Duitswester en die Christene

  • 15

Duitswester is geen Christen nie, maar ’n tipe van Messiaanse Judais, ’n Godsdiens wat op die Judaïsme gebaseer is, maar erken dat die Messias reeds gekom het. Hulle erken die Goddelike Drie-eenheid op grond van die profesieë en verwysings na die Heilige Gees in die Ou Testament (Genesis 1:2; 2 Samuel 23:1-3, ens.), maar Duitswester verskil skynbaar hiervan en hang dus sy eie weergawe van daardie religie aan, terwyl hy baie antagonisties teenoor die Christendom is en baie kritiek het op die Nuwe Testament en baie selektief daarmee te werk gaan, wat klaarblyklik nie deur ander Messiaanse Judaïste gedeel word, nie. Maar mense soos Chris, wat agnosties is, sal dit waarskynlik nie kan agterkom nie en sal hom waarskynlik as ’n Christen aansien.

In ’n kommentaar raak Duitswester die volgende teenoor die ateïs Chris, kwyt: “as jy daarvoor kyk sal jy dit raaksien. Die Christene sal jou nie eindeloos beledig en uitkryt nie. Dit is die mense wie die Tanakh ken en die woorde van Messias glo. Maar hulle is min. Aan die ander kant is die groot getalle wat basuin dat hulle "verlos" is van die "ou testament" ens ens ens. Dis die Paulistyne. Hulle het hul totale glo-sisteem op die woorde van die Turks-gebore Saul gebou en hulle weier om raak te sien dat hy nooit 'n apostel was nie. Hierdie Turk het selfs die leiers van die ware apostels beledig en na hulle verwys as "kastige " leiers en hy het rondborstig loop en spog dat hy niks by enigiemand geleer het nie. Die ware apostel is deur Messias uitgesoek en vir meer as drie jaar het hulle by Hom geleer.

Die Tanakh waarna Duitswester verwys, is natuurlik ook bekend as die Masoretiese tekste wat bestaan uit die Pentateuch, die profete en dan natuurlik, die ‘ketuvim‘ wat bestaan uit die ander Ou-Testamentiese boeke asook vyf apokriewe boeke.

Uit Duitswester se kommentare, is dit duidelik dat hy die Nuwe Testament grotendeels verwerp en net sekere gedeeltes daaruit selekteer om sy geloofsprofiel te pas, want dit werklik die enigste bron waar die Messias – die HERE Jesus Christus - se direkte Woord opgeteken staan.

Die ‘uitkryt en beledig’ waarna Duitswester verwys, is natuurlik die manier hoe hy ware Christengelowiges se  teregwysing teenoor die ateïstiese agnostici, insien. Dat hy nie kennis dra van ware Christene se  optrede en manier nie, is duidelik – hy is immers self nie een, nie. Hy verwys na gelowiges wat ateïste teregwys, as diegene wat kwansuis basuin dat hulle ‘verlos’ is van die Ou Testament en die Pauliniese benadering aanhang asof hý (Paulus), God is én Duitswester insinueer dat ware Christene hulle nie aan die Woord van die HERE Jesus Christus, die Messias, steur nie.

Duitswester ken klaarblyklik nie vir Paulus nie. Ongeag Paulus se beweerde herkoms, was hy ’n opregte verstrooiing-Jood uit die stam van Benjamin (Filippense 3:5) en hoewel in Tarsus van Cilicië gebore, ’n vooraanstaande Joodse Fariseër tot sy bekering op pad na Damaskus en dus, as voortreflike student van die teologiese skool van Gamaliël (Handelinge 22:3), báie goed onderlê in die Tanakh en die rabbiniese presepte en interpretasies daarvan. Hy self het immers die rabbiniese Judaïsme, soos dit al tóé voor en tydens die verstrooiing agteruitgegaan het,  uitgewys as synde die ‘voorvaderlike wet’ (Handelinge 22:3 - in teenstelling met ‘Goddelike  Wet’) en waarna die Messias verwys as nuttelose ‘oorlewerings’ en ‘gebooie van mense’ wat deur Hom verwerp word (Mattheus 15:6-9).

Dit is natuurlik ook ’n rede waarom die Judaïste vandag en ook ander soos Duitswester, geen kans laat verbygaan om Paulus se nagedagtenis en Godgeïnspireerde nalatenskap te probeer afkam, nie, want hulle is stééds dienaars van die letters van die boek en nie die God van die boek, nie, nes destyds.

