Drie nuwe direksielede aangestel by Clover Aardklop Nasionale Kunstefees

  • 0

Met die onlangse aanstelling van drie nuwe direksielede by die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees (wat jaarliks in Potchefstroom aangebied word), kry kundigheid en ervaring binne die velde van die uitvoerende kunste en finansiële bestuur ’n verdere hupstoot.

Russel Loubser het einde 2011 afgetree as uitvoerende hoof van die JSE. Onder sy leierskap is die JSE gedemutualiseer en in ’n openbare maatskappy omskep (Julie 2005) en minder as ’n jaar later op die JSE genoteer. Die markkapitalisering van die JSE was teen Loubser se aftrede sowat R6 miljard.

Hy het verlede jaar lewenslange erelidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters ontvang en het ook ’n spesiale toekenning van die Vereniging van Beleggingsanaliste van Suid-Afrika gekry.

Marida Swanepoel is ’n toesigvervaardiger by kykNET vir drama, klassieke musiek en dokumentêre en aktualiteitsprogramme. Sy het haar loopbaan as omroeper/regisseur by die SAUK en die destydse Afrikaanse Radiodiens begin. Swanepoel het ook uitgebreide ervaring in die skryf van radiovervolgverhale en draaiboeke.

Marié-Heleen Coetzee is professor en hoof van die dramadepartement aan die Universiteit van Pretoria (UP). Buiten vir haar studies aan die destydse PU vir CHO, die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) en die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) het sy ook opleiding gekry in verhoogbeweging en opvoering by verskeie instellings in Amerika. Sy is ’n lid van die navorsingskomitee en konferensiespan van Drama for Life.

Volgens dr Steve Booysen, voorsitter van Clover Aardklop se direksie, is dié direksielede ’n aanwins en sal hulle ’n daadwerklike bydrae kan lewer tot die voortgesette gehalte en lewensvatbaarheid van die fees.

Met Clover wat in 2011 aan boord gekom het as ’n naamborg met ’n inspuiting van meer as R30 miljoen oor vyf jaar, is die fees op ’n gesonde finansiële grondslag geplaas en word daar voortgebou op die sukses van Clover Aardklop as een van die grootste feeste in die land.

Die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees word van 24 tot 28 September in Potchefstroom aangebied. Kaartjies is reeds beskikbaar by Computicket.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top