DP Botha, Wellington se donkie, vier sy 96ste verjaarsdag

  • 9

Foto van DP Botha: verskaf

David Petrus Botha (hierna DP) se 96ste verjaarsdag op 23 Februarie is met lofprysinge en eerbied op een sosiale netwerk begroet. “Uitsonderlike kerkleier en stryder in diens van die Here.” Hierdie twee komplimente staan in skrille kontras met die vergruising van sy karakter vanweë sy standpunte teen apartheid in 1948 en sy veelbesproke boek Die opkoms van ons derde stand (1960) waarin hy integrasie tussen wit en bruin bepleit het. Hy het die opkoms en afskaffing van apartheid beleef; die lewe en sterwe van vyf wit Suid-Afrikaanse eerste ministers (DF Malan, HF Verwoerd, JG Strydom, BJ Vorster en PW Botha) asook een swart president (Nelson Mandela) oorleef. Hy geniet tans nog goeie gesondheid.

“Wellington se donkie wat met Hendrik Verwoerd swaarde gekruis het.” Hierdie botsing gee ’n dramatiese blik op DP se roeping as evangelis, teenstander van apartheid en kampvegter vir menseregte. In teenstelling met die respek van bruin kollegas en gemeentes, het baie van sy Afrikaner-tydgenote en joernaliste hom as ’n Afrikaner-agitator voorgehou, iemand wat ver van sy geliefde Afrikanervolk verdwaal en agter die Bybel geskuil het om sy integrasiedoel te bereik.

Wie is DP Botha? Wat was die magte, gebeure en invloede wat hom intellektueel en geestelik gevorm en die saadjies van burgerlike aktivisme in hom laat ontkiem het? Wat was sy menings omtrent apartheid voor en na 1948? Hoe is sy omstrede boek getiteld Die opkoms van ons derde stand ontvang? Dit is enkele vrae wat in hierdie opstel bespreek word.

Familie-agtergrond en lewenswaardes

DP het die eerste lewenslig op 23 Februarie 1925 op sy oom se plaas, Rust en werk, in Dal Josafat, Wellington, aanskou. Sy ouers, Johan George en Francina Susanna (néé Malan, ’n familielid van DF Malan) was pioniersendelinge onder die Tiv-gemeenskap van Nigerië. Uit die enkele gesprekke met DP was dit duidelik dat hy in ’n gelukkige en gebalanseerde Christelike gesin grootgeword het. Ten spyte daarvan dat hulle ouers lang tye van hulle kinders af weg was, was al die waardes wat sou bydra tot die maksimale verstandelike, emosionele en geestelike lewe vroeg by die kinders aangewakker. Die Botha-kinders is geleer dat sukses meer as talent en vermoë behels. Dit het grotendeels met jou unieke karakter of persoonlikheid te make. Karakter beïnvloed prestasie. Goeie karaktertrekke sluit ’n magdom edele waardes in, soos integriteit, eerlikheid, behulpsaamheid, betroubaarheid en ’n ingesteldheid op die waarheid. Soos in die geval van sy eie seuns het die jong DP reeds vroeg in sy lewe besluit om sy pa se beroep as mediese evangelis iewers in Afrika te volg. DP matrikuleer in 1941 aan die Hoër Jongenskool Paarl. Hy verwerf drie jaar later ’n BA-graad met Wysbegeerte en Sielkunde as hoofvakke cum laude aan die Hugenote Kollege, Wellington.

Wellington se donkie op sy Damaskus-reis

Tydens my laaste besoek aan DP voor die uitbreek van die Covid-pandemie in 2020 wou ek meer oor sy roeping en opleiding as evangelis uitvind. Hy het opgestaan, stadig na sy eenvoudige boekrak gestap en ’n boek met die gesig van ’n donkie met trots oorhandig. Die boek Naamdraers van Jesus: Wellington se Donkies (2018), saamgestel deur Pieter Bingle, vertel die verhaal van die 567 Donkies wat in die loop van 85 jaar by die Sendinginstituut studeer het.

