
Foto: Canva
Droogte
Die son gil sy moordlied met brandende mond
Getrou mars sy spieëlings oor trillende grond.
Sag prewel blare ’n biddende sug,
waar dwarreltjies kleef aan die ylblou lug.
Met blare vol swaarkry in ootmoed gevou
dra smagtende mielies ’n land se berou.
As God in sy toorn hulle witwarm brand,
knak klein koppies krakerig af na die sand.
Plante en diere dra swaar aan die las
wat beter op mense se skouers sou pas,
Maar wie wil die kreune van graanlande hoor
verhewe bo grond in ’n knus kantoor?
Of wie wil na die sug van ’n koringland luister
as bliklonge leuens deur hul koel monde fluister?


Kommentaar
Kom ons digters gesels! Droogte is musikaal ryk en 'n sosiaal bewuste gedig wat die tradisionele Afrikaanse natuurpoësie suksesvol verbind met kontemporêre sosiale kritiek. Die volgende kommetaar 1: Die digter sal sy boodskap verbeter as beelde geskep word van hoe “swaar” voel eerder as om te vertel dat “die diere dra swaar” 2: Die laaste twee verse kan weg gelaat word die digter moet sy lesers toelaat om self tot eie gevolgtrekkings te kom. Om die twee te noem maak die les beperk tot die digter se beelde en ontneem die lesers die genot en verantwoordelikheid om die ruimte self in te vul. 3: Die gebruik van die bliklonge tref vreemd.