Borrel sien ’n brief van die rotkeiser. Borrel kyk om hom rond – almal slaap.
Borrel lees: “2012 is die jaar van die draak. Ons as diere van die Chinese diereriem verwag dat julle dié jaar iets gaan doen. In 2000 het die mensdom nie eens agtergekom het dat julle deur die feesjaar geslaap het nie.”
Borrel sug. Hy kan nie vlieg nie, hy kan nie vuur blaas nie en hy hou nie baie van slaap nie. Borrel kan swem. Hy het ure geoefen om te swem, want klein drakies word by die rotse by die see afgestamp om te leer vlieg. Die meeste van die drakies vlieg met die eerste stamp. Borrel het al so baie in die see geval dat hy leer swem het. As die drake kan vlieg, dan leer hulle volgende om vuur te blaas. So is dat Borrel die enigste draak is wat kan swem en nie vuur blaas nie.
Weke later roep Pa al die drake bymekaar. Pa sê: “Ons drake gaan ’n vuurvertoning hou op die groot muur van China. Ons blaas die hele nag lank vuur en dan sal Keiser Rot seker tevrede wees.”
Op die groot dag kom sit die drake traag op die muur. Borrel het eenkant agter ’n rots gesit.
Keiser Rot het vir die drake gedirigeer, maar later het elke draak gedoen wat hy wou. Pa het ronde sirkels geblaas en die neefs sulke lang vuurpyle. Almal het geweet dat die vuurvertoning lank onthou gaan word.
Die klein drakies het verveeld geraak en na mekaar se tone gemik. Een drakie se tone het gebrand. Hy het so rondgespring en aanhou blaas dat hy die hele muur om hom aan die band gesteek het.
Die groot muur van China brand. Ouma het vertel dat die muur van versteende hout gebou is, en dat net die vuur van ’n draak die muur aan die brand kan steek. Die drake hou op blaas. Party vlieg op. Ander help die klein drakies. Die geklap van die drake se vlerke het die vuur net meer krag gegee. Dit was ’n vlammemuur.
Ouma het so erg gebrand dat sy nie kon vlieg nie. Borrel haal diep asem. Hy sprei sy vlerke wyd en toe spring hy. Die gloed van die vuur het dalk gehelp, maar Borrel vlieg. Hy klap sy vlerke en vlieg tot by Ouma.
“ Ouma, klim op my rug!” skree Borrel.
“ Doen wat ek sê – vlieg op. Blaas oor my!” Borrel kyk haar verbaas aan. “Borrel, doen dit nou – my stert brand!” skree Ouma. Borrel vlieg tot bo Ouma en blaas. Daar kom nie vuur uit sy mond nie, maar yskoue water. Dit sis en stoom om Ouma. Ouma is papnat, maar veilig, en sy glimlag. Borrel vlieg langs die muur af en blus die vuur.
Die mense onthou 2012 as die jaar wat die muur van China gebrand het. Die drake onthou 2012 as die jaar van Borrel, die waterdraak.
>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

