Duitsers en Afrikaners

  • 2

Peter Watson het drie merkwaardige boeke van ongeveer 'n duisend bladsye elk met tussenposes van vyf jaar gepubliseer. Sowel die omvang as die inhoud van hierdie werke is indrukwekkend. Al drie handel oor geestelike en meer spesifiek intellektuele prestasie. Die tekste kom neer op die dokumentering van 'n kaleidoskoop van (of fragmente uit) die geskiedenis van voortreflike idees. Om daarin te slaag, het Watson wyd gelees. Die leser geniet die voordeel dat Watson in baie gevalle oor bronne verslag doen waarby hy nie op eie houtjie sal uitkom nie. Maar die leser moet die outeur vergewe omdat dit onmoontlik is om al hierdie inligting afdoende te sistematiseer; om van sintetiseer nie te praat nie. Die wins is dat kennis met talle moontlikhede gemaak word, sodat die leser se gees verruim word met van die beste denke waartoe die mens in staat is.

Die drie boeke waarna ek verwys, is: A Terrible Beauty: the people and ideas that shaped the modern mind; a history (London: Phoenix, 2001, 847p), Ideas: a history from fire to Freud (London: Phoenix, 2006, 1118p) en The German Genius: Europe's third renaissance, the second scientific revolution, and the twentieth century (London: Simon & Schuster, 2011, 964p). Laasgenoemde boek kos R150. Ek kan my kwalik 'n beter winskoop voorstel. Ek noem die slapbanduitgawes. In hardeband is hierdie boeke elke keer 'n jaar vroeër gepubliseer.

Om hierdie boeke op te som of selfs maar bevredigend 'n aanduiding van hulle inhoud te probeer gee, is 'n feitlik onbegonne taak. Watson het blykbaar soveel momentum as navorser en skrywer opgebou dat hy naas 'n omvattende boek elke vyf jaar ook ander boeke, elk oor 'n beperkte onderwerp, publiseer. Ek vermoed dat hy oor goeie navorsings- en administratiewe hulp beskik. Watson se lofwaardige skryfarbeid laat my onwillekeurig dink aan Robert Browning se woorde: "A man's reach should exceed his grasp".

Vervolgens beperk ek die aandag tot die boek oor die Duitse gees, maar weens die ruimtebeperking sal ek hier nie verder as die inleiding vorder nie. Nadat genoeg tyd sedert die tragedies van die twee wêreldoorloë verloop het (selfs Adolf Hitler se Mein Kampf gaan nou in Duits herdruk word), is die tyd blykbaar ryp om die aandag op Duitse talent te vestig. Matthias Matussek het gesê: "It was 'ridiculous' to reduce Germany ... to the twelve years of Nazi rule" (p 1-2). "Hitlerisation" (p 4) moet met "Germanism" (p xi) vervang word. Ek het voorheen genoem dat die grootste tragedie van die Tweede Wêreldoorlog myns insiens is dat twee van die begaafdste groepe, die Duitsers en die Jode, teen mekaar afgespeel is. In hierdie proses is van die grootste geeste vernietig, insluitende baie wat sowel Duitser as Jood was.

Maar daar is 'n ander belangrike saak wat plaaslik in gedagte gehou moet word, des te meer sedert mense soos Desmond Tutu, Max du Preez en Antjie Krog in die naam van 'n sogenaamde Waarheids- en Versoeningskommissie veral die Afrikaner soveel moontlik probeer verguis het. Wat belangrik is, is dit: As talent (of briljantheid of voortreflikheid) op die Duitsers gereën het, het dit ten minste op die Afrikaners gedrup. Al is dit deesdae in die mode om dit te ontken, het Afrikaners in die onvriendelike omgewing van Afrika (veral Suid-Afrika, maar ook in Namibië en Zimbabwe) buitengewoon gepresteer. Die meeste Duitsers het die voordeel van gunstiger omstandighede geniet.

Ek volstaan met 'n enkele voorbeeld. Jan van Riebeeck, in 'n sin dié oer-Afrikaner, het op Saterdag 6 April 1652 in Tafelbaai aan land gegaan. Volgens sy dagboek het hy op Woensdag 10 April met bouwerk aan die fort begin. Hy het nie besluit dit is amper naweek nie. Daar was nie openbare vakansiedae ter viering van destruktiewe gedrag (Sharpeville, Soweto-opstande, die optog van ontevrede vroue na die Uniegebou) nie. Van Riebeeck het nie Werkersdag gevier deur nie te werk nie. Hy het verkies om 'n navolgenswaardige voorbeeld te stel. Hy het nie geredeneer dat hy nou in Afrika is en dat hy maar gaan wag tot iemand vir hom blyplek skenk nie. Hy het gedoen soos in Europa gedoen is: Hy het self in sy behoeftes probeer voorsien. Inisiatief, toewyding en deursettingsvermoë sou deel van die suksesresep van Afrikaners word.

