graag weet hoe Ebet se planne vorder, maar ek wil nie vir Wyse Kind te midde van sy gesinsverpligtinge pla nie. Vir Ouma sien ek nog gereeld teen die muur in die son sit, maar haar oë raak baie dof en dikwels groet sy nie eers terug nie.

Tussen die protesaksies (wanneer die winkels en skole gesluit bly) en die gereelde inperkings (wanneer die onderwysers wat in die omringende dorpies bly nie tot by die skole in Jerusalem kan reis nie) is daar wel dae wanneer Wyse Kind en Sussie in die vallei rondspeel onder die allesbehalwe waaksame oë van Ouma. Ek stel vas dat Ebet nog steeds nie vertrek het nie.

“Wil Ebet nog New York toe gaan?” vra ek eendag.

“Ja, moontlik.”

Nou weet ek nog steeds nie: Wil sy moontlik gaan, soos in miskien of miskien nie, of wil sy gaan wanneer dit moontlik gaan wees. (Natuurlik moet ek die uiting binne sy konteks probeer interpreteer, soos ek mooi geleer is: ’n Sesjarige Palestynse seun praat met ’n vreemde vrou oor die planne van ’n swaeltjie wat moontlik op vertrek staan New York toe – dit help nie rêrig nie.)

Toe ek weer een oggend by hulle huis verby ry, pryk daar ’n Israeli-vlag op die waskamer se dak en staan daar twee soldate met submasjiengewere op hulle huis se dak. Van Wyse Kind, Sussie, Ma of Ouma is daar geen teken nie en die wit Ford maak ook nie sy verskyning nie. Later hoor ek toe dat ’n groepie godsdienstige setlaars in die middel van die nag by die huis aangekom het en Ouma probeer dwing het om ’n verkoopkontrak vir die huis te teken. Toe sy dit nie wou of kon doen nie, het hulle haar verskree en die huis probeer binnebeur. Sy het met ’n hartaanval inmekaargesak en Pa, wat nie met hom laat moeilikheid soek nie, het op die setlaars afgestorm en hulle by die deur uitgeboender. Net toe kom die polisie daar aan en arresteer hom vir aanranding.

Terwyl Pa weg is selle toe, Ma saam met Ouma in die ambulans hospitaal toe is en Wyse Kind en Sussie by die naasbure gaan slaap het, het die setlaars op die “onbewoonde” waskamer se dak geklim en ’n Israeli-vlag daar geplant. Met dagbreek het die soldate toe kom stelling inneem om die situasie te beveilig.

’n Week of wat later is Ouma terug. Sy sit teen die muur in die son en Wyse Kind sit in die stof langs die straat en speel. Ma kyk by die deur uit om ’n oog oor hulle te hou. Met die verbystap groet ek haar en sy groet beleefd terug. Ek kan niks verder uitkry nie. Wat sê jy vir ’n vrou wat haar ma, haar seun en haar dogter moet oppas terwyl haar man in die tronk sit en twee agttienjarige seuns met submasjiengewere ’n vlag op haar badkamer bewaak?

Toe ek by Wyse Kind kom, sien ek daar is stofstrepe oor sy gesig. Hy antwoord nie my groet nie en kyk ook nie op nie; sy hande bly net vroetel in die klippe langs die straat.

“Wanneer gaan Ebet New York toe?” vra ek om die klip rondom my eie hart teprobeer wegpraat. Hy kyk met dowwe oë na my en vra dan: “Wie’s Ebet?”

Ek loop die res van die dag in die vallei tussen die bourommel en die plastieksakke rond en soek vir Ebet. Ek wil vir haar sê daar is regtig geen rede vir haar om langer in hierdie vullishoop wat hulle die Heilige Land noem, aan te bly nie. Rondom die paar olyfbome wat nog langs die oop rioolsloot staan, is die grond onlangs omgeploeg en daar is ’n paar voëls wat stry oor die enkele wurms in die bar grond. Maar ek sien nie vir Ebet nie.

Miskien is sy weg New York toe.

  • Jeanne van Wyk, Sheikh Jarrah, Oos-Jerusalem, 1999
  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top