’n WhatsApp-verhouding in screengrabs en 10 gedigte
’n algoritme het ons voorgestel.
ek verstaan jou as data en jy het my nommer.
in vlees sit ons vas, te veel arms en duime ons sukkel
om vat te kry. dis hit and miss as ons vry maar ons wérk
op skerm. elektries oor ’n afstand op ons beste as boodskappe.
ons raai mekaar se raaisels raak ons kan vuur maak met keyboards. toegegee
dis makliker om die ek se grense te verbrand in taal die eie te laat opvlam in koeverte.
skerms is ons weg van minste weerstand, ons is optimaal geformat vir die ruimte van rekenaars.
ek zoom te diep in op jou woordkeuses en al wat jy sien is emojis – maar ook meer van my as baie
ander
ons het die seermaak as eerste orde van sake afgehandel en alle verwagtinge binne veertien dae
vernietig. daar was ’n hol gevoel maar niemand het gehuil nie. jou spook het vir agt weke langs
my gewandel en alles in stof verander. iemand moes die eerste email stuur, natuurlik was dit ek –
vir altyd verdwaal tussen vergeef en vergiftig, en boonop vergeetagtig. wurggreep? wegraak? na honderd en vyftig nagte lyk littekens soos liefde of ten minste nie alleen nie. ek versamel jou soort trivia en klik dan send. so begin ons tweede lewe saam: koordloos bloedloos en nie weer wreed nie.
soms skryf ons met die stoom van ou sondes in die oog maar ons is ontvanklik vir verbande
en dié maal sonder wapens. ons korrespondeer asof ons ’n oorlog onthou maar noem dit nooit
by name nie. dis agter ons soos eergister of ’n voetpad. die toekoms is wifi en multiple startups.
is it over? it depends ... begin dalk weer. druk net weer send. if it’s not okay, it’s not the end.
agt jaar sulke ongereelde aande: weg wêreld ons woon in WhatsApp
duime tas teen sleutels die message tone ’n deurklokkie my kop swaai
oop my brein gaan aan soos ’n straatlig jy skryf vir my en ek skryf terug
ons speel vlugbal of tafeltennis in taal beach bats baby but make it text
en ja daar’s seker seks tussen die lyne – wys my joune dan wys ek jou
myne – maar dié is nie sext nie die plesier is pure teks ’n harsing tot
harsing konneksie onmiddellik soos ’n vlughou oor die net al tik ek in
my tweede taal is hierdie my tuisveld ons albei praat vlot vinger maar
altyd van ver af ons hou dit deesdae ruim en digitaal ons lag hardop
kry lekker genoeg van lees alleen ek wil slegs op jou skerm wees jy
bly bloot gees in die masjien ek voel verhelder deur jou intellek my
langdurigste liefde skerpste korrespondent wat dikwels soos ’n groot
speld soek raak in die hooimied van maande
al agt jaar sulke ongereelde aande
soms lol jy tog so bietjie met my ♥