My regterarm buig voor my linkerbors verby en met ’n ballende vuis aan die voorpunt van ’n mensgemaakte wapen, swaai ek die punt van my elmboog met spoed en met elke stukkie krag uit my skouer opwaarts, diep uit die wil van onreg in my binneste. Tot waar dit verby en deur die smalende uitdrukking van sy gevreet bars en dit vel, vlees en tande soos ’n hamerslag die vloer vol laat spat en hy flenters agteroor neerval!
Of...
Ek hardloop teen ’n heuwel op. Ek sien die kort groen grasvloer verbyflits en die blou lug vol kolle-kolle wolke wat nader kom. Net om bo-uit te kom en in die lig te spring en vir enige iemand en almal wat wil en kan hoor te skreeu ... voertsek!
“Is dit net ek, of is daar fout?” wonder ek soms.
Daar moet seker ’n sluimerende waansin in my gemoed wees, wanneer dit soms voel dat dit eenvoudig net lekker sal wees om iemand (uiteraard ’n manspersoon) se hele onderbek skeef te foeter; selfs voor hy die geleentheid gehad het om sy snert klaar te praat. Soms kan ek dit in my geestesoog sien gebeur; nou nie met die grafiese detail van ’n wreedaardige rolprent met werklike bloed, hare en velle wat spat nie, maar wel die een potskoot-vuishou of elmboogkap.
Ek kan voel hoe die welling in my gedagtes afspeel, maar tog, so ’n tydjie voor ek die smaakvolle herrangskikking van die ou se tandekas in die volgende toneel laat afspeel, dan begin ek stil lag in my binneste. Terwyl die amper gepynigde prater rustig voortgesels, het ek egter lankal opgehou luister!
Die weg- en heuwel-op hardloop moet seker iets wees van ’n poging om van die deurmekaar wêreld te ontsnap en om effens afstand te verkry. Die skreeu op die ander mense, moet die absolute gatvolheid met alles en almal onderstreep.
“Voertsek” is natuurlik die ordentlike en geredigeerde weergawe van ’n uitdrukking wat in krasse vertaling, met die kortgeknipte begrip vir fornikering vervang kan word. Sonder om blindelings almal met woordsensitiewe gevoelens te na te kom, is die gedagteprentjie die belangrikste letsel: hardloop en opspring en voertsek-gil met beide middelvingers in die lug - dís wat ek wil doen!
Sjoe julle; dit was nou lekker.
En die allerbeste is: bittergalbekke se opinies en ander se oordeel skeel my geensins nie, want ek voel nou goed!
Musiek het ’n baie groot invloed op my gemoed. Die ingeligte musiekmense sê dat streshormoonvlakke deur die regte musiek kan daal. Dit is blykbaar die musiek sélf, nie die lirieke nie, wat die uitwerking het. Dus, my dierbare volk, dit is Jan Blohm se Groentrui se lekker ritme wat my hormone ontstres en dit is die melodie van About Time se How long will I love you wat my bly maak. Waarsonder, menige dag sy lengte sou oorskry het.
Die afgelope naweek was daar ’n musiekervaring van ’n anderse eend se vere by Durbanville Hoërskool. Ons kinders se blaasorkes en ander orkeste van regoor die land, het kom musiek maak en saamwees en al was daar pryse te wen en eerste en tweede plekke, was dit myns insiens die musiek wat gewen het. Niemand se voortande en elmboë het pyn gevat nie en daar was geen gras- en heuwelnalery nie!
Die trompette, viole en tromme het die angel uit verlede week se aanslag op die gemoed gehaal en dit met net lekkerte kom vul.
Om daar te sit en die wonder van ons jong talent te hoor en die passie en toewyding van die dirigente te sien; hulle te sien beweeg en hoe hulle deurlopend met die orkes praat en beduie ... en, die sweet. Dít laat selfs ’n dowe goed voel.
Dit is die musiek wat die alledaagse waansin en frustrasie met soete krag verdryf en die hoop-hormone weer aan die werk sit, maar meer nog, dit is die musiek wat die knopperigheid in die gemoed louter en die goedvoel soos ’n sagte kleed om alles sleg kom toevou, en die nuwe verwelkom ...
“I closed my eyes, drew back the curtain
To see for certain what I thought I knew
Far far away, someone was weeping
But the world was sleeping
Any dream will do” (*)
* Joseph and the Amazing Technicolor Dreamcoat, is 'n operette met lirieke deur Tim Rice, musiek deur Andrew Lloyd Webber en ’n lewensverrykende verwerking deur André Barnard.