Maar Saulus (sy naam voor dit na Paulus verander is) het juis, omdat hy die tipiese Judaïstiese tradisie nagevolg het en daardeur mislei was en van die ware God verwyderd geraak het, aanvanklik die HERE Jesus as bedreiging aangesien en Sy Messiasskap ontken, soveel só dat hy die Christene vervolg het (Galasiërs 1:13-14; Handelinge 8:3). Maar, in navolging van die Messias (1 Korintiërs 9:1; 15:8–15; Galasiërs 1:15–17), het hy, nou as nuwe apostel ná sy lewensveranderende  Damaskus ontmoeting met die HERE Self, wegbeweeg van die lewelose wettiese interpretasie en verdraaiing van die Tanakh, júís omdat hy die Messias nou self ontmoet en nagevolg het want die Messias het juis kom wys hóé en wát die Ou Testament éintlik beteken en uitgelê moet word – in gedissiplineerde Liefde - en dat die Fariseërs en Sadduseërs se benadering en interpretasie op grond van die rabbiniese presepte (geskrifte wat die interpretasies van rabbis weergee en afdwingbaar is as gesaghebbend), wat net voor en tydens die ballingskap hul beslag verkry het, mense juis van God verwyder het en inderdaad niks met die werklikheid van God en Sy Gebod, te make het, nie (Mattheus 15:6-10; Markus 7:6-16).

Duitswester is ook nie korrek wanneer hy sê dat Paulus kwansuis sou ‘spog’ dat hy ‘niks by iemand geleer het, nie’ – Paulus het by Christus die HERE, die Messias, geleer en erken dit só (Handelinge 22:17–21; 26:12–18; Galasiërs 2:2,9), presies nes die ander apostels by die HERE geleer het in Sy fisiese teenwoordigheid - maar Paulus wel in die Gees, op grond van die Messias se belofte (Johannes 14:24-26). Duitswester behoort te weet dat die HERE nie die bediening van ’n sogenaamde indringer, waarvoor hy Paulus probeer uitmaak, só sou seën soos wat Hy met Paulus s’n gedoen het nie en die Heilige Gees só kragtig deur Paulus sou laat werk (Handelinge 13:9-12; ), as Paulus ’n afvallige indringer was wat Duitswester probeer voorgee, hy was, nie (waarom anders sou Duitswester hom só erg probeer kritiseer).

Oor sy bewering dat Paulus na die apostels (waarskynlik verwysende na Petrus) neerhalend sou verwys, is dit kwaadwillig. Die werklike gebeure rondom die spanning tussen Paulus en Petrus word redelik volledig verhaal in Galasiërs 2:11-21. Tewens, dit is waarskynlik juis Paulus se berisping van Petrus wat die kruks van die antagonisme van Duitswester teen Paulus is – Paulus wat vir Petrus berispe en sê “As jy wat ’n Jood is, soos ’n heiden lewe en nie soos ’n Jood nie, waarom dwing jy die heidene om soos Jode te lewe?” en spreek daarmee ’n stukkie geveinsdheid aan die kant van Petrus en sommige ander, aan. Dit is juis wat die Duitswesters blykbaar wil hê – dat mense soos Jode moet leef asof dit die enigste Weg is terwyl hul self nie dié filosofie altyd onderhou nie.

Feit is, geeneen van die apostels, Paulus inkluis, was perfek of sonder foute,  nie – net soos geeneen van God se dienaars vandag – ons - perfekte mense sonder foute  is, nie. Tog het die HERE,  die Messias, die onbegrensde vermoë om dié swakhede in Sy dienaars só te bestuur dat dit uiteindelik ten goede meewerk en Sy dienaars steeds die Doel bereik in Sy Krag – die Heilige Gees (Romeine 15:17-21; Filippense 4:13).

Maar as Duitswester oplettend was, sou hy sien dat juis verál die ware Christengelowiges, die Ou Testament én die Nuwe Testament as ewe gesaghebbend aanvaar, júís omdat die HERE Jesus Christus, die Messias, die Ou-Testamentiese Skrifte sans rabbiniese presepte direk bekragtig en bevestig deur in elke jota en tittel daarvan, geldig te wees (Mattheus 5:17-19) en na dié aspek word juis van tyd tot tyd dikwels in gesprekke hier, verwys.