Vir DP en sy mede-sendingstudente was en is dit ’n erenaam. Die ontstaan van die naam Donkie vir ’n sendingstudent aan die destydse Wellingtonse Sendinginstituut kom uit die beginjare van die Boeren Zending School. By die opening van die skool in 1903 het John Murray onder andere van die studente gesê dat hulle “zich aanbieden zullen om den naam van Christus te dragen voor de heidenen in ver verwijderde deelen van Afrika”. Toe die Wellingtonse sendingstudente daarna aan ’n naam begin dink, het Andrew Murray met die naam Donkie vorendag gekom na aanleiding van Jesus se intog in Jerusalem op die rug van ’n donkie. So sou die donkie die sendeling as draer van Jesus se naam en die evangelie voorstel. Hulle het die naam van Christus en die evangelie oor grense heen met ongeëwenaarde ywer gedra. In die kerkgeskiedenis sal hulle altyd bekendstaan as die toegewyde naamdraers van Jesus. Hierdie sendelinge was die “opvolgers” van die donkie wat deur GK Chesterton in sy gedig “The donkey” beskryf word. Hy sê die donkie is lelik, “[w]ith monstrous head and sickening cry / And ears like errant wings.” Eintlik is die donkie ’n bespotting van die diereryk. Maar in die laaste strofe skryf Chesterton: “Fools! For I also had my hour; / One far fierce hour and sweet: / There was a shout about my ears, / And palms before my feet.”

In 1944 het die Christelike Studente Vereniging, waaraan hy behoort het, ’n konferensie rondom rasseverhoudinge gehou. DP moes ’n voordrag oor vakbonde, ’n tema waarvan hy bitter min kennis gedra het, hou. In opdrag van sy sosiologiedosent het hy Kaapstad besoek om meer oor die tema te leer. Vir die eerste keer in sy lewe het hy onderhoude met geleerde bruin mense gevoer. Een sodanige persoon, Robyn Hoedemaker, het die jong student meegedeel dat die Afrikaner- en bruin gemeenskappe vreemdelinge vir mekaar is hoewel hulle in dieselfde land woon. Met aanmoediging van Hoedemaker het DP onderneem om studiegroepe te vorm en maandelikse sosiale en nie-akademiese gesprekke te organiseer om sodoende meer van mekaar te leer. Ironies genoeg is Hoedemaker se voorstel by die konferensie wat deur Andries Treurnicht (toe nog ’n verligte Afrikaner, aldus DP) gelei is, aanvaar. So is ’n weg gebaan vir openhartige gesprekvoering oor verskeie geestelike, politieke, ekonomiese en sosiale vraagstukke tussen Afrikaner- en bruin leiers.

Die erns waarmee DP die studiegroepe en ontmoetings bejeën het, het verreikende gevolge vir DP ingehou. Een aand onderwyl hy in die geselskap van George Gibbs na die stasie in Athlone onderweg was, het hy ’n Damaskus-ervaring gehad. Hy het tot die diepe besef gekom dat hy geroep is om in Kaapstad, nie Nigerië nie, te arbei. DP het sy ervaring met sy vriend George gedeel, waarop laasgenoemde se woorde was: “As die Here met jou praat, mag jy nie ongehoorsaam wees nie.” DP het sy ervaring ook met sy ouers gedeel. By die voltooiing van sy teologiese studie as evangelis het DP besluit op nagraadse studie in sielkunde.

