Dramateks: ’n Skouer in die nag

  • 0

TYD EN PLEK: Kaapstad; winter 1977

 

WERNER SCHUTTE ...... 25 jaar; sagsinnig; nie verwyfd nie

DON MALAN ...... 35 jaar; oorheers graag

FRANK HARRIS ...... dalk 32; ekstrovert; sensueel-manlik

MELODY ATKINSON ...... 30 jaar; verweerde skoonheid; sielsongelukkig; “nimfomaan”

JOE ...... erg blas; skraal; gemeen

KONSTABEL ...... 22 jaar; entoesiasties; uitgeslape

 

TONEEL EEN

WERNER en DON stap by voordeur van woonstel in. DON kyk as vreemdeling rond. WERNER wys vir DON waar om te sit.

DON: Jy moet iets gaan doen aan daardie gesig van jou. Gaan kyk bietjie hoe lyk jy.

WERNER na badkamer. Kom terug met handdoek. Droog sy gesig af.

DON: Hoe voel jy?

WERNER: Beter, dankie.

DON:  Ek moet ook seker weer my ry kry.

WERNER: Dankie vir wat jy gedoen het. Ek sou seker nie die huis gehaal het nie.

DON: En toe kom hulle jou by, nè? Wat het jy dan vir hulle gemaak? (WERNER antwoord nie.) Wat het jy daar gesoek?

WERNER: Kan jy nie raai nie?

DON: Nee, toe, sê, laat ons hoor. (Pouse.) Wou jy iemand optel?

WERNER:  Nie eintlik nie.

DON: Ek moet waai, my mense sal wonder wat van my geword het.  Kom jy baie daar?

WERNER:  Jy wil nie koffie drink nie  ... of ’n drankie?

DON: Dankie. Koffie sal lekker wees. Ek het my nog nie voorgestel nie. Don.

WERNER: Werner.

DON: Ek ry toe daar verby toe ek julle sien.

WERNER: Hulle’t my seker gelos toe hulle sien jy stop so skielik daar. Verskoon my. Ek kry net die drinkgoed. (Glimlag flou.) My vrou slaap al ongelukkig.

DON: ’Skuus?!

WERNER: Grappie. Alles voel so styf in my gesig. (Af.)

DON: Ek sê: Kom jy baie daar?

WERNER (uit kombuis, ná pouse): Nie eintlik nie.

DON: Lyk of jy ’n ou  vir boeke is. Het jy al alles gelees? (Paradeer deur vertrek voor boekrakke en gaan staan seksueel uitdagend wanneer WERNER binnekom met van die drinkgoed. Sal gedurende DON se spraakbeurt nog goed aandra en dan die kitskoffie maak.

WERNER:  Ja ... amper ... ek bedoel...

DON:  Jy was seker al meermale in die moeilikheid as jy so ronddwaal.  Jis, ou, dis mos ’n treurigheid om so agter jou ballas aan te loop? Sê nou iemand sien jou wat jou ken? Jy kan mos skande maak so. Wat gaan jy môre vir die mense by die werk vertel wat makeer jou gesig? Jy sal ’n goeie storie moet uitdink. Ek sien  baie ouens  soos jy daar rondloop.  Al baie gewonder of hulle hul nie skaam nie. (WERNER  gaan koponderstebo sit met sy koffie; hy ly.) Dis miskien goed dat sulke bastards julle bykom. Julle soek dit mos.  G’n ordentlike mens hoort daar nie. Miskien hou julle daarvan om so opgeneuk te word. Dis mos ’n man wat julle so opneuk. Op party van julle moet ’n man pis sodat julle na ’n man kan ruik. (Kom staan agter WERNER.) Dis mos waar, nè? Ek weet wat jy nodig het.

WERNER: Jy’s  ... jy ...

DON:  Moenie so teen jouself stry nie. Ontspan. For fuck sake.

WERNER: Met mense soos julle ...’n mens is nooit seker nie. Jy  sê nie ... jy sal nie erken jy was ook daar ... omdat  jy ... hel, hel, hel ... hou jou so op ’n troontjie. Hoekom ondervra jy my so? Jy is so ... ons ken nie mekaar nie.

DON. Presies.

WERNER: Wat het ons met mekaar te doen?

DON: Ek bring jou huis toe. Uit die gevaar. Nou’s jy so ...

WERNER: Ek is jammer. ’n Mens moet seker alles rustig vat en nie so nadink oor alles nie en nie alles so opweeg nie.  Dis die skok ...

DON:  Reg. Hou alles kalm. Geen bybedoelings nie. Alles reguit.

WERNER: Jy’s die laaste een wat van bybedoelings ...

DON:  Daar gaan jy al weer.

WERNER: Dis so moeilik. Dinge is nie normaal nie. Ons het onder sulke ongemaklike omstandighede ontmoet. Ons was nie op dieselfde vlak nie.

DON. Een was aan die wenkant. Jy’s aan die swak kant. Jy’s die een in die moeilikheid.

WERNER: Dis in sulke omstandighede ... ek kan dan nie dink nie ...  ek dink aan alles tegelyk. 

DON: Sê maar net plein en simpel jy is skaam en verneder. Die soveelste  maal  seker. Nè?

WERNER:  Ek kan nie help nie. Dit gebeur net.

DON:  Wat? Dat jy agter jou ...

WERNER: Ek begin stap. Ek sien ’n man in ’n motor. Sal hy by my stilhou?  Of sal daardie man wat nou van voor af aankom my in die oë kyk? Sal hy met my praat? Miskien ontmoet  ek iemand vanaand. Ek het hom nodig en hy het my nodig, maar dan walg ek die volgende oomblik daaraan. Ek weet dis nie die gewenste manier nie. Maar ek word so desperaat. Hoe anders sal ek iemand ... Ek weet die ideaal is ... iemand in ’n vertrek vol mense. Julle gesels en skielik ...

DON: Skuur hy knieë met jou.

WERNER: Skielik weet jy julle praat dieselfde taal. Dis waarna ek uitsien. Ek smag daarna. Jy weet, ware vriendskap, kameraadskap. Ek wil iets vir iemand beteken. Om ’n werklike geesgenoot te hê. Julle aanvaar mekaar, julle is trots op mekaar, julle vul mekaar aan. Jy kry weer moed vir die lewe.

DON: Hoekom moet dit nou juis ’n man wees?

WERNER: Dit het ek myself al oor en oor gevra.

DON (trek sy skouers op): Wel, elke mens het seker maar sy manier van lewe.

WERNER: Ek glo daar moet meer wees as net die bloot liggaamlike. Maar ... maar dit moet ook daar wees. Seks is wonderlik. As julle twee ...

DON:  Moenie my jou soort seks beskryf nie. Ek stel nie belang nie.

WERNER: Ek raak so desperaat.  Ek wil  met iemand gesels oor hierdie dinge. Maar as ek dit doen, dan dring ek my op aan die ander persoon. Ek belas hom. Of haar. As ek so oor myself praat.

DON: Toe maar, ek luister. Net nie te veel detail nie.

WERNER: ’n Vriend het eenkeer iets vreesliks vir my gesê. Hy is nou ’n predikant. Dit sal my altyd bybly. Hy sê ek is siek soos ’n alkoholis. Hy sê my ontwikkeling is abnormaal. Ek het êrens in my ontwikkeling vasgesteek. Daar waar ’n ander juis voortuitgegaan het. Ek was op universiteit  –  dit het die kurwe ’n bietjie opwaarts gebuig. Maar ek is basies nog agter. Dit is nie lekker  om dit teenoor jouself  te erken nie. Elke keer as ek iets impulsiefs  gedoen het, dan dink ek daaraan: nou was ek weer onvolwasse. Ek sien ... wanneer ek so stap ... dan sien ek middeljariges van lyf, maar met die gesigte van twaalfjariges. Dis sulke onseker, bang gesigte. En soms is dit nog boonop ’n vrou se gesig by die liggaam van ’n man.  Ek weet hoe onseker ék oor alles is. Ek is so onhandig, lomp, onprakties. Ek kan nie ’n lemoen met ’n mes afskil nie. Onvolwassenheid moet verskriklik vir hulle wees.

