Dubbeltjies op die Boeddha se pad

  • 0

Francois

Jou stukkie wysheid oor die dharma het ek nou werklik geniet, maar jong alhoewel ek mediteer en resiteer trap ek nog steeds op duwweltjies. Want vir die Afrikaners (my eie mense) kan ek tog so de moer in raak dat dit nie eens waar is nie. Soos jy weet het die Boeddha geseg dat haat nie deur haat oorwin word nie. Nou wat nou gedoen? Soms dink ek: "die blerrie worsvreters is seker net soveel op medelye geregtig as enige iemand anders."

Het die Afrikaner nie ook gely nie? Soos jy weet ly die onderdrukker net so hard soos die onderdrukte ... daardie ding van oorsaak en gevolg. Ek weet jy besoek die Republiek so af en toe, maar ek kan jou vertel die Afrikaner het merendeels die oorsaak geword. En dis ’n tragedie; dis so asof die manne lam in die bene geword het. En alles kan aan die kapstok van een ding – skuldgevoelens – gehang word. Lees jy koerante, praat jy met Afrikaner-mans dan is dit dieselfde ding; klagtes en nogmaals klagtes. Dis of die vlugteling ingesteldheid (meestal na Australië) of die geweldsopsie die enigste dinge in hulle koppe is (daar is tog die nie-rassistiese soort wat ’n verandering aan almal se lewens wil maak).

Met ’n diep sug wonder ek of die Afrikanermans weer die pioniers kan word wat ons so beroemd gemaak het. Natuurlik is die Groot Trek vandag nie ’n weg trek nie (jis, waarheen trek jy), maar eerder die oorwinning van die psige. Kan ons as gelykes in ’n moderne gemengde gemeenskap (waar almal – anders as gedurende apartheid – op gelyke behandeling geregtig is) iets ordentlik doen vir almal? Natuurlik beskou ek die Boeddha se Weg (veral die Middeweg deur Nagarjuna verkondig) as ’n moontlik oplossing. Onlangs lees ek in ’n vrouetydskrif (sal die naam daarvan eerder verswyg) wat my vrou by die huis aanbring oor die sogenaamde tien mites van geluk. Een sogenaamde mite verkondig byvoorbeeld; "gelukkige mense voel nooit hartseer of terneergedruk nie" en die bydrae gee dan ’n "waarheid" wat in hierdie geval beweer dat "ook gelukkige mense soms ongelukkig voel". Ek is bly hierdie wyshede van die Boeddha (sonder om dit so te etiketteer) is besig om deur te kom na ons en soos alles gaan dit deur die vrou. Ons Afrikanermans (ja ek sluit my en jou in) is so effe arrogant en dink onsself die middelpunt van alles, maar in werklikheid is dit die vrou wat die verandering in enige gemeenskap op ’n baie subtiele vlak bewerkstellig. Is tog deur die ma wat ’n seun ’n man word of hoe?

Laastens; oor oom Angus het ek ’n ambivalente gevoel. Dié siel het bietjie hoop vir die (bedrukte) Afrikanerman gegee, maar dit (gebaseer op die ou Calvinistiese patriargale godsdiensstelsel) is ten koste van die vrou wat weereens ’n "slaaf" gemaak moet word. Celeste Coetzee het al my ondersteuning om haar standpunt so sterk as moontlik te stel. Dat mense ontstel word deur haar "skeur van bladsye uit die Bybel" wys ook dat sommige mense (alhoewel hulle dit luidkeels sal ontken) ook afgode (die kommersiële gedrukte Bybel) het. Natuurlik het ek geen probleem met sommige waarhede (soos Jesus se bergredes en Salomo se sêgoed) in die Bybel nie. Dis net die feit dat mense ’n afgod daarvan maak, wat krap. Ek kan nie wag vir Celeste Coetzee se antwoorde op sekere vrae nie.

Gegroet

Amitofo

Zhi

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top