![]() |
| Marlene Dumas ontvang die nuus dat sy die vierde wenner is van die Nederlandse staatsprys vir kuns: die Johannes Vermeerprys. Vorige wenners was die fotograaf Erwin Olaf, die operaregisseur Pierre Audi en die beeldende kunstenaar Alex van Warmerdam. |
Op Vrydag, 15 Junie, het beide die Trouw en die NRC-Handelsblad aangekondig dat die Suid-Afrikaans gebore Marlene Dumas die Johannes Vermeer-prys 2012 gewen het. Dit is die Nederlandse staatsprys vir kuns. In 2008 is hierdie prys ingestel om uitsonderlike artistieke talent te vereer en te stimuleer vir werkende kunstenaars van alle dissiplines: dans tot ontwerp, mode tot musiek en skilder tot skryf. Volgens die jurie word die prys aan haar toegeken op grond van “haar uitzonderlijke schilderkunstige talenten en haar ongeëvenaarde vermogen menselijke emoties in beeld vast te leggen.” (NRC-Handelsblad, p.17)
’n Jaar gelede is die Nederlandse museumwêreld getref deur ’n klein opskuddinkie rondom werk van Dumas. MuseumgoudA het sonder om Dumas of haar galeryhouer, Paul Andriesse, in kennis te stel,een van haar skilderye vir Christie’s aangebied. Gerhard de Kleijn, direkteur van museumgoudA, was uit geldnood tot so ’n stap gedwonge. The Schoolboys (1987) het ’n prys van een miljoen euro behaal. Die koper was ’n buitelander. Daarmee is The Schoolboys nou vir Nederland verlore. In die museumwêreld het dit die angs gevoed dat ’n presedent deur hierdie tipe optrede geskep kan word. Op so ’n manier kom die Collectie Nederland – die versameling van al die museums bymekaar, in gevaar.
“Ik had graag de mogelijkheid gehad mee te denken over de verkoop van het schilderij”, aldus Dumas in die Volkskrant van2 September 2011.
![]() |
![]() |
| The Schoolboys (1987) sorg verlede jaar vir kontroversie in in die Nederlandse museumwêreld. | Schaammeisje (1991) is gebruik om die Nederlandse vertaling van Antjie Krog se bundel, Kleur kom nooit alleen nie. |
Dumas was alreeds in 2005 bekend as die duurste vroulike kunstenaar ter wêreld na die veiling van haar klasfoto-agtige groepsportret, The Teacher (1987). Dit is in 2008 bevestig met die verkoop van The Visitor (1995) in Londen. Hierdie kleurvolle prostituutskildery is toe teen ’n prys van 3,5 miljoen euro opgeveil. Dumas deins nie daarvoor terug om prostitute in groepe of as bedreigende individue te skilder nie. Opvallend was dat al drie hierdie skilderye groepe mense uitbeeld, terwyl dit nie die eerste beeld is wat by mens opkom as jy die naam Dumas hoor nie. Mens dink eerder aan portrette van verwronge vrouegesigte en van onpeilbare kinders, wat ongemaklike emosies by mens oproep.
Miskien is dit die dieselfde emosionele beladenheid wat sommige Afrikaanse digters na hulle penne laat gryp as hulle voor ’n skildery van Dumas te staan kom. Tom Gouws het na aanleiding van ’n foto van die skildery Dead Marilyn (2008) die gedig Marilyn Monroe foto in grou geskryf. Antjie Krog het ’n reeks skilderysonnette geskryf na aanleiding van skilderye van Dumas, byvoorbeeld Waiting for meaning (1988), Hierarchy (1991) en The Image as Burden (1993). Krog se gedigte is intens eroties, terwyl Gouws mymer oor die wel en weë van Monroe as seksgodin:
“… uit hierdie somber grou
foto sal selfs jfk met moeite probeer onthou
dat hy haar eens geken het” (reëls 6-8)
Op die Nederlandse bundel Kleur komt nooit alleen, waarin bogenoemde skilderysonnette voorkom, pryk ’n afdruk van Dumas se skildery Schaammeisje (1991). Marlene van Niekerk sluit by hierdie tipe afbeelding aan in haar reaksie op ’n ander skildery van ’n dogtertjie. Sy het ’n Rooms Katolieke mis geskryf na aanleiding van The Painter (1994). Dit is ’n skildery van Dumas se dogtertjie, Helena, met haar een handjie in blou verf en haar ander handjie in rooi verf gedoop. Of is dit bloed? Selfs ek het my hand gewaag aan ’n Nederlandse gedig opgedra aan die Bybelse Jakob, Armando en Dumas met as uitgangspunt The Ladder (1994).