Bedenkinge oor apartheid

Tydens sy studie aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys het DP tot die besef gekom dat segregasie, soos deur Afrikanerpolitici en -kerkmense verkondig is, geen oplossing vir die land se rassevraagstuk bied nie. Dit was gebiedend noodsaaklik dat Afrikaners die bruin mense beter leer ken. Aan die einde van 1947 is DP ’n studiebeurs aangebied om sy doktorsgraad in kliniese sielkunde aan die Universiteit van Bonn en aan die Universiteit van Tubingen  te voltooi. Hy is ’n pos as dosent aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys beloof. Terselfdertyd is hy teen die karige salaris van 25 pond per maand as medeleraar na die gemeente van Wynberg beroep. “Twyfel kan ’n mens in ellende dompel,” sê die skrywer Jannie le Roux. Al manier om twyfel te beveg, is om te glo jy neem die regte besluit. Jy kan slegs glo as jy weet wat jou koers in die lewe is. Die besluit was gewis nie maklik nie, maar hy het die studiebeurs van die hand gewys en op 25 Januarie 1948 in Wynberg as evangelis begin werk.

Die kwessie van wat apartheid aan die swart, bruin en Indiër-gemeenskappe gedoen het, sal nooit ten volle geboekstaaf kan word nie. In 1948 het Suid-Afrika verreikende politieke veranderinge ondergaan wat die lotgevalle van die land dekades lank sou bepaal. Die Nasionale Party van DF Malan het saam met die Afrikanerparty van NC Havenga die bewind by Jan Smuts oorgeneem. Apartheid, met sy klem op die rasseskeiding en die miskenning en verwerping van gelyke politieke regte vir die swart, bruin en Indiër-gemeenskappe, was die deurslaggewende faktor waarom Malan gewen het.

Diegene wat eerlikheid in hulle lewenswandel nastreef, kan nie praktyke ondersteun wat op oneerlikheid en leuens gebou word nie. DP was een van die min Afrikanerpredikante en seer sekerlik een van ’n handjie vol van Wellington se Donkies wat ongelukkig was oor die apartheidsmaatreëls wat bruin en swart mense se lewens ingrypend verander het. Apartheid het die nie-wit gemeenskappe groot onregte aangedoen. Ironies genoeg het DF Malan dieselfde oortuigings as DP gedeel, maar was onwillig om dit openbaar te maak. In Izak Morkel, medekollega in die Ring van Wynberg, het DP ’n vennoot gehad wat die eerste versetaksies teen apartheid beplan het. Die Ring van Wynberg het in Oktober ’n besluit teen apartheid geneem. Op 16 Desember 1949, die dag van die inwyding van die Voortrekkermonument, is daar in gemeentes van die Sendingkerk ’n dag van gebed gehou om van die “apartheidsbeproewing” verlos te word. DP het verklaar dat die dag juis gekies is om te bewys hoe groot die verbittering teen die Afrikaners binne die Sendingkerk was. Op 17 Desember het sowat 900 mense ’n groot protesvergadering in die Kaapstadse stadsaal bygewoon, waar bruin en swart kerke hulle standpunte teen apartheid uitgespel het. DP is in die Afrikaanse dagkoerant vergruis vir sy standpunte teen apartheid. Piet Cillié, waarnemende redakteur van Die Burger, het hom verkwalik daarvoor dat hy nie net die protesvergadering bygewoon het nie, maar boonop ’n politieke toespraak gelewer het. Aldus Cillié moes DP volle verantwoordelikheid neem daarvoor dat hy deur sy volksgenote “gebrandmerk staan”. DP, verworpe deur sy volk, is met ope arms by Sendinggemeentes in Wynberg (1948–1960), Clanwilliam (1960–1964), Malmesbury (1964–1968) en Bellville (1968–1979) ontvang.