DON: Sjoe, jy’s  darem regtig vir jou ’n mixed-up kid. Terloops, hoe is jou gesig nou?

WERNER: Nog maar seerderig. Die lip.

DON: Jy’t darem nie ’n passion gap gekry nie. (Sien WERNER verstaan nie.) ’n Tand verloor nie? (WERNER voel-voel.) Het jy darem vriende? Anders as fuck buddies?

WERNER: Ja, ja ... nie eintlik baie nie. Jy?

DON: Baie kennisse. Wat kan jy my nog vertel?

WERNER: Is jy getroud?

DON: Hoekom vra jy? Ja. Het ’n seun.

WERNER: Jy het ’n vrou. Seun. Gevestig. In ’n verhouding. Vas. Jy het iets bereik. Jy leef so volgens die aanvaarde, die normale, die geordende, die verordineerde.

DON (nadenkend):  Ja. Maar dis ook nie aldag... ’n Mens voel so ingeperk. Julle ouens het soveel geleenthede. Om elke hoek wag daar ’n kans. Hier is jy besig om te smag na ’n gevestigde lewe en ek mis weer die avontuur van ’n ongebonde lewe ... Ja... Aan die ander kant... Ek moet ook dit vir jou sê: Ek kan julle soort mense nog vat as daar van liefde sprake is, vriendskap, maar wat ek nie kan vat nie ... ek meen, as dit net julle twee is ... maar ek kan dit nie vat as julle net daarop  uit is om op julle manier ’n lekker tyd te hê nie. As julle so verdomp nie kan omgee in watter hoek of gang ... of by ’n pisbak ... of met wie julle dit doen nie. Dis nie reg nie, dit kan nie reg wees nie.

WERNER: Dink jy ek het nog nooit daaraan gedink nie? Maar dis omdat ... ons word daartoe geforseer.

DON: Baie van julle sal spyt wees as julle nie meer sulke underdogs sal wees nie. Die helfte van die opwinding sal daarmee heen wees.  

WERNER: Ek het soms al gaan stilstaan en gewonder. Ek kan my werklik nie indink  in die verhouding tussen  ’n man en ’n meisie nie. As ons ontmoet ... ’n man ’n ander man ... dan is ons gewoonlik saam in die bed voor die nag baie ver is. Hoe ’n man hom so kan inhou. En om getrou te wees aan een vrou. Dis die soort dinge wat ons ... ja, tog bewonder. Ons mis dit in ons lewens. Wat ons doen, bevredig  nie ... dit hou nie lank nie. Dis altyd so futiel, so nutteloos, so ... Ek kan gil daarvan.

DON: Ek moet waai. My mense weet nie waar ek is nie.

WERNER: Bly nog. Ons het die hele tyd net oor my gepraat. Wat doen jy vir ’n lewe?

DON: Wil jy regtig weet? Nee, wag, boeta. Kom ons hou dit uit die prentjie. Dit kan niks verander nie.

WERNER: Asseblief. Ek het gesels of ek jou al jare  ken.  Ek het baie dinge gesê wat ek nog nooit vir iemand gesê het nie.  ... Ek wil vanaand onthou ... die aand toe ek jou ontmoet het. Ek wil nie hê jy moet hier  wegry en dan lê en verwyt ek my dat ek nie iemand soos jy beter leer ken het nie. Ekskuus, hier gaan ek al weer. Ek maak dit moeilik vir jou om sulke dinge in jou gesig te sê. Dis so moeilik ... as ek iemand soos jy ontmoet het. As hy my eerste op seksvlak leer ken, dan is dit so moeilik om my ander kant, my gewone ek oortuigend vir hom te wys. Alles van my gewone lewe wat ek vir die een vertel, kom dan geforseerd voor, praatjies vir die vaak. So ... so ... ’n gepraat rondom iets anders. Maar tog wil ek daarmee sê: ek is ook deel van die alledaagse lewe. Ek kan myself  juis soms so oorgee aan die gewone dinge van die lewe. Maar het ek al regtig geleef? Sal ek nie eers regtig leef as dit saam met ’n  geesgenoot kan wees nie?

DON: Wat doen jy vir ’n lewe?

WERNER: Keur verhale vir ’n tydskrif.

DON: Interessant. Miskien stuur ek nog my lewensverhaal vir jou. Sal jy dit publiseer?

WERNER (glimlag effens):  Ons publiseer nie pornografie nie. (Sien sy grappie misluk. Dan ernstig.) Ons het ’n streng behoudende beleid. Nou kan jy maar sê wat jou werk ...

DON: Prokureur. Nou moet jy my werklik verskoon.

WERNER: Is jy gelukkig getroud? (DON antwoord nie.) Hoekom nie? (DON swyg. Pouse.) Kom ons praat daaroor.

DON: Nee.

WERNER: As ’n mens soms ’n ding op sy naam noem ... Dan lyk en voel dit nie so gewigtig nie. Maar aan die ander kant neem dit tog iets weg. (Pouse.) Is dit hoekom jy nie vanaand by jou vrou is nie?  Is dit hoekom jy vanaand daar onder was?

DON: Moet ek alles vir jou uitspel?

WERNER: Ons het mekaar nodig?

DON (gryns; raak dan kalmer): Wat kan jy doen?

WERNER kyk hom eers in die oë, dan na sy skoot. Kniel voor DON.  Wanneer hy vooroor buig, gryp DON hom aan sy skouers, druk hom effens weg, maar hou hom steeds vas.

DON: Ek weet nie. Ek glo nie ons moet dit doen nie.  Ek’s jammer, ek het te veel dinge op my brein. Jy moenie sleg voel nie. Miskien ’n ander keer. As ons mekaar eers beter ken. Ek is nie gewoond hieraan nie. Jy sal my moet leer. (WERNER staan op met ’n laggie.) Waaroor lag jy?

WERNER: Ek het nooit gedink dit sal met my gebeur dat ek iemand sal moet leer nie. Ek het gedink ek is die een wat nog altyd leer.  Ek is eintlik skaam dat ek nie meer ’n medemaagd is nie.

DON (staan op): Dankie vir jou vriendelikheid, vir alles.

WERNER: Ek is die een wat moet dankie sê. (Wanneer DON die deur oopmaak, intens.) Jy gaan beslis weer kom?

DON: Wil jy my regtig weer sien? Hoekom?

WERNER: Sommer net vir die geselskap?

DON: Sure. Waarom nie? Tot siens, ou. (Kyk na die nommer bo die deur.) Nommer 401. Ek sal onthou.

WERNER: Tot siens, jong.

DON af. WERNER kyk oomblikke lank in ’n spieël. Onthou dat hy kan gaan kyk hoe DON vertrek.Gaan haastig na venster. Geluid van motor wat vertrek. Daarna gaan sit hy in “Don se stoel”.

 

TONEEL TWEE  

 ‘n Week later. Middag. Dit reën. WERNER en FRANK kom woonstel binne. FRANK kyk onbeskaamd rond. WERNER bly gespanne.

WERNER:  Jy’s ... Frank, nè? Ek’s Werner. Sit. Maak  jouself tuis.

FRANK: Thanks. Mooi plek. Hoeveel betaal  jy?

WERNER (skrik; hulle vra dit almal as hulle geld wil hê): ’n Mooi klompie.

FRANK: Ek het jou dadelik  herken. Dis nou een ding, ek is ’n ou wat gesigte onthou.

WERNER: Ja, ek het jou laas by Seepunt  op die strand gesien.