Daarbenewens ken Duitswester ook nie die Messias nie. As hy die Messias geken het, sou hy nie sulke uitlatinge gemaak het, nie. Die Messias het onderskeid getref tussen sondaars en ongelowiges aan die een kant en opsetlike en wederstrewige ateïstiese en ander Godslasteraars aan die ander kant – ten aansien van eersgenoemde doen Hy baie moeite om met hulle te assosieer, maar met die doel om hulle te bekeer (Mattheus 9:10-13), máár ten aansien van laasgenoemde, die opsetlike en halsstarrige ongelowiges, tree Hy baie streng op en ‘spaar’ hulle nie van ernstige teregwysing en selfs bedreigende veroordeling, nie (Mattheus 11:21-24; 12:34-37; 23:14, 27, 33) en noem hulle selfs kinders van die duiwel (Johannes 8:43-47). Dit is juis die Messias se direkte, verbale afkeuring van die opsetlike ongelowige se lewensfilosofie wat so direk aansluit by Godgeïnspireerde waarskuwing van Paulus in 2 Korinthiërs 6:14-18. Uiteraard sal al wat ongelowige en ketter is, hieroor wil galbraak en hulle doen dit ook – sien maar, byvoorbeeld, die residensiële brommer se braaksels orals daaroor.

As Duitswester dus werklik geglo het wat die Messias sê, soos hy insinueer hy wel doen, sou hy eerstens in die Goddelikheid van die Messias glo, tesame met die Mensheid van die Messias (dubbele hoedanigheid van die Goddelike gestalte van die Ewige Woord van God wat in die vlees inkarneer het as Verlosser, as Christus die Messias) én hy sou glo wat in die Nuwe Testament opgeteken is, soos na verwys in wat ek hier en elders weergee, asook die roeping en bediening van Paulus deur die HERE Jesus Christus, die Messias.

Dan diskrimineer Duitswester blykbaar ook teen diegene wat hy dink, nie-Jode is – soos met die apostels teenoor Paulus en verál Paulus se bediening van die Evangelie aan die heidene, die nie-Jode (want juis dít is waartoe Paulus deur die Messias geroep was). Maar, Duitswester se diskriminerende benadering is oppervlakkig, twisgierig en teenstrydig met die Messias se Evangelie en hy kan blykbaar nie insien dat ook Paulus, nes die ander twaalf, óók ’n deur-die-Messias-uitverkore dienaar en apostel van God is, nie (Handelinge 9:15; 22:17-21; 26:12-18). Hy trek klaarblyklik teen Paulus te velde omdat dié juis die nie-Jode moes bedien met die Evangelie en Duitswester verstaan klaarblyklik glad nie die betekenis van die toepaslike gelykenisse van die Messias in daardie verband met die ernstige waarskuwing wat daarmee  gepaardgaan, nie (Mattheus 22:1-14; Lukas 14:16-24).

As mens so na Duitswester se kommentare kyk en hoe hy ware gelowige Christene teëgaan wanneer hulle ander wat op die pad van spirituele verderf is, bearbei om op tot die regte Weg terug te keer, júís die Weg van die Messias, dan wil dit voorkom asof hy self  nie ’n flenter omgee wat met sulke afvalliges sal gebeur nie. Dan wonder ’n mens, hoe kom ’n skynbaar liefdelose mens soos Duitswester (dit is werklik die indruk wat hy hier skep) by sy eie stelling verby dat hy (by noodwendige implikasie) die Messias se Woord glo – hoe leef hy dan die twee Gebooie uit? Want dit is die einste Messias wat die twee samevattende Gebooie van God vir ons voorhou as die énigste universele maatstawwe wat die ganse Wet en profete saamvat en juis aan die Wet en profete betekenis gee (Mattheus 22:37-40 g.m. Lukas 10:33-37 g.m. Johannes 14:6-7).

Trouens, Duitswester se skynbaar afvallige en anti-Christelike uitlatings en tussenwerpsels het ’n sekere gees wat daarmee gepaard gaan – een van afvalligheid wat die ateïs Chris só opgewonde maak, dat hy nou vir hom in Duitswester ’n nuwe gespreksgenoot uitgesonder het by wie se sêgoed hy onmiddellik aanklank vind – juis omdat dit so avers is – die kos van die agnostikus.

En só kom die leuens en die draers daarvan aan die lig, al probeer hulle dit in die Naam van die Messias verkondig. En mens sien mos, hulle staan saam teen die ware gelowige Christene, saam met die agnostici. Voëls (metafories) van eenderse (spirituele) vere… só duidelik.

