"Droomgeneigd" deur Elana Vorster

  • 0

Droomgeneigd

Vers 1

Dromer van stiltes,
hier in Aandklas se warrel -
vuurpylgesprekke
pen sterre aan my hemel vas.
Fakkelloop in die hoofpad
van my gisters,
mense warrel deur my.
Laat jou hart my holte pas.

Brug

Skryf vir jou sonder woorde,
woordlose akkoorde.
Te veel wat wil saamdans,
gee my asemhaalkans.

Refrein

Dra jouself met kennis, grasie,
wees oplettend, leef jou passie.
Ken jou grense, ken jouself,
pasop vir selfsug en te diep delf.
Praat soms nonsens, wees opreg,
bespreek landsake, raak geheg.
Verset jouself teen realiteit,
wees skaamteloos en droomgeneigd.

Vers 2

Dromer van alles,
hier stop jou stille terughou.
Een mens besluit en breek
met die wegloopverkeer.
Vroegoggend van jou lewe,
jy speel jou plate
vir die liefde.
Jy trap oor my grense weer.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top