FRANK: Ek het jou ’n sigaret gevra, maar toe het ek maar weer aangestap, want jy’t half geklink of jy ’n Duitser kan wees toe jy Engels gepraat het. Wel, en met Duitsers kan ek nie lekker gesels nie. Wel, ek meen ’n mens moet darem met die ou kan gesels, ek meen. Toe stap ek maar aan. En jy weet, daai selfde  middag het ek vir die meisie, Melody, ontmoet daar op die strand. Sy’t ’n kind by haar gehad. Ons het begin gesels, lekker stuk, ek kon sien sy het iets. Wel,  om ’n lang storie kort te maak, ons is na haar woonstel toe. Die kind was wragtig by. So, ons drink toe eers iets en ek kan sien sy wil dit hê. Maar ek was vrekbang, want waar’s die hubbie dan? Wanneer kom hy nie daar ingestap nie  en hier’s ek op die job! Nee, sy sê hy’s by die werk, dis nog vroeg en die kind sal ook netnou slaap. Ek gee dit toe vir haar. En toe ons klaar  is, drink ons weer en toe is dit weer sukke tyd. Toe dog ek, wel, hier sal ek moet uitkom, of daar bly niks van my tool oor nie. So, ek maak toe verskoning en ek sê ek wil sigarette gaan koop. Wel, gewoonlik gaan koop ek sigarette en kom eers ’n jaar later  terug. Maar snaaks, nie dié keer nie. Ek gaan toe terug. Maar in die meanwhile het hubbie  huis toe gekom en ek dog, shit, wat gaan ons nou maak? Maar sy’t ons ewe kasueel voorgestel aan mekaar en hubbie drink toe iets saam met ons. En hulle nooi my saam  na ’n vleisbraai in die Paarl.  Hel, en daar raak hubbie so gekaait, hy kan nie regop bly nie, en Melody hou net aan ek moet haar terugbring Kaap toe. (Laggie.) Hoe ons dit gemaak het, weet ek nie, sulke ente ry ek wat ek byna fokkol voor my sien. Dan sê  Melody net: “Frank, ons moet by die huis kom.” En dan ry ek maar weer. En jy weet, ek ken mos nie eintlik die Kaap nie. Anyway, ons kom toe darem safe by die huis aan. Die kind het saam met hubbie in die Paarl agtergebly. En daardie nag, hier drieuur, vieruur, toe wil sy dit weer hê. Hel, die volgende middag twaalfuur, toe lê ons nog in die bed, kaalgat, en toe voel ek dit begin darem nou erg op my tool werk. Jy weet seker nie van ’n vrou nie, hel, maar dit was of jy jou ding in ’n pot acid steek.Toe kom hubbie, die kindjie en sy pals van die Paarl daar aan en hulle begin weer drink en ek moet  saam drink. Toe dink ek, Frankie boy, jy moet maak dat jy hier wegkom. Ek sê toe ek wil Sandy Bay toe gaan. Eers offer hubbie om my ‘n lift te gee, maar ek sê nee, ek hike. Hel, so het ek toe op ’n manier ge-escape van hulle. Jy moes my tool gesien het. Rou. Maar Sandy Bay se soutwater het baie gehelp. Ek het saam met ’n gay ou teruggekom stad toe. Maar hy was nie ’n lekker ou nie. Jy weet, ek hou nie van plastic people nie. Ek haat hulle.  Ek was op pad stasie toe toe ek jou weer sien. Ek wou deurgaan Goodwood toe na my mense toe. Ek het hulle seker nou ’n week laas gesien. Maar jy weet hoe ou mense is, hulle verstaan jou nie, wil altyd weet waarnatoe jy gaan en waar jy was. Ek kan nie met hulle praat nie. Kyk, ek kan met jou praat.

WERNER: Bly jy by hulle?

FRANK: Nee, ek het jou mos vertel, ek is hier met vakansie. Ons was ses wat so op ’n  hiking trip van Jouies af gekom het. Ons het daar by Knysna langs gestap. Toe’t ons hier Kaap toe gekom. Die ander is al terug. Ek bly so ’n bietjie hier. Ek kry partykeer so ’n feeling oor my, ek moet weer ’n slag ’n change maak. Ek wil die wêreld so ’n bietjie uitcheck hier. Maybe, ek maak nog my mind op en bly hier in die Kaap. Begin my eie besigheid. Jy weet, ek is saam met my broer in ’n besigheid daarbo in Jouies.

Pouse. Hulle raak bewus van mekaar.

FRANK (met laggie): Wel, afgesien daarvan dat ons nog saam in die bed gaan spring, mag ek ’n bad gaan vang? Ek voel nog so taai van Sandy Bay.

WERNER (ongemaklik; herinner hom aan vorige onaangenames): Ja ... seker.

FRANK: Het jy iets op jou brein?  Jy kan maar praat. Jy moet weet ek is ’n bietjie old-fashioned ... weet nie mooi hoe nie.

WERNER:  Ek ... ek  wil dit maar graag voor die tyd vra. Is jy in die game vir geld?

FRANK: Never! Ek’t jou mos gesê ek is old-fashioned wat dié dinge aangaan.

WERNER: Nee, maar dan’s dit gaaf. Ek wou maar net weet ... met dié dat jy  op pad hiernatoe geld vir sigarette gevra het. Dit het my herinner aan ander wat ingegaan het vir betaling.

FRANK: Man, dis maar net dat jy my in ’n slegte tyd gevang het. Ek het mos gesê ek was omtrent ’n week laas by my mense. Reën dit nog?

WERNER: Ja, dit lyk so. Ek sal die bad vir jou gaan voltap.

WERNER af. Water wat loop. FRANK pluk skoene uit. Bekyk sokkies.

FRANK: Werner! Werner!

WERNER: Ja?

FRANK: Hel, Werner, jy’t nie dalk ’n paar skoon sokkies om te leen nie?

WERNER (pouse; dis ’n herinnering): Ek ... ek dink so.

FRANK: Of nevermaaind, ek sal hierdie  paar uitspoel. Dan kan hulle droog word hier voor die verwarmer. (WERNER kom uit badkamer; water loop nog. FRANK wil instap.) Sal jy my rug was? Dan raak ek verlief op jou en dan trou ons sommer.

Hulle gaan saam in by badkamer.

 

TONEEL DRIE

’n Rukkie later. Popmusiek speel. FRANK sit gemaklik in “DON se stoel”. Hy is kaal bolyf. Haal sokkies voor verwarmer weg en trek dit aan. WERNER bedien koffie en beskuit. Gaan daarna sit-lê op mat. Is gespanne. FRANK drink sy koffie met oorgawe. Sien dat WERNER vir hom kyk. Kyk uitdagend terug. Sit koffie neer en kniel vinnig by WERNER. Soen hom ietwat ru op die wang. Gaan sit weer.

FRANK: Thanks, Werner.

WERNER: Waarvoor?

FRANK: Dis baie lekker hier by jou. Dis altyd beter by ’n man. G’n verantwoordelikheid. Vroumense is anders; wil altyd hê jy moet hulle liefhê en by hulle bly. Ek glo altyd: fuck them and leave them. Jy sal sien, ons twee sal lekker klaarkom saam. Ons twee gaan nog baie  nagte saam daisies in die veld pluk. Soos netnou. Jy’s ’n mens; jy’s nie plastic nie. Ek weet ons gaan regkom.

WERNER: Jy wil ... jy gaan hier bly?

FRANK (begin sy hemp aantrek):  Ja, ek het netnoumaar in die bed my mind opgemaak. Ek sê jou, ek vat altyd eers ’n tyd om my mind op te maak, maar as ek eers hom opgemaak het, dan bly ek daarby. Ons twee gaan ’n deal aan. Ek bly hier by jou en kyk uit vir ’n plek om ’n besigheid te begin. Ek weet my broer sal help. Ek sal net vir hom laat weet ek wil nou op my eie gaan. Ons kan nog altyd die income deel. Ek het jou gesê ek kan nie regkom by die ou mense nie. Ek sal my goed by hulle gaan haal. Ek sal sê ek het ’n nice chick ontmoet – ons gaan saam opshack. Dis ’n deal, nè. Tot ek my eie besigheid het. Ek sal net môre begin uitkyk. Wat sê jy?

WERNER (gee bewend in): Ja, ja, dit sal ... dit sal lekker wees. Jy bly hier en ek sorg vir jou tot jy op jou eie bene staan.

FRANK: Ek sal lief vir jou word.

WERNER: Ek sal nie vir my mense sê hoe ons ontmoet het nie. Ek ken jou van my skooljare af en jy bly net tydelik hier. Ons moet net dieselfde storie praat.

FRANK soen hom.

WERNER: Wanneer gaan jy jou goed haal?

FRANK: Wel, laat ek sien. Ek kan maar netso goed nou gaan. Het jy vir my ’n ekstra sleutel vir as ek laat inkom?