Kobus de Klerk

  • 15

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    ... nes die berugte kritikaster en infernale godsdiensboef Kobus de Klerk (heeltemal besete in sy farisese ware Christengeloof), ook voorheen bepaal het dat selfs Katolieke, en die katolieke, nie Christene is nie... genadiglik het geeneen, enige van hierdie Kobus de Klerk-titels in die liefde en genade van Yahoshua HaMesiach, nodig nie...mag onse Yahoshua HaMesiach, ons verlos van hierdie verwaande onderdrukker Kobus de Klerk, se onophoudelike boosheid... Cornelius

  • Was ek nie 'n ateïs nie, en wel 'n Christen, is Kobus se argumente hierbo mbt tot die Christen se geloof in die Bybel, Paulus en die apostels, onbetwisbaar.  Ek stem.  Indien Duitswester homself as Christen wil voorgee, behoort hy nie die Christen se bron van openbaring selektief te aanvaar nie. 

    Jaco Fourie

  • Chris Dippenaar

    Soos 'n sirkusapie voer KdK oor en oor dieselfde eentonige en vervelige toertjie uit en hou dan sy vuil handjie uit vir 'n muntstuk. Hierdie keer gee ek hom fokkol, en ek hoop Duitswester doen dieselfde.

  • Chris Dippenaar

    Hello Jaco

    Die ortodokse en fundamentele Christen word telkens geplaas in 'n onmoontlike posisie wanneer die Bybel, as sogenaamde onfeilbare en letterlike woord van God, onduidelik, of selfs teenstrydig is in uitspraak oor dogma. Dit gebeur gereeld tussen die Ou en Nuwe Testament, tussen genres binne 'n Testament, tussen verskillende boeke, en selfs binne spesifieke boeke self. Windmeul armswaaiery van prekers, pastore en priesters wat vertel van die "wonderwerk" van die Bybel wat homself nêrens weerspreek nie, is 'n emosionele en teatrale poging om die aandag af te lei van die teks self. Te veel water het al onder die brug deur gevloei om hierdie kinderlike, en selfs kinderagtige uitsprake, vol te hou.

    Die Christen, om sin te maak uit die Bybel, het min keuses. Of hy ignoreer dele wat hom nie pas en beklemtoon dit wat hom pas (Cornelius), of hy harmoniseer eenvoudig op die mees fantastiese manier dit wat regtig nie hoort bymekaar nie (KdK). Wat Duitswester se benadering verkwikkend maak is die eerlikheid waarmee daar gekyk word na die probleem, en dan meer spesifiek, 'n bereidwilligheid om te sê dat sekere dele in die Bybel eenvoudig verkeerd is, of ten minste verkeerd geinterpreteer was in die verlede, en dat Paulus 'n "Turk" was.

    Ek stem nie altyd saam met jou as jy eenvoudig verklaar dat die Bybel sê so en so, einde van storie. Dit waarvoor jy argumenteer is baie soos die onfeilbare en letterlike woord van KdK se God, behalwe dat hy nie bestaan nie. Dinge is gewoonlik baie meer ingewikkeld as wat ons dink.

    Chris

    Ns. Ek het nie probeer om woorde in Duitswester se mond te lê nie. Verskoning as ek sy posisie wan voorgestel het.

  • Kobus de Klerk

    Jy kon my nog nooit iets gee nie, Chris, behalwe net om my telkens die geleentheid te bied om die verskynsel van agnostisisme en die ateïstiese verskyningsvorm daarvan te kan uitwys as die sielsvernietigende spirituele staat wat dit is en hoe dit die mens van sy unieke menswees stelselmatig beroof tot die punt waar daardie mens net as 'n leë dop eindig. En daardie geleentheid bied jy bykans elke keer as jy jou kubermond hier oopmaak, of jy nou wil of nie. Kyk byvoorbeeld, tot waar het Cornelius al in die staat van veral gedegradeer, sodat hy irrelevant geword het behalwe vir julle wat hom graag weens sy toestand wil misbruik en dit ook dikwels doen- en jy is haastig op pad daarheen.

    Kobus de Klerk

  • Kobus de Klerk

    Chris,

    Jy sê wat Duitswester se benadering vir jou 'verkwikkend' maak is die 'eerlikheid' waarmee daar gekyk word na die 'probleem', en dan meer spesifiek, 'n bereidwilligheid om te sê dat sekere dele in die Bybel eenvoudig verkeerd is, of ten minste verkeerd geïnterpreteer was.

