Draak-sprokie-kompetisie: Normis die Vuurspuwende

  • 0

Normis het ’n probleem.

’n Tamaai, yslike, moewiese probleem.

Hy sug en rus sy blou skubberige elmboë op sy blou skubberige knieë. Hy tob en wriemel op die rots waar hy sit. Hy grou met sy toonnaels diep bruin slote in die gras. Hy swiep sy stert heen en weer.

Dis weg. Hy weet nie hóé hy dit gaan terug kry nie.

Dit het net gebeur. Hy, Karnallie en Pampelmoesie het vuurkruipertjie in die wolke gespeel. (Pampelmoesie het haar naam gekry omdat sy so baie bessies geëet het toe sy ’n drakie was. Karnallie is so genoem omdat hy gereeld poetse bak en die lekkerste speletjies kan uitdink. En hy self is vernoem na die leier van die drake – Normis die Vuurspuwende – sy pa.)

Hy sug weer.

Hoe gaan hy dit verduidelik? Hy, Normis – die enigste seun van die Vuurspuwende – se vuur is weg.

Karnallie het hom bekruip in die wolke terwyl hý besig was om skelmpies nader aan Pampelmoesie te kom. Die volgende oomblik toe klits Karnallie hom op die stert met ’n straal speel-speel vuur, en toe – hy sug weer dat die stoom trek – toe skrik hy sy vuur weg.

Hy het dit – woeps – ingesluk.

Nou maal en kolk dit êrens in sy hol maag rond. Niks kom by sy bek uit as hy dit wyd oopmaak nie. Selfs nie eens ’n klein flikkerende vlammetjie as hy sy lippe op ’n tuit trek nie. Hy het probeer grom en brom en het al ’n verskrikte haas gejaag. Nou en dan kom ’n dun straaltjie stoom by sy bek uit, maar verder – niks, nada, zip, zero. Sy vuur het in die niet in verdwyn.

Dan onthou hy van sy ouma Annabelinda se groot silwer boek wat in die diamantkas weggesluit word! Sy was ’n wyse draak met raad vir enige draak se probleme. Al die vrae en antwoorde het sy in die silwer boek opgeteken en dit met vuur geseël.

Normis skiet van die rots af op in ’n sierlike boog. Sy vlerke klap flink en weerkaats blou in die son toe hy deur die wolke duik.

By die grot land hy saggies.

In die troonkamer haal hy die swaar silwer sleutel soetjies van die haak af. Hy sluip op sy tone na die diamantkas. Hy draai die sleutel in die slot. Steek sy hand verby sy oupa Normis die Derde se swaard en haal die silwer boek versigtig uit. Hy maak dit oop en blaai na heel agter. “Vuur ...” mompel hy by homself. Hy blaai en blaai. Net toe hy dink hy gaan nie ’n antwoord kry nie, vang sy oog die opskrif: “Vuur – weggeskrik”. Gretig lees hy die antwoord. Hy skaterlag en dink: Natuurlik!

Hy bêre die boek en huppel deur die grot, na die kombuis waar sy ma besig is om haaspastei te bak.

Die boek het gesê: “Doen dít wat jou hart laat warm klop.” Hy loop na sy ma en toe hy haar styf vasdruk, glimlag hy, terwyl sy vuur verby sy tande dans.

>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top