WERNER (onseker): Ja ... ek sal  moet soek. (Soek in blikkies en plastiekhouers op ’n boekrak.)

FRANK: Jy sal vir my ’n jersey moet leen. Dit sal koud wees so in die reën. Sorry dat ek die goed vir jou moet vra.

WERNER: Ek moet ook aan sulke goed dink en nie eers wag tot jy vra nie. Ek sal nou gaan kyk. Kry nie die sleutel nie.

FRANK (kom agter hom staan): Jis, kyk net al die los silwer in daai boksie. Gee vir my ook daarvan. (Lag.)

WERNER: Hier’s die sleutel.

FRANK: Thanks.

WERNER: Het jy geld vir die trein?

FRANK (voel in sy sak): Ja, jy’t mos gesê ek kan die change van die sigaretgeld hou.

WERNER: Maar is dit genoeg? Wag, sit dié by vir ingeval.

FRANK: Thanks. Jy sal onthou van die jersey?

WERNER: Jammer. Ek kry dit gou. (Af.)

FRANK (by spieël): Het jy nie vir my ’n kam nie? Lyk my ek het myne by Melody verloor. My hare is septies deurmekaar.

WERNER bring trui en kyk hoe FRANK dit aantrek. Hulle sien mekaar in die spieël. FRANK glimlag. ’n Ewigheid wag WERNER. Slaan sy arms om FRANK se middel. FRANK worstel los, piksoen WERNER op die wang en gaan by die deur uit. WERNER dwaal deur vertrek; al die gebeure flits verby. Deurklokkie lui. WERNER skrik. Maak oop. Dis DON.

WERNER: Hel, Don! Kom binne.

DON: Dankie.

WERNER: Ek’s bly om jou weer te sien. Dis nou ...

DON: Lyk of jy mense gehad het.

WERNER: Ja. (Met moeite.) Dinge het verander sedert ons laas ...

DON: Is hier iemand? Bly hier nou iemand by jou?

WERNER: Ja.

DON: Een van jou soort? (Pouse.Wag op WERNER. ) Hoe’t jy hom ontmoet?

WERNER:  Ons ken mekaar al van ons skooljare af.

DON: O.

WERNER: Het mekaar nou weer by vriende raakgeloop.

DON:  “Across a crowded room.” Jy sien hom en julle weet julle sal kliek.

WERNER: Dis net tydelik ... Nee, ek het hom op straat ...

DON: “Opgetel” is die woord.

WERNER: Dis net tydelik. Hy gaan soek vir ’n  plek om ’n besigheid te begin. Tot dan help ek hom.

DON: Hy’s  dus werkloos. Betaal jy hom vir seks?

WERNER:  Nee!

DON: Hoe lank is hy al hier?

WERNER: Van vanmiddag.

DON:  Nee! Waar’s hy nou?

WERNER: Hy’t sy goed gaan haal.

DON: Jou arme bleddie fool. Jy’s besig om oop oë vir moeilikheid te soek. Jy gaan eendag by die huis kom en dan is jy rot en kaal besteel. En wat gaan jou familie sê? Jy weet jy kan nie twee woorde agtermekaar behoorlik lieg nie. Jy gaan jou kop liederlik stamp. Kan jy nie sien dis hopeloos nie?

WERNER:  Nee ... nee,  ons gaan probeer. Dis al so lank dat ek na so iemand smag. Nou kan ek iets vir iemand doen. Ek kan hom  help. Ek kan iets vir hom beteken. En die seks is wonderlik.

DON: Moenie sê ek het jou nie gewaarsku nie. (Pouse.) Ek dink ek sal maar waai.

WERNER:  Nee, asseblief nie. Dis so moeilik ... As ek net geglo het ek sal jou  weer sien ...

DON:  ... sou jy nie weer agter jou ballas gaan staan en aanloop het nie. Dis so eenvoudig: sê vir hom julle moet uitmekaar gaan soos vriende.

WERNER: Hoe kan jy dit sê? Jy’t  hom nog nie ontmoet nie.

DON: Enige mens wat verstand het, sal die toestande in aanmerking neem. (Pouse.) Goed. Ek wil dit sê. Jy hoef nie meer te soek nie. Ek sal sorg dat jy nie meer hoef te soek nie. Hoekom dink jy het ek vanaand weer hiernatoe gekom?

WERNER: Hoe kan ek seker wees? Van jou? Ons ken mekaar skaars.

DON: Ek gaan nie myself opveil nie. Al wat ek maar net vir jou wil sê, is dat ek graag vir jou wil help met alles. ’n Vriend ... ek gril om dit so opdringerig te sê. Ons sal mekaar al hoe beter en beter leer ken. Sien jy nie dat so iets honderdmaal  beter gaan wees as so ’n halsoorkop, skandalige seksaffêre nie? Ons sal trots wees op mekaar. Ek sien uit na so ’n rustige verhouding.

WERNER:  Don ... dit klink ...dankie ... ek weet nie. Jy’s ’n getroude man. Ek ... ek sal dit graag so wil hê.

Deurklokkie lui. WERNER gaan maak oop. MELODY, ’n blonde vrou  met ’n winterpet op, staan voor die deur.

MELODY: Hallo. Is jy Werner? Bly Werner hier?

WERNER: Ja ...

Die volgende oomblik verskyn  FRANK ook in die deur. Hy skaterlag.

FRANK: Jis, is jy Werner? (Lag.) Dis Melody, Werner.

WERNER: Hallo, Melody. Kom ... kom binne.

FRANK: Sorry, ek sien nou eers jy het iemand hier. Hallo, ek’s Frank.

DON: Don. Aangenaam.

FRANK: Luister, Werner, ek het vir ons die bottel saamgebring. Ek kry net gou glase. ( Af na kombuis. )

WERNER: Dis nou onverwags.

MELODY glimlag floutjies.

FRANK (kom terug uit die kombuis): Luister, Werner, waar’s  die glase? Ek stap sommer in die kombuis in, asof ek die plek ken. Haai, hoe lyk dit met ’n bietjie musiek?

WERNER: Ek sal die glase kry. Jy sal moet inskink, ek is maar hopeloos daarmee. (Af.)

FRANK soek popmusiekplaat uit. Skakel platespeler hard aan. Kyk glimlaggend na MELODY. Wys met sy onderlyf dat hy wil dans. WERNER kom binne met glase.

FRANK:  Ek sal moet explain hoe dit gekom het dat ek en Melody hier uitgekom het.

WERNER (skakel platespeler sagter): Jy is toe nie deur ...

FRANK:  Nee, ek cruise net hier onder in die straat langs tot by die busstop.  En wie sien ek daar by die boekwinkel uitkom? Melody! Sy sê sy was by haar suster wat in die boekwinkel  werk.

MELODY (bars uit  van die lag, en skud haar kop in ongeloof): Hy praat nonsense. Ek het nie ’n suster  wat in ’n  boekwinkel...

FRANK: It doesn’t matter ... ek kry haar toe daar.

MELODY: Hy begin toe oor jou praat, maar hy kan nie sy mind opmaak of ons opkom hier na jou toe of nie. Ons het seker ses maal hier onder verbygestap voor ons opgekom het.

FRANK:  Dit was difficult ... ek was vanmiddag hier by my pal, ek het nie geweet of hy my weer so gou sou wou sien nie.

MELODY: Is julle al lank pals?

FRANK:  Ja, ons was skoolchoms.

MELODY: Jy’t  my  nog  nie van  hom vertel nie.

FRANK: Ek het nie tyd  gehad nie. Ag, kom ons drop dit nou.

MELODY:  Wat doen jy vir ’n lewe, Werner?

FRANK:  Hier’s jou dop, Melody. Don?

WERNER (ruil plaat om): Werk by ’n tydskrif.

MELODY:  Interessant! By die firma waar ek eers gewerk het, het hulle ook tydskrifte uitgegee. Ek het saam met die fotograwe gewerk. Dis nou interessant. Ons het iets gemeen.

WERNER:  Jy werk nie meer nie?

FRANK: Nee, sy hou haar hubbie happy.

MELODY: Ag, drop  it, please, Frank. Don, is mos Don, wat is jou ...