    Dus, jy sê in soveel woorde dat net sekere dele van die Bybel verkeerd was of as sulks geïnterpreteer was, wat dan natuurlik noodwendig beteken dat jy instem dat sekere ander dele dan wel nie verkeerd was  nie - na alles, jy sê mos Duitswester is eerlik - dan is hy mos volgens jou ook eerlik ten aansien van die ander dele wat hy nie as sulks afkam nie.

    Watter dele van die Bybel is dan volgens jou nie verkeerd nie en op watter gronde is die res dan verkeerd? Kom ons hoor wat jy daaroor sê...

    En dan, natuurlik, sal jy mos in jou eie subjektiewe onkunde noodwendig sê dat iemand wat die Bybel kritiseer en afkam, eerlik is en diegene wie dit nie doen nie, oneerlik is - na alles, jy is mos 'n volslae agnostikus!

    Kobus de Klerk

  • Beste Chris

    Die Bybel asook enige ander "heilige" boeke is vir my geensins enige bron van goddelike openbaring nie.  Vir die Christen is dit wel, veral die Nuwe Testament.  Paulus se sendbriewe vorm meer as helfte van die Nuwe Testament, en word beweer om ouer as selfs die Evangeliese Boeke van Markus, Mattheus, ens te wees.  Dat Wes-Europa die Christendom aanvaar het, is direk aan Paulus se sendingwerk te danke.

    Die enigste maatstaf deur Duitswester aangebied om Paulus se briewe te verwerp is dat hy buite die grondgebied van Israel gebore en geleef het.  Hy gee geen aanduiding mbt tot die inhoud daarvan hoekom Paulus se briewe verwerp behoort te word nie.  Sy eiesoortige Christenskap het hy telkens in briewe oor die jare heen laat deurskemer, en jy as ateis, glo ek sal ook 'n probleem met sy "openbaring" ondervind, net soos jy dit met die Christen ondervind.

    Ek as gay persoon behoort aanstoot te neem wat Paulus in Romeine oor gays te sê het, maar omdat ek nie 'n gelowige is nie, traak dit my geensins, vir die Christen wel.  Ek as ateïs en gay sal dit nie aangryp om vir Christene te beweer dat Paulus se skrifte gevolglik nie deel van die Nuwe Testament hoort nie.

    Ek is nie seker of jou walging vir KdK jou van stryk bring nie, en 'n alliansie in Duitswester soek nie.  Dit kom vir my wel so voor.  Ek het menigmaal in die verlede met KdK swaarde gekruis, en ek volhou dat in die konteks van sy skrywes hierbo uiteengesit, het hy met sukses 'n logiese argument in die konteks van die Bybel uiteengesit.

    Jaco Fourie

    NS.  Ek sal weer deelneem na die 8 April 13.  Ek is op pad na Oudshoorn vir die KKNK

  • CorneliusHenn

    Beste Chris,  

    Alhoewel jy na my mening die botoon in terme van intellek op die werf voer, is dit tog duidelik dat jou hart hard klop.  

    Daarmee gee ek aan jou die vrede dat ek nie 'n saak het met jou minagting vir my oortuiginge nie.

    Iewers in my herinnering aan Frederik Nietzsche se wysheid, onthou ek iets wat geleer het dat respek, minagting bewerk  - ek glo ook dat jy die presiese plek kan aanwys.  

    Dus, sonder al die onnodige respek - ek kan myself nie indink dat ek ooit sou wou voorgee dat die Bybel seg "maak so, en maak sus", en daar gelaat staan nie.  

    Dis tog onmoontlik gegrond op my liefde vir al die ander Heilige Skrifte waarin onse almal se  Almagtige Lewende Skepper, altyd 'n plan vir die mens se saligheid bewerk - en juis dit wat ek met julle deel.  

    Namaste!  

    Cornelius

  • Kobus de Klerk

    By die lees van Cornelius se afvallige, sinkretistiese blerts hierbo ten aansien van Chris se aanmerking aan Jaco oor sy hutspot tipe religie en die gebruiklike domastrante wyse waarop hy dit vir homself regverdig, staan ek nóg meer verwonderd by die Krag van die Woord – hoe dáárdie Krag eenvoudig selfs die ketter se mond sal gebruik om, al is dit slegs ’n enkele keer in ’n ganse leeftyd van só ’n persoon, die Waarheid in die HERE te bely, soos Cornelius se kubermond gebruik is met sy mooi Pase bydrae.  Maar selfs in die groet heel aan die einde van daardie bydrae, het die ware Cornelius se siel al weer begin kop uitsteek, hoewel dit heeltemal verwyderd was van die inhoud self.

