Droogte

  • 0

Foto: Canva

Droogte

Die son gil sy moordlied met brandende mond
Getrou mars sy spieëlings oor trillende grond.

Sag prewel blare ’n biddende sug,
waar dwarreltjies kleef aan die ylblou lug.

Met blare vol swaarkry in ootmoed gevou
dra smagtende mielies ’n land se berou.

As God in sy toorn hulle witwarm brand,
knak klein koppies krakerig af na die sand.

Plante en diere dra swaar aan die las
wat beter op mense se skouers sou pas,

Maar wie wil die kreune van graanlande hoor
verhewe bo grond in ’n knus kantoor?

Of wie wil na die sug van ’n koringland luister
as bliklonge leuens deur hul koel monde fluister?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top