DON:  Ek werk vir die staat.

FRANK: Hi, Werner, kom sit, man. Jy gaan nie die hele tyd discjockey speel  nie. Hei, Mel, hoe lyk dit?  (Trek haar op. Sy  begin onentoesiasties dans; dan gaandeweg sensueler. WERNER hou hulle met arendsoë dop; bly nog by die platespeler. Later sak MELODY af tot op die vloer en FRANK op haar. Hulle simuleer seks. Bly sekondes lank so in mekaar. Dan staan FRANK op. Trek MELODY op; sy gaan terug na stoel.

FRANK: Hoe lyk dit, Don, wil jy nie vir haar hê nie?

DON:  Ja, dankie. Melody?

MELODY:  OK.

FRANK skink nog drank. DON en MELODY dans aanvanklik lomp; dan vind hulle mekaar. Sy skuur haar onderlyf teen hom.

FRANK: Hei, ek sien hy weet hoe om te dans!

MELODY: Sure! Jy kan by hom leer. (Hulle hou op.) Wat van jou, Werner? Jy bly heeltyd agter die platespeler? Komaan.  Jy weet jy mag nie nee sê as ’n meisie jou vra nie. Kom, liefling.

WERNER: Nee ... nee, dankie.

FRANK: Die seuntjie is net skaam.

WERNER: Ek kan nie dans nie.

FRANK: Dan’s Melody die een om jou te leer.

MELODY:  Sure. Ag, siestog, moenie met hom lol  nie, Frank. Los hom. Hy’t  so ’n mooi onskuldige oop gesig.

WERNER: Ek gaan koffie maak. (Vlug af.)

FRANK (grinnik): Toe maar, ek ken hom so. Hy is nie ’n bad outjie nie. Hei, Mel, hoe lyk dit my jy het ewe skielik die morbs? Kom, cheer up. Ek wys  vir jou ’n trick.  Met die bottel. Hei, Werner, kom kyk ek gaan ’n trick doen. Sien julle hierdie bottel? Ek gaan hom in die lug laat staan.

MELODY (terwyl FRANK probeer om die bottel teen die muur te druk):  O, hel, hel, hel. So seuntjierig! ... Om te dink ek moet netnou weer teruggaan. Na hóm toe.

Die bottel val.

FRANK: Nee, lyk my ek het my touch verloor. En niemand kyk ook nie. Ken jy die trick, Don? Jy’s so stil.

DON: Nee, jammer, ek is nie ’n ou vir tricks nie.

FRANK: Hei, komaan, Mel! Hei, smile vir die birdie! Hei, tweet, tweet, tweet! Smile! Daar’s sy! Hoe’s dit met die kiddie?

MELODY:  Fine, fine, fine. Ons moet nou-nou gaan. Werner sal moet gou maak met die koffie. Ek voel ek kan huil. Sorry, Don, ek ken jou nie. Om so voor jou te praat. Luister, Frank, jy kom saam, nè, Frank?

FRANK: Hei, ek weet nie, is hy ...

MELODY: Ek weet nie. Ek weet nie. Ek gee nie om of hy daar is nie. Of hy huis toe kom nie. Jy kom net saam.

WERNER kom met die koffie.

FRANK: Hei, Werner, Melody sê ek moet haar huis toe neem. OK, nè.

WERNER: Ja, natuurlik?

FRANK: Sy vra so mooi. Ek kan nie nee sê nie. Net vir die nag.  Ek kom môre weer. O, wag, dalk gaan ek eers strand toe.

MELODY: Waar’s jou badkamer, asseblief, Werner?

WERNER gaan wys haar en kom terug.

FRANK: Sorry, ou, sy hou nou  so aan. Hel, ek het nie gedink ek gaan weer in haar vasloop nie. Ek beter nie op straat kom nie. Om nie van die strand te praat nie. Ek het so ’n klomp vrouens wat agter my aan is; hulle sal my sommer voor almal opvreet. Ek sal weer kom, Werner. Promise. Don, jy weet seker van my en Werner, nè. Ek sweer ek sal goed wees vir hom, maar julle sal verstaan, nè, ek kan nie vir Mel vannag alleen laat nie.

WERNER: Ja, ek verstaan.

DON: Bly jy dan nie hier nie?

FRANK: Wel, soort van. Ek moet nog my goed gaan haal. Luister, Werner se pals is my pals. Jy moet hulle bring, Werner, dat ons  kan chat.

MELODY kom terug. Sy voel aan koffiebeker  en gee vinnige slukkies.

WERNER: Dis seker yskoud?

MELODY: Sorry, Werner. Ons moet maak dat ons by die huis kom. Ons sal eers ’n bus of ’n taxi moet kry tot by die stasie.

DON:  Toe maar, ek sal julle neem.

FRANK: Thanks a million, Don. Jy’s ’n pal.

MELODY:  Dankie, Don.

Hulle sit, MELODY verwese.

FRANK: Moet jy nie bel nie, Mel?  Om uit te vind of hy by die huis is nie? Wag, ek sal bel ... Mag ek, Wernie? Wat’s julle nommer?

MELODY  (oorvleuel): Ag, screw him. Ek kan nie gepla wees nie. 66124.

WERNER: Sekerlik.

MELODY:  Dit maak nie saak as hy by die huis is nie. Hy sal weer gedrink wees. Ek wil nie heelnag alleen wees nie.

FRANK (het geskakel­; geen antwoord nie): Master is nie by die huis nie. Ons kan maar waai, Don. (Trek MELODY op.) Kom, my girl. Reg, Wernie, ek sight jou weer.

WERNER: Wanneer?

FRANK: Môre, man. Jy weet mos waar ek vannag is. Cheer up.

MELODY kyk van die een na die ander. Lag dan. DON  maak die deur oop.

DON: Kom jy saam, Werner?

WERNER: Nee.

FRANK: Cheers!

Almal af. WERNER gaan kyk van die balkon af. Hoor hulle vertrek. Draai om en sien MELODY se  winterpet op die stoel lê. Tel dit op en laat val dit weer. Begin opruim. Lig doof uit.

 

TONEEL VIER

 

’n Halfuur later. Sitkamer is leeg. Deurklokkie lui. WERNER in kamerjas kom maak oop. Dis DON. Kom woordeloos binne. Hulle gaan sit.

DON: Ek het die twee afgelaai en gery. Wil nie met hulle deurmekaar raak nie. Kry jy jouself baie jammer? (WERNER reageer nie.)  Kan jy nie sien watter tipe hy is nie? Jy wil nie verder dink as net sy ...

WERNER: Ek weet, ek weet, Don. Hemel weet, die een oomblik trek dit my aan, die volgende oomblik ... Ek wil sommer net voortfoeter sonder om te dink. Ek is nie my ...

DON: Jy is nie jouself nie.

WERNER: Ek is nou in die ding.

DON: Jy sal maklik daaruit kom

WERNER: Ek dink alles sal goed uitdraai. Maar voor jou voel ek vuil, besoedel.

DON: En ons ken mekaar nie eens goed nie.

WERNER: Weet jy hoe ek al hieroor met God gepraat het? Maar ... Ek dink ek is vol ongeduld en opstandigheid as ek God vra om te help. Don, ek wil  net hê dat iemand vir my is. ’n Man. ’n Man.  Wat my liefhet. Of net ’n vriend. Nee, hy moet meer as ’n vriend wees.

DON: En hier hou jy jou op met so ’n vent.

WERNER: Maar vanmiddag ... Hy gee sy liggaam vir my. Ek weet nie, ek weet nie.

DON (help hom): Dit gaan nie verder as dit nie.

WERNER: Ja.

 DON: Julle sal nooit geesgenote wees nie.

 WERNER: Hy teer al op my. Hy sal nog meer en meer. Hy vra geld, hy vra klere.

 DON: Nou vrá hy nog.

 WERNER: Wat moet ek doen?

DON: Sê hom hy moet sy goed vat.

WERNER: Hy’t niks hier nie. Hy’t ’n sleutel. Ek sal dit nie regkry nie. En as hy weg is ...

 DON: Jy moenie verwag dat ek ... (WERNER sak ineen.) Sal jy verder regkom vannag? (WERNER antwoord nie.) Ek kan nie bly nie.

