Mens leer meer deur te reis as op Universiteit uit boeke, het een mens eenmaal gesê. Slim ou!
Na my egskeiding het ek soos Eat, Pray, Love se vrou “na myself gaan soek!” Ek het net nie fondse gehad om vir soveel maande te soek nie! Ek het my ou spaargeldjies gesit en tel en besluit waar ek die graagste wou wees. Duitsland en Italië!
Die rompslomp op die lughawe en die opklim op die vliegtuig is alles deel van die ervaring. Uiteindelik het ek gesit, beknop, maar in. Wonder bo wonder het niemand dik langs my kom sit nie, net ʼn slaperige maer mannetjie wat agter sy boek en oorfone weggekruip het, tog te bang dat ek met hom sal gesels. Dit het my gepas, ek was immers ʼn treurende weggooi-eggenoot met wonde en komplekse.
Teen alle waarskuwings in van jetlag en moenie drink nie, het ek twee stewige glase wyn weggeslaan saam met my vliegtuigkos - alles wat ek nie self maak nie is vir my lekker - en probeer slaap. Dit was nie so maklik nie, want regop sit en slaap kon ek nog nooit. Die afwagting het my ook wakker gehou.
Toe ons in München land, het die opwinding my lighoofdig gemaak. Of was dit die min slaap? Die uittog uit die vliegtuig, die Paspoortkontrole en die lughawegebou, alles was vir my ʼn avontuur. Ek het die pad na die stasie redelik maklik gekry en begin ontspan oor my eie onkunde. By die Hbf bahnhof en München was dit ʼn warboel van mense wat tasse sleep en hardloop om ʼn trein te haal. Dit was nog vroegoggend en nadat ek bietjie moes rondvra watter uitgang my na my hotel sou neem, het ek uitgestap om Duitsland te ontmoet. My hotel was twee blokke van die stasie, so ek het sommer my tas gesleep tot daar, ingeboek, gestort en kon nie gou genoeg met my voos en moeg lyfie die nuwe avontuur aanpak nie.
Die Marienplatz het my asem weggeslaan. Die ongelooflike ou geboue en die kerk met sy Glockenspiel. Die 43 klokke en 32 lewensgrootte figure word elke dag 11 uur die oggend “lewendig” en meermale in die somer. Die boonste helfte stel die huwelik van Hertog Wilhelm V met Ranata voor. Wilhelm V was die stigter van die baie bekende Hofbräuhaus. Die Marienplatz lewe van al die toeriste wat onder blou sambrele sit en bier drink en met hulle kameras die Glockenspiel en pragtige geboue afneem. Natuurlik het ek daarna na die Hofbräuhaus gegaan en op maat van die oompah band my lang bier gedrink en bratwurst en sauerkraut geëet. Ek het sommer baie gou met al die ander mense van oral oor die wêreld gesels en saam met almal gedans en opgespring om saam te sing! Sommer vinnig ʼn paar Duitse woorde daar opgetel.
Daardie aand het ek soos ʼn dooie mens geslaap en vroeg die volgende oggend met ʼn deuntjie op die selfoon wakker geword om die Kastele te gaan kyk. Naby die stasie het ek op die bus geklim en gou weer begin gesels met almal om my. Ons het die dorpie Hohenschwanau bereik en met ʼn bussie opgery om na die kasteel te gaan kyk. Die Neuschwanstein kasteel is deur Ludwig 1 uit sy eie persoonlike fondse gebou as ʼn hawe vir sy vriend Richard Wagner en na Ludwig 1 se dood in 1886 is dit oopgestel vir die publiek. Dit word in die somer deur soveel as 6 000 mense per dag besoek en die Sleeping Beauty Kasteel in Disneyworld is op die ontwerp van hierdie kasteel gebaseer. Op pad terug kon ons vinnig stop by die skilderagtige Oberammergau waar die Passiespele elke vier jaar gehou word. Oral in die dorpie word die Passiespele met skilderye teen die mure van huise en geboue uitgebeeld.
Ek was baie spyt om Bavaria so vinnig te verlaat en het met die trein deur mooie Oostenryk na Italië vertrek.
Rome se verkeer was vir my ʼn belewenis. Ek het gou verstaan hoekom almal klein Smart-karretjies ry, want hulle kon op die onmoontlikste plekke met die motortjies parkeer, soms sommer boude eerste teen die sypaadjies. Die toeters - Italian music - lyk na ʼn noodsaaklike hulpmiddel in daardie deurmekaar verkeer. Ek kon glad nie die padreëls, as daar wel is, uitpluis nie!
Die ongelooflike dag by die Vatikaanstad sal ek nooit vergeet nie. Al daardie mense op een plek was skrikwekkend, maar die ongelooflike kunswerke geskilder teen die dak van die St Paul Basilica en die tapisserieë wat die mure vol hang, soms van dak tot grond, het my asem weggeslaan. Ongelukkig het ek nie die Pous ontmoet nie, maar ek het gesien watse paadjie hulle stap wanneer hulle toegesluit word om ʼn nuwe Pous te kies en ook waar hulle begrawe word en ook die plein waar hy gereeld met mede-Christene praat vanaf sy balkon!
Ek kon die newels van selfbejammering voel wegwaai in die Roomse wind en die nuwe gevoel van opwinding het my gevul terwyl ek by die Trevi-fontein staan en deur die pragtige Roomse piazzas stap.
Vroeg die volgende oggend is ek opgelaai deur ʼn groot harige man met ʼn bussie en het ons deur die Roomse verkeer gery met ʼn verbasende spoed! Amalfi-kus toe. Die Strade Statale 163 kronkel vir 40 kilometer teen hoë kranse met ʼn asem-ophou nou pad! Die dorpies Amalfi en Positano is maar twee van die 13 munisipaliteite op hierdie roete.
Ons het in Positano gestop vir middagete en ons kon in die nou, steil straatjies rondstap en by winkeltjies inloer en kyk na al die handwerk wat verkoop word en geure van die heerlike disse indrink. Ek het tussen die bougainvilleas deurgeloop wat soos gordyne langs die strate en oorhoofs hang. Alle kleure!
Een ding wat ek geleer het, is dat ek wil reis! Ek wil verskillende kulture beleef en myself verryk met vreemde en verre plekke! Nuwe motors en besittings sal eers moet bly, want daar is ʼn wye wêreld wat wag!