Daar is so paar Duitse anties wat ek geken het en die een waaraan ek nou dink (kan nie haar naam noem nie, bang haar familie kom moer my!) het êrens op ’n dorp saam met haar man ’n garage gehad saam met die service station, of petrolpompe. Haar man was ’n legendariese mechanic wat omtrent kon toor met karre en die antie het die res van die garage “gedoen”. Haar woord was wet, haar humeur kort en geen man het die moed gehad om te bly staan as daai moerblok jou nommer in haar oge gekry het nie.
So kom sy die Maandagoggend vroeg by die garage aan en sluit oop en vind uit dat alles die dag verkeerd loop. Die joggies het nie die lesings reg gevat nie, die geld klop nie, ’n paar van die ander manne het die naweek so ’n bietjie te veel Kaalgat gegooi en is nog babelaas, so aan. So raak sy al meer en meer die moer in en die sweep klap aanmekaar soos sy hulle moere vir hulle vloek.
Intussen het die dominee daar stilgehou om sy kar vol petrol te maak en hy hoor hoe sy al knertsend die werkers rondjaag en toe sy by hom kom, toe sê hy paaiend vir haar: “Geduld, suster. Job se geduld.”
Sy kyk hom so met rooi oë aan en sê: “Job het nooit ’n fokken service station gehad nie, dominie!”
Laat ek dit vir jou so stel. Die Duitsers is van die mense in die heelal wat die mooiste beenstruktuur het. Loop ’n draai en bekyk die Duitse meisies met ’n houtoog en orals sien jy net mooi bene. Meestal sulke stewige atletiese bene met mooi kuite. Dan praat ons nou nie eers van die blonde hare en blou oge nie! Met ons kinderdae kon ons nie wag vir sportbyeenkomste soos die atletiek en veral SWAIKS waar die hele land se skole kom deelneem het en dan het die Duitse meisies van Windhoek se HPS en die Duitse skool doer in Swakopmund kom bene wys ... en natuurlik meestal gewen ook! Ek sou nie eers ’n kans waag om te sê dat die jong Duitse meisies is die mooiste in die land, toe en vandag nog nie.
Maar die Duitse leefstyl is baie meer outokraties as die Afrikaner s’n. Die man is baas in die huis en hulle kultuur kom duisende jare terug. Waar die Afrikaner doodtevrede is om ’n netjiese, skoon huis te hê, nie Duitser se kind nie. Hulle huise is vol van ou meubels, skilderye, koekoekklokke, bierbekers, swaar gordyne, ens. Buite is ’n lushof van bome en ’n tuin wat jou so bietjie kortasem maak ... alles werk van daai pragtige Duitse vrou wat vir haar man en familie ’n behoorlike tuiste volgens Duitse smaak skep. Hulle werk hard, in die veld saam met die man ook as dit nodig sou word en daarom is daar sekerlik die neiging dat die Duitse vrouens om “vinniger oud te word” as hulle Afrikaanse eweknie. Meeste Duitse boervroue wat ek ken, is nie tevrede net om in die huis en tuin te sit die hele dag nie en sal eerder ’n perdestoetery of ’n perdespringaffêre aan die gang hê en hulle wag nie vir hulle mans om hulle te kom help om dinge te kom bou of regmaak nie. Jy sal ook vind dat die Duitsers oor die algemeen met minder plaashulp klaarkom.
Namib