    Hierbo gaan hy egter en is maar net weer die ou, afvallige ketter en religieuse hutspotter wat praat van die ander afvallige religieë se ‘heilige skrifte’ en hoe hy die Woord soos opgeteken in die Bybel, probeer degradeer na daardie ander ongoddelike menseversinsels  – wat hy sogenaamde heilige geskrifte noem saam met die enigste ware Heilige Skrif, die opgetekende Woord van God in die Bybel - almal waarvan selfs by geen uitsondering nie, die einste, énigste ware HERE vir Wie hy in die mooi Paasboodskap vereer het, verloën, net soos hy ook doen geredelik met die HERE van die Woord, vir Wie hy gelyk stel aan die afgodsversinsels van die ander religieë.

    Hoe hy dit oor sy warboel-hart kan kry om só blatant die HERE te belaster deur Sy Woord te wil probeer gelykstel aan ander menseversinsels wat Hom in Sy Enige Godheid só verloën, is moeilik om te verwerk. Dog, hy wat Cornelius is doen dit sonder om ’n oog te knip en is sy bedrog só ingrypend en sigbaar, dat selfs die gehardste ateïste en agnostici dit kan agterkom – Chris is beslis nie die enigste van hulle wat dit uitwys nie. Dáárom, natuurlik, waarom sommige van hulle hom hulle ‘favourite christen’ noem… Hoe anders, sy bedrog is so reg in hulle agnostiese kraal en dit is juis vir hom, wat hulle as voorbeeld van onstabiliteit sal gebruik wanneer hulle in hul gesprekke onderling die christendom wil kritiseer, ongeag die feit dat hy geen Christen is nie, net so min soos Chris een is – en dit verklaar ook waarom hulle soms die heuningkwas so kwistig aanwend vir hom, sodat hy in sy opgekropte haat en bitterheid (lees maar sy blertse hierbo en elders ) en geketter, kan manifesteer vir hulle siek genot.

    Waar ek hom in my kommentaar by sy Paasboodskap erkenning gegee het oor die mooi boodskap, omdat ek deur Gods genade besef het wat aangaan, het ek hom ook terselfdertyd na Romeine 14:11 verwys en dit selfs vir sy gerief aangehaal – en daarby het ek hom gevra of hy verstaan wat ek sê… en duidelik verstaan hy nié.

    Kobus de Klerk

  • Chris Dippenaar

    Hello Cornelius

    Ek minag verseker nie jou oortuiginge nie. Wat ek sien in jou is 'n mens wat Christendom sif en probeer behou wat die moeite werd is om te behou. Ek sien jou dieselfde doen met ander gelowe. Ek kan nie dink dat ek al ooit iets in jou sif gesien het wat my laat minder dink van jou as mens nie. Ek mag dalk dink dat van jou idees heeltemal laf is, maar jou oortuiginge as menslike mens het ek nog nooit oorskat nie.

    Chris

    Ns. Lees net gou my reaksie hierbo weer deur. Ek het nie na jou verwys met: "Ek stem nie altyd saam met jou as jy eenvoudig verklaar dat die Bybel sê so en so, einde van storie", maar wel na Jaco.

  • Chris Dippenaar

    Hello Jaco

    Ek is seker dat Duitswester meer redes het om Paulus te verwerp as slegs die feit dat hy buite die grondgebied van Israel gebore en geleef het. Ons sal maar seker moet wag dat hy homself verduidelik. Wat my interesseer van Duitswester se siening is dat dit loodreg in teenstelling is met wat ek verstaan van die verhouding tussen die briewe en die evangelies.