WERNER (met moeite): Al wil jy ook.

DON: Ek gaan nou maar. (DON  kom staan voor WERNER. WERNER kyk op. DON slaan sy oë neer. Uiteindelik neem DON WERNER se hande, druk dit. Net voor hy by deur uitgaan, skryf hy sy telefoonnommer op ’n sakboekblaadjie en gee dit vir WERNER. ) Bel my as jy my nodig het. As die bastard iets aanvang.

 

TONEEL VYF

’n Week later. Oral lê wasgoed opgehang oor meubels. Ook op wasgoedrak op balkon. Verder lyk dit asof iemand woonstel skoongemaak het en toe onderbreek is. Op tafel lê oopgemaakte telegram. WERNER daag met tas op van sy werk. Hy sien chaos, skrik, soek na FRANK. Begin gespanne opruim. Voordeur oop. FRANK het redelik dronkverdriet.

FRANK: Hi.

WERNER: Wat’s verkeerd?

FRANK: Dis my broer. Hy’t laat weet. Ek was besig met die wasgoed.

WERNER: Die goed op die balkon kon afgewaai het. Jy het dit nie met pennetjies vasgemaak nie.

FRANK: Moenie so plastic wees nie. Ek wou nog, toe kom die telegram. Van my broer.

WERNER: Jy’s besig om jouself te herhaal.

FRANK: Ek vertel dit só! Ek wil seker maak jy verstaan. Ek weet nie wat ek gaan doen nie. Shit, ek weet nie. Ek het die geld nodig. Ek het vanmiddag, nee, vanoggend die ou gaan sien oor die plek. Jy moet môre saam gaan as ek ’n deposit gaan betaal. Dis naby ons, net hier bo op die hoek. So werk alles goed uit. Ek stap hier op in die straat, toe sien ek die plek. Ek kan dit lekker verander. Dan werk ons saans saam daar. Ek doen houtwerk en jy sit en skrywe. Maar die bleddie geld.

WERNER: Wat se geld?

FRANK: Ek het jou mos gesê. Ek het vir my broer gebel. Hy moet my share stuur dat ek die plek kan begin. Toe hoor jy wat hy sê. Nee, hy kom af. Hy vlieg af. Hy bring die geld. Hy wil jou ook ontmoet. Hy trust my nie met die geld nie. Hy wil met jou kom praat. Hy verstaan jy’s ’n sensible outjie. Jy sal weet om te kyk  dat ek nie stront aanjaag nie. Toe, vanmiddag, ek was net besig ... toe kom die telegram. Het jy gelees?

WERNER:  Wel, ja, ek kon nie help nie. Dit het so oop en bloot hier gelê. Ek kon sien iets het gebeur dat jy alles net so gelos het. Ek het geskrik.

FRANK: Hy kom nie meer môre nie. Wat gaan ek doen? I need the money. Ek kan nie wag nie. Dinge werk net mooi reg uit. Ek het die tools van Brian, die ou van die hotel. Hy hou dit nog by hom. Ek kan dit gaan haal net wanneer ek die plek het. Ek het jou gesê ek gaan die geld vir jou teruggee. Ek sal vir jou wys, jy sal nie spyt wees jy het vir my die geld geleen nie. Ek sal vir jou wys, ek gaan die beste goed maak. The people will love it. Ek ken my job. Jy moet vir my in Jouies sien. Boy, ek werk. En as ek nie meer lus is nie, dan sê ek vir my broer: “Sien jou nou-nou”, dan stap ek uit. My broer worry nie. Hy ken my. Maar nou weet ek nie wanneer ek die geld gaan kry nie. Ek was so upset ek kon nie meer in die flat bly nie. Ek moes eers uitgaan, met Brian gaan chat. Ek sal vir my broer wys. Ek sal hier ’n plek opsit. Dan gaan ek op Jouies toe. Dan gaan wys ek ’n ding vir die bitch van ’n Cheryl. Sy loop mos weg. Sy en haar toppies ... plastic ... plastic ... en stinkryk. Sy vat my pakke. Die witte wat ek disco dra ook. Dis ’n smart pak. Ek kom by die flat. Ons sou steakhouse toe gaan. Sy’s fokken weg. Sy vat my I.D.-boek ook. Wat wil sy met my donnerse I.D.-boek maak? Ek sal vir haar gaan opfok. Sy’s  seker terug Daddy toe. Sy’s weg. Moer! Sy’s weg. Sy is ’n nice piece, real nice. Ek loop met haar by die plekke in ... enige plek in Jouies. Hulle check haar uit. She’s got it. Sy’s allright. Maar sy’s plastic. I hate them. How the bloody hell ... Wat gaan ek doen?

WERNER:  Ek dink ... Kom ons maak so: Ek sal môre, die eerste ding môre, dan trek ek geld.

FRANK: Ek sal die I.O.U. teken.

WERNER: Dan wag ons tot jou broer kom

FRANK: Dan betaal ons eers alles in op jou rekening. Hel, thanks a lot, Wernie. Hel, ek belowe jou, ek sal alles terugbetaal. Ek’s nou net  in ’n moeilike  tyd. (Pouse.) Luister ... Kan ek gou my broer bel ... net vir hom sê dis allright van die geld?

WERNER: Goed.

FRANK bel; geen antwoord. WERNER ruim klaar op.

FRANK: Nie by die huis nie. O, hy’s seker dié tyd by Maggi. (Skakel; sit sakdoek oor mondstuk. WERNER sien dit raak. Is gesteurd. Wys daarna.) Aag , dis sommer niks. Moenie worry nie. ...Hallo, Mags. Dis Frank hier. Hallo, hallo! Is Dick daar? Sal jy die ladiesbar ... sal jy daar traai? Sê hom om my te bel. Hy het my nommer. Sal jy? Thanks a ton. Hei, how’s things? O.K.? Nee, fine. ... How come? Hel, nè ... Hei, het jy vir Cheryl ... Nee, ek sal vir hulle sien. O.K., Mags, thanks, Mags. Baai.  (Tot Werner.) Helse lekker mens, Mags. Ek moet jou nog mý  vriende wys.  No offence, bud, maar party van jou vriende... vat nou vir Don die ander aand. I mean, die hele fokken aand sit hy daar met sy brooding face.  Dink hy’s ... jy kan sien wat hy dink, dis oor sy hele gesig geskryf. Oh, sulke mense – too much, too much. (Telefoon lui.) Werner, antwoord jy, dis dalk vir jou of annerste praat jy sommer met my broer. Hy’t gesê hy wil nog met jou praat.

WERNER: Hallo! Hallo!  Dis ’n bietjie dof?

FRANK: Wie’s dit?

WERNER: ’n Vrou.

FRANK: Maggi?

WERNER: Ek weet nie. Hy is nie in nie. ... Nee, dis alles reg. Ek sal vir Frank sê. Baie dankie.

FRANK: Dis nou ’n pity. Nou kan ons nie oor die deal praat nie. Maar dis nog allright met jou, nè. Net môre betaal ek die deposit. Moenie worry as ek nie môreaand hier is as jy huis toe kom nie. Ek het môre baie besigheid.

WERNER: Moet ek nog saam gaan kyk na die plek?

FRANK: O, sure. Eers kry ons die geld, dan ... ek het êrens die nommer ... ek wou vanmiddag al bel, maar toe kom die telegram. Hei, listen, doen my ’n guns. Môreoggend as jy op kantoor kom, bel net vir die meneer Solms, sê hom net jy en meneer Harris sal hom net voor etenstyd kom sien, ons sal na sy kantoor toe kom, dan kan ons saam gaan kyk na die plek. Vind net uit waar sy plek is ... jy ken die Kaap beter as ek. Hei, bud, môreaand het ek my plek. Mind you, jy sal my moet help met die bookkeeping. My broer het dit altyd  in Jouies gedoen.

WERNER: Ek weet nie veel daarvan af nie ... ek kan dalk vir Faan vra, hy sal seker. Ek het ’n klompie skryfgoed, kaartjies en so aan wat jy kan gebruik.

