Draak-sprokie-kompetisie: Sprokie van ’n drakekind

  • 0

Deesdae in ’n groot bos met ’n ho? berg bly daar nog ’n paar drake. Die kleinspan bestaan uit vier jong drakies, Zuteka, Nollie, Mops en Karla. Hulle is in Drakelandskool.

Dis vroegoggend toe Zuteka om ’n klip loer. Op die rotslys bokant hom staan sy maats. Vandag leer oom Woep die jong drakies om te vlieg. Sleeppoot stap hy met die paadjie op.

“Klap julle vlerke só,” sê oom Woep. Hy klap sy vlerke op en af. Die wind van sy klappende vlerke waai die drakies amper van die rotslys af.

Mops, Nollie en Karla klap hulle vlerke.

“Wanneer ek jou naam noem, moet jy spring,” sê oom Woep.

Zuteka klap sy vlerke. Toe oom Woep sy naam noem, spring hy. Sy o? is styf toegeknyp.

DWAA! val hy in ’n bos.

“Ag nee, Zuteka, jy kan nie jou o? toeknyp as jy vlieg nie,” raas oom Woep.

Mops, Nollie en Karla land laggend langs hom. Skaam sukkel Zuteka uit die bos.

Ná die vliegklas leer oom Vlam hulle om vuur te blaas. Zuteka skrik vir die vlamme uit die oom se bek. “Haal diep asem, maak jou bek groot oop en blaas,” sê oom Vlam.

Mops en Nollie probeer eerste en kry dit maklik reg. Volgende is dit Karla en Zuteka se beurt. Hulle haal diep asem, maak hulle bekke oop en blaas. Karla kry ’n paar vlammetjies uit. Zuteka blaas net ’n rookwolk uit.

“Ag nee, Zuteka,” sê oom Vlam. “Jy moet harder probeer.”

Mops en Nollie lag te lekker. Karla begin ook lag.

“Ag nee,” dink Zuteka. “Ek is die grootse bangbroek in Drakeland.”

Ná klas stap hy die bos in. Hy gaan lê onder ’n boom en raak aan die slaap. Hy droom hy vlieg óp en óp in die lug. Die wolke vlug weg voor die vuurtonge wat hy blaas.

Toe Zuteka wakker word, staan ’n jong seun voor hom. “Hallo,” sê Zuteka. “Wie is jy?”

“E-e-ek is Hanu,” sê die seun. “Is jy ’n regte draak?”

“Ek probeer een wees,” sê Zuteka. “Wat maak jy hier in die bos?”

“Ek kan nie my maats kry nie – ek het verdwaal.”

Zuteka glimlag vir hom. “Kom ons soek hulle,” sê hy.

Hulle soek oral in die bos. Toe soek hulle teen die berg op. Die bergpad loop voor ’n grot verby.

’n Aaklige reuk kom uit die grot. ’n Harige trol met ’n gesig vol vratte skuifel uit die donkerte. Hy gewaar hulle. Hy trek sy lippe terug en wys sy groot geel tande vir hulle.

“Hardloop!” skreeu Zuteka.

Zuteka en Hanu hardloop teen die berg op. Die paadjie raak al hoe smaller en steiler. Doef, doef, doef, kom die trol agter hulle aan.

Hanu se voete gly. “Aaaaah! Help!”gil hy en tuimel oor die afgrond.

Zuteka steek vas.

Wat moet hy doen?

Dan klap hy sy vlerke en spring. Hy vergeet om sy o? toe te knyp.

Hy vlieg af en gryp Hanu met sy bek aan sy lyfband. Versigtig sit hy die seun neer op ’n rotsplaat laer teen die berg af.

Die trol klim teen die kranse af. Hy kom vinnig nader.

Zuteka kyk op. Hy haal diep asem, maak sy bek groot oop en blaas. ’n Swart rookwolk borrel om die trol.

“Kan nie sien nie!” brul die trol. “Kan nie sien nie!” Hy klou aan die rots vas.

“Gou, Hanu, klim op my rug,” sê Zuteka.

Op en op vlieg hulle, al hoe ho?r. Aan die rand van die bos gewaar hulle Hanu se huis. Zuteka land in die tuin.

“Baie dankie, Zuteka,” sê Hanu. Hy roep sy pa en ma en hulle is verstom om ’n draak te sien.

Zuteka vlieg terug na Drakeland. Hy land netjies voor oom Woep en oom Vlam. Mops, Nollie en Karla draf nader. Oopmond luister hulle na sy storie.  

“Wow, Zuteka,” sê die ooms. “Jy is ’n held.”

Sy maats dans om hom rond. Hulle sal nie weer vir hom lag nie.

>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top