Op die oorlogspad met Verwoerd

Na 1948 het die wêreld vir die apartheid-minderheidsregering en wit mense al hoe ondraagliker geword. Oral in Afrika het lande onafhanklikheid verkry. Die nuwe Afrikastate het apartheid bestempel as boos, wreed, onmenslik, en teenstrydig met die Handves van Menseregte van die Verenigde Nasies. Die Sharpeville-tragedie in Maart 1960 het ’n stormtyd, meer nog ’n revolusie, in die Suid-Afri­kaanse politieke en kerklike lewe ingelei. Die NP het ’n krisis in die gesig gestaar. Te midde van die politieke onsekerheid verskyn DP se opspraakwekkende boek Die opkoms van ons derde stand, waarin hy versoening tussen wit en bruin op grond van gedeelde waardes bepleit. Verligte Afrikaners wat die boek aanbeveel het, sluit in Willem van Heerden (redakteur van Dagbreek en Sondagnuus) AM van Schoor (direkteur van die Suid-Afrika Stigting), WA de Klerk, SP Cilliers van Stellenbosch, asook HJJM van der Merwe (Afrikaans en Nederlands by Unisa). Die voorwoord deur Van Wyk Louw veral belangrik. Van Wyk Louw het geskryf dat hy verheug is daaroor dat skrywer ’n mede-Afrikaner is. “Die Kleurlinge is ons mense, hoort by ons. Afrikaners het verkeerd gehandel teenoor die bruinmense, ons het hulle verwaarloos en selfs afgestoot. Ons moet regmaak wat verkeerd gedoen is. As die daad van restitusie teenoor die bruin mense nie gedoen word nie, sal die tot geweldige verwydering lei. “

Verwoerd was glo woedend oor die boek. Van Wyk Louw het aan Koos Human, die uitgewer, vertel dat hy by ’n vertroulike bron verneem het Verwoerd het gedreig dat “Van Wyk Louw en ds Botha se koppe inmekaargeslaan” moet word. Die dreigement van Verwoerd, indien dit waar was, het weer gewys op Afrikanerleiers se onvermoë om “rebelle van gees” in sy midde te hanteer. Die tragedie is dat “rebelle van gees” nie as verkenners erken was wat mede-Afrikaners intellektueel uitgedaag het om te vernuwe nie. DP se boek was, aldus JB du Toit, “’n ligbaken op die dikwels duistere pad van verhoudings tussen wit en bruin Afrikaansspre­ken­des”.

Die NG Sendingkerk sal nooit weer dieselfde wees nie.

Die 1970’s was ’n dekade waarin politieke krisisse in nimmereindigende golwe oor Afrika en Suid-Afrika gespoel het. Die winde van verset het ook sterk teen die wit kerk gewaai. Aan die einde van 1974 het DP as moderator ’n kritieke Sendingkerksinode in Worcester gelei, wat die begin van ’n nuwe era, nie net in die geskiedenis van die bruin kerk self nie, maar ook in sy verband met die wit NG Kerk en met die ander swart en Indiërkerke, ingelui het. Tydens die sinode is die verbod op gemengde huwelike verwerp, gesamentlike aanbidding aanvaar en by die wit kerk aangedring om hulle deure vir alle rasse oop te stel en wit leraars gevra om volle lidmate van die Sendingkerk te word.

Slot

Botha het as redakteur van Die Ligdraer voortgegaan om talle rigtinggewende hoofartikels te skryf wat van diep nadenke oor kerklike en rasseverhoudings getuig het. Terwyl hy onreg konsekwent afgewys het, het hy deurgaans nie-gewelddadigheid in die Suid-Afrikaanse konteks bepleit. Ná sy emeritaat dien hy vir tien jaar as kurator van die SA Sendinggestig-museum. Die kroon op hierdie werk is sy publikasie van Die twee-eeue erfenis van die SA Sending­gestig 1799–1999. Vier van sy seuns het in sy voetspore gevolg en predi­kante ge­word. As jy terugkyk op die lewe van DP, sien jy ’n ware Afrikanerheld van die gees wat sy volk in die woorde van Willem Pretorius, joernalis, “van ’n geestelike afgrond wou red”.