Heel aan die begin van Watson se boek is daar hierdie aanhaling van Allan Bloom: "Our intellectual skyline has been altered by German thinkers even more radically than has our physical skyline by German architects" (p vii). Dit vind aansluiting by Bloom se bewondering vir die Duitse universiteitswese (SêNet, 7.12.2011). Anders as in die nuwe Suid-Afrika word daar in Duitsland bv 'n duidelike onderskeid tussen akademiese studie (universiteite) en Brotstudium (bv technikons) gemaak. "Bread studies provided the student with enough information for a job, but not to advance learning" (p 229). Daar is ook hierdie aanhaling van Peter Watson: "The United States and Great Britain may speak English but, more than they know, they think German" (p xii, 37). Die voorbeeld wat Duitsers in Duitsland gestel het (met bv uitvindings en geestesprodukte soos boeke) het hierin ongetwyfeld 'n rol gespeel, maar sekerlik ook die heilsame invloed wat Duitse immigrante in daardie lande en Duitsers wêreldwyd uitgeoefen het.

Baie van wat oor Duitsers gesê word, klink bekend in die nuwe Suid-Afrika. Dieselfde ideologiese (spesifiek politieke) spel word gespeel. Daar word beweer Duitsers was/is "obsessed with their guilt" (p 12), hulle moet sonder ophou om verskoning vra (p 13, 17), hulle moet skadevergoeding aan benadeeldes betaal ("restitution", p 14), wat hulle gedoen het, word met gruwels soos die Sowjet Gulag vergelyk (p 15), hulle word uitgesonder vir beskuldigings van rassisme, bv anti-Semitisme, maar "before World War I, both France and Russia were more anti-Semitic than was Germany" (p 20), ens. Wat hier gebeur, is die oorvereenvoudiging van die geskiedenis. "History, particularly in the age of television, is almost as much about perception as about reality" (p 22). Daar is vir die Duitsers die voortdurende herinnering aan "the terrible past" en dit gaan gepaard met oproepe vir die "normalization" van die Duitse samelewing (p 23). "Rebuilding the country" was na al die "atrocities" nodig. "Shame and guilt" ondermyn die Duitsers se "self-esteem" (p 24).

Die Duitsers word kollektief skuldig bevind "because everyone had, before 1945, benefited from the Nazi regime in one way or another ... Modern German history is inevitably seen as political history" (p 25). Hierteenoor beklemtoon Wolf Lepenies die "deeply apolitical nature of the 'German soul' ... Culture [in die sin van "'high culture': literature, theater, painting, music and opera, theology and philosophy", p 34] ... as a noble substitute for politics" (p 32). Demokrasie en stemreg was bv volgens Thomas Mann "totally alien to the Germans" (p 34). Met Hitler se bewindsaanvaarding in 1933 was daar in Duitsland 'n "descent into barbarism" (p 25), maar juis toe was Duitsland "the leading force in the world intellectually" (p 35). Dit herinner aan bv Leopold Scholtz wat apartheid telkens sonder meer as "verfoeilik" verwerp, maar juis toe (1948-1989) was Suid-Afrika, anders as ander Afrika-lande, maklik herkenbaar as 'n vooruitstrewende, benydenswaardige en in talle opsigte 'n verwesterde land.

In werklikheid is daar "more, much more, to modern Germany than the Third Reich" (p 29). Daarom skryf Watson met bewondering en entoesiasme oor Beethoven, Goethe, Einstein, ens. Toe Rebecca West in 1960 'n besoek van drie maande aan Suid-Afrika gebring het, het sy gou agtergekom wat ons lankal weet, naamlik dat swartes alles oor die politieke boeg gooi. "She did not think ... that it was realistic to think that all of South Africa's problems were due to whites and to apartheid" (Carl Rollyson, Rebecca West: a saga of the century, London: Sceptre, 1996, p 292-293). Die nuwe Suid-Afrika het haar reg bewys. Soos die Duitsers het die wittes, insluitende en dalk veral die Afrikaners, in Suid-Afrika uitsonderlik gepresteer met wat beskawings- of ontwikkelingsgewys tot stand gebring is. Afrikanergeskiedenis gaan om baie meer as die vier dekades van apartheid en apartheid was sekerlik nie in alle opsigte verwerplik nie.

Johannes Comestor

  • 2

Kommentaar

  • Goeie bydrae Johannes, so baie dinge word deur propaganda en verwronge geskiedenis ingeprent dat die waarheid en perspektief van die tafel val.

    Ek skryf dit toe daaraan dat die verloorder nie die geskiedenisboeke skryf nie.

     Duitswester

  • Francois Pretorius

    Baie interessant en insiggewend. Die Duitsers het intussen wel weer met volslae uit die as opgestaan. Hoop die Afrikaners se kollektiewe ratte begin ook binnekort weer aan die draai kom.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top