Draak-sprokie-kompetisie: Rêrig-êrig-regtig

  • 1

Dit gebeur soos klokslag elke vyfde dag van die vyfde week in die vyfde maand van die 500ste jaar: Zeefesius Wier, die Draak van die See, word wakker.

Anders as vorige jare is hy baie bekommerd. Dis tyd vir die Federasie van Sprokiesdiere en ander Storiekarakters se vergadering en hy kan nie die Groot Vraag beantwoord nie. Dit was sy aartsvyand, Blusdus von Brandis, die Draak van Vuur, se beurt om die kongresvraag te vra en na 500 jaar het Zeefesius Wier nog nie aan ’n goeie antwoord gedink nie. 

Zeefesius Wier is verras om te ontdek dat hy nie alleen is toe hy sy kop bo die branders net duskant Struisbaai uitsteek nie. Die son is so skerp dat hy sy oë op skrefies moet trek, maar daar is definitief iets wat na hom terugstaar vanaf die strand. 

Aangesien drake van die see bekend is vir hulle goeie maniere, swem hy nader om die Iets op die strand te groet.

“Aangename kennis, my naam is Zeefesius Wier,”groet hy.

“Hallo,”sê die Iets. “My naam is Karel.”

Karel en Zeefesius Wier buig formeel vir mekaar.

“Jy is die eerste draak wat ek ontmoet,” sê Karel.

“Jy is die eerste mens wat ek ontmoet,” sê Zeefesius Wier.

“Is jy ook hier om die Federasie van Sprokiesdiere en ander Storiekarakters se vergadering by te woon?” vra Zeefesius Wier.

Karel lag so hard dat hy sy arms oor sy maag slaan.

“Mense gaan nie na sulke vergaderings nie; mense is werklik.”

Zeefesius Wier frons.

“Hierdie jaar se Groot Vraag is juis: Wat is rêrig-êrig-regtig? Ek het nog nie die antwoord nie, maar wel ’n goeie volgende Groot Vraag.  Sonder ’n antwoord sal ek nie die vergadering kan bywoon nie en Blusdus von Brandis sal vir die tweede keer die Groot Vraag kan opmaak.”

Karel hou op lag toe hy sien hoe bekommerd die draak is.

“Almal weet daar is nie iets soos drake, feë of kabouters nie. Hulle bestaan net in storieboeke,” sê hy.

Zeefesius Wier steek sy lang nek uit totdat hy en Karel mekaar reg in die oë kan kyk. “Wel, dan weet almal werklik nie baie nie; daar is immers ook baie storieboeke wat mensekarakters in hulle het en volgens jou is mense rêrig-êrig-regtig.” Zeefesius Wier trek sy kop terug terwyl die branders oor sy nek breek.

“Ek het nog nooit so daaraan gedink nie,” erken Karel.

“Dalk is dit juis die antwoord waarna ek gesoek het: as daaroor in boeke geskryf word, is dit rêrig-êrig-regtig,” sê Zeefesius Wier.

“Vir solank as wat die storie geskryf en gelees word, is dit seker waar,” stem Karel saam. “Is daar reëls om te sê wanneer ’n antwoord reg of verkeerd is?”

Zeefesius Wier skud sy kop.

“Dan is hierdie antwoord seker so goed soos enige ander.”

“Dankie. Ek was so besig om die volgende Groot Vraag op te maak, ek het nie daaraan gedink nie.” Zeefesius Wier gee ’n laaste buiging vir Karel en verdwyn onder die branders. Hy is laat vir ’n vergadering. 

>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top