Een nag sestien seisoene lang
hoor hy hom voortdurend
gehurk voor ’n voetpadwyser
aan die reling van ’n veerboot
op ’n kruispunt in die moltreingange
en altyd onder die sterre
met die kop in ’n kop
dink “waar is ek?”
’n Artisjok het ’n hart maar geen rigting nie
’n Helikopter het ’n bestemming maar geen lot nie
“Ek”, twee letters, een loot
van ’n groter wild vertakte woord
Daar waar skadu is, woeker
in klam bosse kilometer lange
swamdrade wat lukraak kop
uitsteek in die vorm van ’n paddastoel
Verbaas verdwaal,
opwaarts laat valde valskermspringers
Eens het Polinesiërs
om hul koers te bepaal in die Stille Oseaan
kaarte van dun stokkies gebruik –
dit het gelyk soos bamboeslatte
om rankboontjies mee op te lei
En Kanadese Indiane het kuskaarte uit hout gekerf
wat lyk soos Beierse kurktrekkers
Afhangende van die sleutel
kan kortom alles ’n kaart wees:
handpalms, oogirisse, geboortemerke
en die vertakkings in die plooie
van ’n oopgewoelde bed
Só bly as die slaper
eindelik wakker geskud is
ook lank na die ontwaking
“waar is jy?” die vraag
* Geskryf deur K Michel; vertaal deur Danie Marais

