(Eie vertaling, verwerking en redigering van die oorspronklike verslag van dr P L de Wet in G Jordaan, samesteller, se boek ZO ZIJ STIERVEN, HAUM, Tweede Druk, 1917):
Vroeg die oggend van die 4de April 1902 staan ’n aantreklike jongman, Frans Engelbertus Marx Du Randt, met ’n sterk gespierde liggaam en breë skouers op Cradock se markplein langs ’n mede-rebel, Jan van Heerden, aan wie se hande syne geboei is. Hulle is as veroordeeldes saam met die dorp se manlike inwoners aanwesig om die doodvonnis van die twee rebelle aan te hoor. Hy kom beheers en kalm voor. Nog sy houding, nog sy voorkoms verraai enige sweem van vrees of neerslagtigheid. Die vonnis dat hy gehang word, is reeds vroeër deur die Britse bevelvoerder in Suid-Afrika, Lord Kitchener, bekragtig. As rebel sou hy egter nie gehang nie, maar deur ’n vuurpeloton tereggestel word.
Terug in sy sel, vriendelik en openhartig teenoor almal wat horn teëkom, skryf hy die aand afskeidsbriewe aan sy ouers en bloedverwante. Teen nege-uur kniel hy om diep en ernstig te bid voordat hy rustig vir vier tot vyf uur aan die slaap raak. Dit was nog donker toe dr De Wet die oggend van 5 April in die maanlig saam met JJ van Rensburg na die gevangenis ry. Hulle kry Du Randt in die sel naby die deur, klaar aangetrek en sonder enige teken van angs of gemoedsteuring in sy oë of houding.
Toe Van Rensburg vra of hy ten volle besef wat binnekort met hom gaan gebeur, antwoord hy met ’n duidelike stem: “Ja, ek is heeltemal gereed”. Op ’n verdere vraag antwoord hy dat hy volkome bereid is om sy God te ontmoet. Selfs die korporaal van die wag, baie senuweeagtig en neerslagtig, roep buite die sel uit: “Goeie Hemel! Watter verbasende geesteskrag het die man nie!” Buite op straat sien hulle dat die persone wat Du Randt na die plek van teregstelling sou vergesel, reeds by ’n viersitplek Kaapse kar (kapkar) met twee sterk muile staan en wag. Die perde van die berede begeleiding (eskort) van tien gewapende man voor en agter die rytuig staan senuweeagtig en rondtrap.
Asof die natuur saam treur, werp die grou skemering van die dagbreek ’n sombere atmosfeer om die nabygeleë huise en bome toe die sersant oor die eskort aankondig dat alles gereed is en die gevangene na buite gebring moet word. Toe die prisonier uitgelei word, draai hy hom vriendelik na die sipier en sê met ’n glimlag: “Goeie dag Oubaas; hartlike dank vir al die vriendelikheid aan my bewys.” Hulle neem hulle plekke op die kar in: Du Randt en die soldaat agter, Van Rensburg en die drywer voor.
Om sesuur kom dr De Wet en dié wat met hom saamloop by die plek van teregstelling op die linkeroewer van die Visrivier, ander-halfmyl van die dorp, aan. Die son is nog nie op nie maar dit is reeds lig genoeg om die teiken op tien tree duidelik in die visier te kry. Die vuurpeloton van twaalf man onder ’n luitenant wag in die grou oggend op die aankoms van die gedoemde. Tien tree agter hulle staan ’n stoel wat tussen twee ysterpale vasgemaak is met ’n graaf langsaan. Twee tree agter die stoel wag ’n leë graf met ’n halfsak ongebluste kalk eenkant.
Du Randt, wat nog met handboeie aan ’n soldaat vas is, klim van die kar af, stap onbevrees na die stoel en gaan dadelik sit. Selfs met die oop graf agter hom neem hy met ’n glimlag van Van Rensburg afskeid en bedank hom vir sy belangstelling. Nadat die veroordeelde se baadjie losgeknoop is om die wit hemp te ontbloot, plaas die dokter sy hand op Du Randt se hart. Die hartklop was reëlmatig en ongestoord.
Toe die soldaat sy arms aan die stoel se leuning begin vasbind, vra die gevangene vir Van Rensburg om die soldaat te versoek om hom nie vas te bind nie; hy onderneem om stil te sit. Die soldaat antwoord in Engels dat hy verplig is om sy instruksies uit te voer, waarop Du Randt opmerk: “Doen wat jy nodig ag, ek is gereed.” Sy oë word toegebind en toe was hy “... alleen, waarlik alleen. Geen vriend, geen bloedverwant, geen geliefde om hom in hierdie doodsuur by te staan; geen moeder of vader om hom vaarwel te soen of woorde van troos en bemoediging in sy oor te fluister nie ...”
Die bevele van die luitenant Mink skerp en skel deur die nou helder oggendlug: “‘Right about face ... Present arms ... Fire!’ ... Krrr, rr, krak, bulder die Lee Metfords ...“ Die verwonde gee ’n diep wurgende sug, sy kop val vooroor en sy arms ruk opwaarts. Na ’n paar sekondes gee hy weer eens ’n benoude sug en toe ruk sy kop finaal agteroor. Dit het gelyk of hy dood was, maar hy het nog steeds asem gehaal. Op sy bors sien die dokter klein, ronde blou-agtige gaatjies, drie bymekaar in lyn met die linkertepel. ’n Rilling huiwer deur die slagoffer se ledemate, hy gee die laaste snik en die liggaam hang nou slap aan die toue waarmee hy vasgebind was. Hy was dood, sy gees het verhuis na sy ewige tuiste. Sy liggaam word in komberse toegedraai en in die graf gelê.
Humphries du Randt