FRANK: Thanks. Ek wil daai hele plek chop en change. Jy sal sien. Wat sê jy ... môreaand vier ons alles. Ek sê jou, ons gaan maak eers ’n dop by die Centurion, dan sak ons by ’n steakhouse in. Dan gee ek vir jou ’n present. Ek wil vir jou ’n present gee om dankie te sê dat jy my so help.

WERNER: Dis nie nodig nie. Jy’t baie vir my gedoen.

FRANK: Ja, fok weet, niks was reg in die flat nie. Die stoof se een plaat, die strykyster. Maar ek wil dit doen. Luister, ek hou daarvan  om presente te gee. En ek het jou mos lief. Hei, ek sê, môreaand celebrate ons. Ek gee vir jou die present. Dan kom ons terug. Dan klim ons kaalgat in die bed en dan gee ek dit vir jou. Vanaand is ek te moeg. Vandag was too much gewees.

WERNER: Hoekom nie...

FRANK: Ek’s moeg. Gaan ons nie eers eet nie? Waar’s daai boek van jou? Miskien kry ek dan iets reg?

WERNER gaan haal die pornografie. Sit en kyk hoe FRANK daardeur blaai. Meteens luister FRANK na iets; spring op na venster; dan na deur.

FRANK:  Nee... Niks nie... Niks nie. Sê nou, ou, daai Melody kom weer hier aan. Ek’s hel-uit bang sy doen dit. Sy weet nou waar jy bly. Dis soos ’n pot acid. Ek sê jou. (Kom sit weer. Kyk ’n  rukkie in die boek. Kyk na WERNER. Dié kom sit voor sy stoel op die vloer. FRANK bring WERNER se hand “ingedagte” na sy skoot. WERNER begin vryf.

 

TONEEL SES

Die volgende middag. FRANK sluit deur oop, sit sleutel in  broeksak. Hy en JOE kom in. JOE kyk rond in die vertrek.

FRANK (grinnik senuagtig): Ek moes haar ’n bietjie press. Net genoeg. Sy’t dit gegee: 300 plus a futher 80 vir ’n present vir haarself.

JOE: Die haas.

FRANK: You try the bedroom.

JOE trek swart handskoene aan.

FRANK (giggel): No fear, Joe. Vir wat trek jy dit aan? Sy sal nie scream nie. Jy hoef nie so decent te wees nie.

JOE verdwyn na slaapkamer. FRANK wil by die platespeler begin; besluit dis te groot. Ruk naald uit en gooi dit by venster uit. Na lessenaar. Kry ’n “Dankie”-skryfblok. FRANK lees die “Dankie” hardop en begin soek na ’n skryfding. JOE kom uit met ’n jas, skoene en kamera.

FRANK: I’ll get the tape recorder. (Af.)

JOE begin meganies silwermunte uit lessenaarlaai neem. Kry beursie en I.D.-boek. Stop beursie in jassak. Steek I.D.-boekie aan die brand.

FRANK (terug met bandopnemer): Sy’t hier êrens ’n dagboek. (Soek in laai.) Moet êrens wees. Ek het die porn. Sy sal nie kan scream nie. Ons sal ook stil bly. (Kry dagboek en ’n balpuntpen.) Jis, real poetry, man.  Kyk net, Joe. “As ek voor jou buk, word ek dan ’n vrou? Nee. Ek wil ’n man vir jou wees. Ek aanbid die man in jou.”

JOE: Ons beter ’n break maak.

FRANK: Ek wil eers gou vir haar skryf.

JOE gaan sit in “Don se stoel”, verskuif dit uit sy normale posisie. Trap die gebrande I.D.-boekie verder stukkend. FRANK skryf nota met behae.

FRANK  (bel; dan baie formeel): Hallo. Meneer Schutte, asseblief. Meneer Werner Schutte, asseblief. Goed, dankie, ek sal. (Boots na.) Hou aan , asseblief! ... Hallo,  Wernie, hallo, buddie. Ek moes net weer bel. Listen, oor vanaand ... Ek kan nie meer wag nie.  Jy? ... Maar jy moet nou mooi luister. Maak so: Jy kom reguit huis toe. Dan shit, shave en sjampoo ons saam. Dan het ek nog ’n surprise vir jou. My broer kom haal ons dan. Ja, hy’t gebel ... he is dying to see you.  Dan ... Hy huur ’n motor ... Anyway, dan neem hy vir ons. Hy sal nie lank bly nie. Hy wil net vir jou sien en praat oor die geld ... Ons kan dan iets arrange oor die terugkomslag. Hei, boy, ek sien uit na die aand. Ons gaan dit ’n aand maak om lank te onthou. Jy sal alles kry wat ek vir jou al so baie beloof het. Sien jou dan. O.K., bye. (Sit neer.) (Sit  brief prominent op lessenaar neer. Skuif lessenaarlaai toe.) Let’s go.  (Hulle gaan af met goed.)

 

TONEEL SEWE

Aand.  WERNER kom tuis van werk. Sien dadelik stoel in ongewone posisie raak. Sien een vir een ongewone dinge raak. Vrees; ontsteltenis. Brief is die grootste skok. Storm na kamer; kom terug. Kyk in lessenaar en elders om vas te stel wat alles vermis word.  Begin geweldig bewe.Sien verbrande I.D.-boek. Strompel na telefoon. Laat weg: Nog ’n skok. Haal los papiertjie uit gids. Bel DON.

WERNER (onsamehangend): Hallo ... Don, asseblief. Kan ek asseblief ... met Don ... Werner. Dis Werner Schutte wat praat. Sal u hom vra ... my nommer ... ek dink hy het dit. Nee, vra hom ... kan u hom vra om dadelik oor te kom! Dis dringend. ... Dankie, mevrou. (Dwaal rond. Slaan dan nommer van polisie in boek na en bel.) Dis Schutte wat praat. Hulle’t hier ingebreek. ... Marmionhof 401, Schlesingerstraat. ... Heelwat. Kamera, bandopnemer, klere. Ek het nog nie na alles gekyk nie. ... Dankie. Ek sal hier wees.

Voordeurklokkie lui. Hy skrik geweldig. Maak deur versigtig oop. Dis MELODY. Nog skok.

MELODY: Hi, Werner... Onthou jy my? Mag ek inkom?

WERNER: Seker ... seker.

MELODY: Ek moes inkom stad toe. Toe dag ek ek kom ’n bietjie op. Ek dink ek het laas my pet hier laat lê. Ek was daardie aand ’n bietjie, jy weet, nie myself nie. (Sien gebrande identiteitsdokument.) En dit? Het jy kwaad geword vir jouself? (Laggie.)

WERNER: Sit ... sit.

MELODY: Iets verkeerd, Werner? Jy ...

WERNER: Ja... Ja, dis Frank. Hy’s weg. Hy’t my goed gevat.

MELODY: Frank? Haven’t  seen him for ages. Gedag hy’s dalk hier. Wat praat jy van “goed gevat”?

WERNER:Ek het die polisie laat kom.

MELODY: Is jy ernstig? Wat ... wat het hy alles gevat?

WERNER: Ek moet nog kyk.

MELODY: Ek kon nog nooit julle set-up verstaan nie. Waarom sou hy so iets aan jou gedoen het?

WERNER: Ek weet nie. Ek kan dit nie verstaan nie. Alles is so deurmekaar. Al die stories wat hy gepraat het. Ek was nooit op my gemak by hom nie. Nooit werklik nie. Hoekom het ek hom nie die deur gewys nie? Maar ek wou nie. Ek wóú hê dat alles moet uitwerk.

MELODY: Hoe’t julle involve geraak?

WERNER: Nes julle twee. Ek en hy het saam seks gehad.

MELODY: Wat! Frank en ’n man. Ek glo dit nie. Hy was so,  so wonderlik vir my. Moenie dat ek lag nie. Nee, ek glo dit nie. Hy’t die wêreld beteken vir my... met ’n man soos wat ek het. ’n Mens weet hy’s ’n bastard, maar dis wat hom so fantasties maak. As hy nou weer hier ingestap kom, sal ek weer vir hom val. So ... (giggel) ons het eintlik albei dieselfde ... Ons is eintlik rivals. Let’s compare notes! Dis die eerste keer wat so iets met my gebeur! Ek kan ook nie glo dat hy ’n krimineel is nie. Sorry, ek kan dit nie glo nie.