 

  • 9

Kommentaar

  • Baie dankie vir hierdie artikel oor 'n merkwaardige man. Ek het die voorreg gehad om op sy kerkraad in Bellville-Suid te dien

  • Pieter Cloete

    Dankie Raymond vir 'n insiggewende artikel oor Oom David. Ek onthou nog hoe ek' n lang gesprek met hom gehad het as navorser vir die Theron Kommissie en daarna by sendingbyeenkomste. Sy boek was ook voorgeskryf toe ek in 1970 my Hons in Sosiologie gedoen het. Ear uitstaan is die klem wat hy op stand geplaas het in teenstelling tot die huidige obsessie oor ras en dat hy nooit gewelddadig by die stryd betrokke was nie.

  • Elsa (Doortjie) Perold

    Ek is DP se enigste dogter en baie trots dat hy my pa is. Hy was in alle opsigte n onkreukelbare voorbeeld van intergriteit en eerbaarheid met n oortuiging van Sy roeping en die bereidheid om sy Here te gehoorsaam.

  • Rachel Sophia Theunis

    Volgens my moeder , wat in 2010 gesterf het, het Ds DP Botha vir my gedoop. Dis die grootste eer nog vir my.

  • Gerrit Boonstra

    Dis n geestelike ervaring om hierdie skandelike geskiedenis van die Afrikaner en die rol van die Afrikaanse kerke te lees. Geestelik ja, want die liefdelose diskriminasie, verwerping en minagting van mede-Christene enkel en alleen op grond van velkleur en ras is godskreiende onreg.
    Die kern van die Christelike godsdiens is immers dat die mens geskape is in God se beeld, en dat Hy sy skepping "baie goed" noem(Gen1). Tweedens het God die mens oneindig en onvoorwaardelik lief, en niks kan ons daarvan skei nie (Rom. 8). Derdens is daar net een opdrag nl. dat ons God sal liefhê met ons hele wese en ons medemense soos ons Self. Vierdens is hierdie geloof n daad van liefde (Gal.5) wat 'n éénheid tussen God en mens, mens en mens, Jesus en mens, Christus en mens, Heilige Gees en mens (Joh.14, 17) tot stand bring.
    Wat die kerk gedoen het is om vir egoïstiese, opportunistiese, selfsugtige, liefdelose redes hierdie Heilige Eenheid van die goddelike kosmiese skepping te (probeer) verbreek deur die fundamente te verskaf van n politieke orde genaamd Apartheid. Dat dis so skouspelagtig in duie gestort het, is sekerlik genoeg bewys dat onreg, onregverdigheid, diskriminasie, liefdeloosheid nooit sal standhou nie
    Ons eer dus persone soos DP Botha, wie se geloof in God hom staande gehou het teen verguising uit eie geledere. Ek skaam my dat ek my nie sterker uitgespreek het en daadwerkliker opgetree het toe die boosheid soos n dief in die nag tussen ons Afrikaners rondgesluip het nie. En stééds onder dekmantel van rassisme en subtiele maniere van uitsluiting tussen ons rondsluip, ook in die NG Kerk. Mag die Here ons genadig wees dat ons dit inkeer sal kom en bouers van Sy Koninkryk sal wees.

  • O, die donkie is 'n wonderlike ding! - weerbarstig en halstarrig, maar binne 'n ander konteks is dit toe die Donkies wat hard gewerk het om kerk en samelewing op 'n nuwe pad te lei. Wel gedaan, DP

  • 'n Aangrypende, ware, hartseer, geskiedkundige verhaal oor ons droewige land se standpunt teenoor apartheid.

  • Dr Raymond van Diemel

    Vriende, neem kennis dat Henry Abdol wat op 26 Maart kommentaar oor Ds DP Botha gelewer het, vanoggend om 05:00 sy stryd teen Covid verloor het. Mag sy siel in vrede rus. Hy was ‘n baie behulpsame persoon tydens my voorgraadse studie aan UWC, 1976-1979.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top