    Meeste Christene, KdK ingesluit, beskou Paulus en die briewe van die Nuwe Testament as die teologiese interpretasie van die historiese Jesus soos beskryf in die Evangelies. Daar is by hulle geen twyfel dat Paulus besig is om te praat van 'n historiese figuur wat geleef het op aarde. Die rede hiervoor is dat die briewe gelees en geinterpreteer word deur die filter van die Evangelies. Die oomblik as die briewe gelees word sonder hierdie filter raak dit duidelik dat die Jesus wat Paulus in gedagte het nie bestaan het op aarde nie. Verder, en soos jy tereg sê, die briewe van Paulus word beskou as heelwat vroër geskrifte as die Evangelies en die gevolgtrekking is dan dat die mitologiese Jesus van Paulus gehistoriseer is in latere geskrifte. Hierdie argument word breedvoerig gegee in Earl Doherty se 'Jesus, Neither God Nor Man'. Of jy saamstem met hierdie siening of nie, die punt is dat KdK se weergawe van Christendom nie "onbetwisbaar" is nie. As die historiese konteks en die variasies van die vroegste Christengroepe (Bart Ehrman - Lost Christianities) in ag geneem word raak die KdK-prentjie nog verder uit fokus. As selfs die historisiteit van Paulus self bevraagteken kan word (Dutch Radical School) behoort dit mos duidelik te wees dat die ortodokse prentjie van waar hierdie geloof vandaan kom groot probleme het. Die dae wat Christen apologete hulle argumente kon grond op 'n sekere "logiese konteks van die Bybel" is verby. Die wêreld van Bybelstudie het nie stilgestaan en wag vir toestemming nie.

    Ek maak geen geheim daarvan dat KdK my walg. Enige gesprek met hom kan net eindig in die rondslinger van persoonlike opmerkings. Ek begin moeg raak daarvan en het gehoop dat 'n gesprek met Duitswester anders sou kon wees.

    Geniet die KKNK fees

    Chris

  • CorneliusHenn

    Beste Chris,  

    Baie dankie vir jou belangstelling enersyds, en jou gewoonlik sinvolle kommentaar, andersyds.  

    Ek soek reeds jare lank na die regte verklaring vir die belewenis in my hart, bloot ter wille van die getuienis daarvan wat ek onder meer op die werf uitdra.  

    Dit is wel so dat ek nêrens soveel kritiek daarvoor ontvang, as hier op die werf nie. Dit mag dalk wees dat 'n mens se kommunikasie in die regte lewe, soos byvoorbeeld liggaamstaal en gesiguitdrukking, die boodskap in geheel beter oordra.  

    My punt is dat ek op geen manier my hart aan die hand van een of ander intellektualisme probeer  verklaar nie. Wat ek wel vind is dat ek iets daarin beleef (eerste ervaring), en agterna 'n verklaring vir my belewenis in 'n bepaalde Heilige Skrif (soos onder meer in die Bybel), daarvoor vind.  

    Daar mag wel voordeel in wees om eers onderrig te ontvang om sodoende voorbereid op ervaringe te wees, maar dit het my ook al laat dink aan "die bobbejaan agter die berg gaan soek".    

    Derhalwe, daar is reeds oorweldigende bewys hier op die werf, presies in welke mate vooraf opgestelde kennis die draer daarvan erg bevooroordeeld laat.  

    Andersyds, kennis word sonder uitsondering met 'n ander se agenda gevoer - oral in die wêreld.   Indien 'n mens wel die moed en krag ontvang om konformisme te oorkom, dan val die Heilige Skrifte in ALLE Godsdiens op aarde as 'n bron vir inspirasie voor jou oop.  

    Om eerste die vrede en liefde van ons almal se Almagtige Lewende Skepper in jou hart te ervaar, en dan bevestiging agterna daarvoor in soveel ander bronne en mense se lewens oor die hele aarde te vind, is inderdaad die grootste seën wat 'n mens in hierdie drukte van ons bestaan kan ontvang.  

    Ek sif nie soekend om 'n vooraf bepaalde kostuum vir myself te ontwerp nie; ek vind kleding om my empirie te dek. 'n Kostuum is gepas as daar vooraf 'n rol geskryf is; kleding is iets wat 'n mens vir jou reeds bepaalde geslag, liggaamsbou en omstandighede kies.  

    Chris, ek hoop dit laat jou gedagte dat ek sif, meer respektabel.  

    Namaste!  

    Cornelius

  • Kobus de Klerk

    Cornelius,

    Jy vertel hierbo "kennis word sonder uitsondering met 'n ander se agenda gevoer - oral in die wêreld.   Indien 'n mens wel die moed en krag ontvang om konformisme te oorkom, dan val die Heilige Skrifte in ALLE Godsdiens op aarde as 'n bron vir inspirasie voor jou oop".