Deurklokkie lui. DON kom in.

DON: Werner.

MELODY: Hi, Don.

WERNER: Don, hy’t dit gedoen. (Gee die brief.)

DON: Die vreksel!

WERNER: As hy net nie gesteel het nie ... dit verander alles.

DON: Melody, wat maak jy hier?

MELODY: Hoe nou? Ek het net opgekom vir ’n chat. Kom kyk of Frank nie by Werner is nie. En in watter mess stap ek toe nie in nie? Ek  kan ook nie glo wat ek so pas gehoor het nie.

DON: Melody, wat weet jy alles van hom? Hoe weet ons... Wat wil jy en Frank hê? Jy doen hom gunsies, nè.

MELODY (met laggies): Asseblief, Don! Ek het my pet kom haal. Ek het dit laas hier laat lê. Ek moet weer waai. Ek wil nie involve raak nie. Werner het glad die polisie staan en inroep. Ek wil weg wees as hulle kom. As hulle weet wat hy is, sal hulle nie veel doen nie. (Laggie.) Don, jy sal nie verstaan nie. Werner sal weet wat Frank aan ’n mens doen. (Pouse.) Dis ... o, dis siek! Hy en Werner. Maar ... maar ek gee nie om nie! Ek gee nie om wat jy dink nie. Ek het hom op die strand opgetel. Ek het hom gebruik. En dit geniet. Glo jy my nou?

DON: Wat het hy alles gevat?

WERNER: Ek weet nie. Goed hier in die woonstel. Die geld wat ek hom geleen het. As ek aan alles dink.

DON: Hoeveel?

WERNER: Driehonderd ... nee, meer ... nee, dis meer, ek weet nie meer wat ek alles ... Maar dis niks. Dis my skuld, maar as hy net nie so laag was om te steel nie.

DON: Melody, ek lees vir jou sy afskeidswoorde: “Dankie vir dienste gelewer. As jy nie sal praat nie, sal ek nie praat nie. Cheers. Frank.”

WERNER: Wanneer kom die polisie tog!

MELODY: Moet jy dit nog vir my moeiliker maak? Ek weet ... ek het dalk altyd geweet hy’s ’n vreksel, om jou woord te gebruik, Don. Jy hoef  dit nie so in te vryf nie, Don. Ag, hel, waarom laat ek my involve raak by dié ...

WERNER: Wat moet ek sê vir hulle?

DON: Ek sal vertel soveel ek weet. Wees net eerlik. Maak nie saak wat hulle sê of dink nie. Feit bly staan, hier’s ’n misdaad gepleeg.

WERNER: Kan ek nie maak of ek hom nie ken nie? Dat dit ’n gewone inbraak was? Of dat ’n klomp my by die deur oorval het?

DON: Jy gaan jou vaspraat.

WERNER: Ek het gedink ek weet wanneer hy lieg. Ek het geluister as hy dieselfde storie vertel, ek het hom probeer uitvang, maar hy’t nooit foute gemaak nie. Ek weet nie wat om te glo nie. As alles nou net verby is ... as hy net nie weer sal terugkom nie. As ek net van alles sal kan vergeet ... Alles is so deurmekaar. Ek weet nie wat om te glo nie.

DON: Jy sal alles verwerk.

MELODY: Hy sal nie so stupid wees om terug te kom nie.

DON: Ek sal jou help. (Deurklokkie.) Ek sal oopmaak.

Jong KONSTABEL groet, kyk rond. Sal hierna ook notas maak.

KONSTABEL:  Meneer Schutte?

DON: Daar is hy.

KONSTABEL: Wat het hier gebeur, meneer Schutte?

WERNER: Hier’s goed gesteel.

KONSTABEL: Wat alles, meneer Schutte?

WERNER: Bandopnemer, klere, kamera ... ek het nog nie goed gekyk nie.

KONSTABEL: Is hier ingebreek? Hoe het hulle ingekom?

WERNER: Ek weet nie.

KONSTABEL: Is meneer Schutte seker?

DON: Ons het ’n vermoede.

KONSTABEL: Verskoon my, meneer Schutte. (Tot DON.) U is ... ?

DON: ’n  Vriend. Don Malan. (Wys na MELODY.)  Dis my vriendin, Melody.

KONSTABEL: Meneer Malan het ’n vermoede?

DON: Ons vermoed dis Frank Harris. Hy het tot onlangs die woonstel met meneer Schutte gedeel.

KONSTABEL: ’n Woonstelmaat? Hoekom sê meneer Schutte nie so nie? Kan u hom asseblief beskrywe?

WERNER (met moeite):  Hy is ... middelmatige lengte, korterige hare. Hy is baie verbrand...

KONSTABEL: “Verbrand”?!

MELODY: Ge-tan.

DON: Lyk soos iemand wat baie in die son kom.

KONSTABEL: Nog iets besonders?

DON: Nie wat ek aan kan dink nie.

KONSTABEL (kyk na MELODY se ringvinger): En u ... mevrou ...?

MELODY: Atkinson. Die t-hemp- en jeans-tipe.

WERNER: Praat  Engels en Afrikaans deurmekaar.

KONSTABEL: Goed, meneer Schutte, ek sal die saak rapporteer. Hoe oud is die verdagte?

WERNER: Iets in sy dertigs. Ouderdomloos.

KONSTABEL: “Ouderdomloos”?

WERNER: Dis moeilik om te sê hoe oud hy is.

KONSTABEL: O. Wat is meneer Schutte se werkstelefoon waar die speurder  meneer Schutte kan kontak?

WERNER: 442230.

KONSTABEL: Bietjie stadiger, meneer Schutte. (WERNER gehoorsaam.) Dankie, meneer Schutte. Dit sal voorlopig al wees. Hoekom sou hy so iets gedoen het? (Grinnikend.) Het julle huismoles gehad?

DON (ferm): Dan sal meneer Schutte  van die speurder hoor.

KONSTABEL: Dis reg. Laat ek weg wees. Soos ek sulke ouens ken, sal hy nie weer iets probeer vannag nie. Hy sal ook so ver as moontlik van hier af bly. Goeienag, almal. (Af.)

MELODY: Hy’s nie ’n fool nie. “Huismoles”. Anyway, kan ek nie so ’n bietjie vir jou help opruim nie, Werner?

WERNER: Nee ... nee, dankie, ek sal regkom.

DON: Ons moet jou kans gee om tot verhaal te kom.

MELODY: Ek kry die boodskap. O.K., laat ek waai. My geleentheid by die winkel wag al dalk. Werner, het jy nog my pet hier êrens?

WERNER gaan haal dit.

MELODY (aan DON): Slot van hoofstuk, getitel “Frank Harris”.

WERNER (terug met pet): Dankie vir die inloer, Melody.

MELODY: Sien julle weer. (Glimlaggend af.)

DON stap na venster, hande agter die rug. WERNER gaan gespanne sit. DON draai om na hom.

WERNER: Dankie.  Jy het die regte dinge gesê.

DON: Ek wil by wees as jy die verklaring vir die speurder doen.

WERNER: Ek sal jou laat weet.

DON: Dis alles verby, Werner. Jy sal alles afskud. Vergeet.  (Pouse.) Jy moenie vannag alleen hier bly nie.

WERNER: Ja, ek sal graag aan iemand wil vashou.

DON: Kom saam met my.

WERNER: Wat van jou mense?

DON: Alice hoef niks meer te weet as wat absoluut nodig is nie. Jy sal maar jou ore moet toedruk vir my stories.

WERNER: Nee ... die voorgee... Ek weet nie of ek dit sal kan hanteer nie.

DON: Goed, maar bel my asseblief.

Hulle kyk mekaar aan. Dan vinnige omhelsing en DON gaan af by voordeur, trek dit agter hom toe. WERNER gaan sluit deur gedetermineerd. Stap stadig na venster; trek gordyne toe. Gaan sit op “Don se stoel”. Staar voor hom uit. Leun agteroor. Maak oë toe.

Voordeur word van buite oopgesluit.  FRANK verskyn grynslaggend.

Ligte doof vinnig uit.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top