Soms skilder Dumas ’n politiek swaarbelade portret uit een van die twee samelewings waarbinne sy funksioneer, soos Portrait of a Young Nelson Mandela (2008) en The Neighbour (2005). Laasgenoemde skildery beeld die ekstreme Moslem, Mohammed B., uit. Hy het Theo van Gogh in 2004 in Amsterdam doodgeskiet. Een van haar collages van gesigte van lydendes (waarskynlik uit die apartheidstyd) is deel van die vaste versameling van Museum De Pont in Tilburg. Die naam is Black Drawings (1991-1992). De Pont is een van talle musea in Nederland wat werk van Dumas in hulle vaste versamelings besit. Haar werk maak ook deel uit van versamelings van Centre Pompidou in Parys, die Tate en Saatchi gallerye in Londen en die Museum for Modern Art (MoMA) in New York.
![]() |
![]() |
| Portrait of a Young Nelson Mandela (2008) | Measuring your own Grave (2008) beeld die problematiek van die skilder uit wat daarmee worstel om sy beeld op een doek te kry. Die skildersdoek is dikwels of te groot of te klein. |
Die tentoonstelling Measuring your own Grave (Des. 2008 – Febr. 2009) in die MoMA was seker een van die hoogtepunte in die dertig jaar lange loopbaan van Dumas. Die tentoonstelling het ongeveer sewentig skilderye en vyf en dertig tekeninge ingesluit. Op hulle web verwoord die organiseerders van Measuring your own Grave hulle keuse vir Dumas as volg:
“Through her focus on the human figure, Dumas merges themes of race, sexuality, and social identity with personal experience and art-historical antecedents to create a unique perspective on important and controversial issues of the day. The exhibition provides an opportunity to trace these themes over the course of the artist's career, and also provides access to paintings and drawings of extraordinary technical quality.”
Die jurieverslag van die Johannes Vermeer-prys 2012vermeld spesiaal haar tipe werk en haar tema’s:
“Dumas’ werk is veelzijdig en tegelijk herkenbaar. Zij maakt schilderijen, collages en series tekeningen. Met inkt op papier of geschilderd in onverwachte kleurcombinaties verbeeldt zij haar terugkerende thema’s: liefde en dood, schuld en onschuld, geweld en tederheid.”
![]() |
![]() |
| Het kwaad is Banaal, selfportret van Dumas uit 1984. | “Marlene Dumas reflekteer dikwels op die skilderkuns en op kunstenaarskap in die algemeen met literêre tekste, kommentare en lesings” - enkele woorde uit die jurieverslag van die Johannes Vermeer-prys 2012. |
In ’n onderhoud met Joost Zwagerman ’n paar jaar gelede maak Dumas seker die pakkendste uitspraak ter verduideliking van haar eie werk, maar ook van haar blik op kunstenaarskap in die algemeen: “Je moet bang zijn voor wat je maakt.” (Hollands Diep, Okt./Nov. 2008)
Die geldwaarde van die Johannes Vermeer-prys is 100 000 euro. Dit moet aangewend word vir ’n spesiale projek. Amptelik sal die uitreiking plaasvind op Maandag, 29 Oktober 2012.