    Jy verset jou sogenaamd teen kennis, maar tog is jy gedurig oorhoops met talle bronne waaruit jy papegaai om jou deurmekaar selfgeskepte religie mee te probeer bolster. Jy vergeet egter dat juis God die mensdom aanmoedig om Kennis te bekom - Kennis van Hom, van God en Sy weë - en God rig ernstige waarskuwings deur Sy profete Jesaja (5:13) en Hosea (4:6). Of dalk gee jy net nie om wat God se Wil in hierdie verband ook is, nie. En dit he tmet intellektualisme absoluut niks te make nie - maar alles met gehoorsaamheid en 'n strewe om die Een in Wie ons glo en vir Wie ons dien, naamlik die Een en Enigste ware God, beter te leer ken - HY is na alles, ons Vader.

    Dus, die kennis wat jy weerstaan en waaroor jy ware gelowiges gedurig uitskel, is juis Kennis van God wat dei gelowige op Sy uitdruklike uitnodiging bekom (Jeremia 33:2-3).

    Die 'ander se agenda' wat jy so probeer kritiseer, is juis die agenda van God waarmee die ware gelowige omtrent God getuig (Mattheus 28:19). Jy verset jou dus teen God se agenda (sien weer Mattheus 28:19) deur ware gelowiges wie oor Hom getuig, te probeer stilmaak.

    Die konformasie waarteen jy jou ook verset, is juis die konformasie aan die Weë en Wil van God, Wie dit van ons verg, want dit is die kruks van die eerste Gebod (Deuteronomium 6:5; Mattheus 22:37-38) want die gehoorsaamheid en konformasie met God, lei ook tot nakoming van die Tweede, ewe belangrike Gebod (Mattheus 22:39).

    Die bron(ne) van inspirasie wat jy wil opsoek, is juis die wat strydig is met God se Wil en Wese, want al die ander religieë misken die aard en Wese van die HERE Jesus Christus as ware Seun van God, die geïnkarneerde, ewige Woord van God en die enigste Middelaar en Verlosser en Poort tot God die Vader (Johannes 14:6-7).

    Op jou eie getuienis, is jy derhalwe geen gelowige in God, nie - en dit is ook waarom jy ware geloiges nie kan uitstaan nie. Jy rebelleer teen God en probeer God vervang met jou eie versinsel omtrent God waar jy dit dan probeer legitimeer deur aan jou eie versinsel die allerheiligste Naam van God toe te ken - en diegene wie jou daaromtrent aanspreek, probeer jy, in jou liefdeloosheid, verguis.

    Kobus de Klerk

  • CorneliusHenn

    Ja, en soos altyd LIEG jy Kobus de Klerk!  

    Jou hatige gedweep op die werf het inderdaad ALLES, met intellektualisme te make - soos jy ook gedurig met jou farisese en 'skrifgeleerde ware geloof', asook jou infernale 'spirituele intelligensie' spog (als tot jou eie eer en duidelik uit die hand van die Duiwel self).  

    Dis ook gewoon op grond van jou eie haatlike agenda in die lewe, dat jy sou meen dat almal wat jou nie eer nie, die 'Kennis van God' sou teenstaan.  

    Wyl jy sou meen dat 'Kennis van God' op jou verstand, of op jou infernale 'spirituele intelligensie' geskoei is, is dit genadiglik in menige Heilige Skrif op aarde eens dat sulke kennis, alleen in ons harte geopenbaar word.  

    Dis ook om hierdie rede dat eenvoudige kinders van die HERE soos ek, in absolute saligheid tot eer van ons Skepper kan jubel.  

    Daarenteen, is daar menige godsdiensboef nes jy Kobus de Klerk, wat met al jou helse slimmighede, gedurig naïwelinge om jou se beursies vir jouself sal skud, en net tot jou eer ander sal probeer konformeer - die ou grote 'slim' Kobus de Klerk (soos jy graag na jouself verwys - al is dit hoe duidelik dat jy eintlik aan 'n desperate patologiese toestand ly).  

    Jou mening is korrup Kobus de Klerk; deurspek met haat, gierigheid, en vol eiewaan.  

    Hoe hartseer vir al die ongelukkige siele om jou ...  

    Kobus de Klerk, ek vergewe jou nogmaals in die liefde en genade van onse HERE, Jesus Christus.  

    Mag Jesus Christus ons HERE, ons almal vergewe.  

    Jou amigo in Adam,  

    Cornelius

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top