Draak-sprokie-kompetisie: Manie die kleptomaan-draak

  • 0

Lank, lank gelede in ’n klein dorpie ver weg het daar ’n vet, glibberige, geeltand-draak gebly. Sy  naam was Manie, kort vir Kleptomanie. Nou vir dié wat nie weet wat ’n kleptomaan is nie, dit is iemand wat hou van steel. Manie het alles waarop hy sy vuil, vet pote kon lê, gesteel. Die mense van die klein dorpie was al raadop en het nie meer geweet wat om te doen nie! Die ryk tantes se juwele was gesteel, die arm kinders se speelgoed was gesteel en my ma sê hy sal die melk uit jou koffie kan steel as hy die kans kry.

Die gestelery van ou Manie het aangegaan tot één dag wat klein Pieter se nuwe fiets, wat hy vir Kersfees by sy mamma en pappa gekry het, weggeraak het. Klein Pieter het besluit om sy oornagtassie te pak (skoon onderklere en baie sjokolade) en die lang pad aan te durf. Hy is toe seun-alleen op met die kronkelpad na waar ou Manie se klein, swart grot is.

“Hallo ...” roep klein Pieter by die grot se ingang. Sy woorde weergalm en kom terug na hom toe. Net toe klein Pieter se moed hom begewe en hy wou omdraai om te loop, sien hy ’n beweging. “Manie!” roep hy weer.

“Wat?” antwoord ’n kwaai stem.

“Hoekom steel jy ons goed?” vra klein Pieter, gemaak-braaf.

“Wat dink jy doen jy hier? ’n Klein seuntjie soos jy is weerloos teen ’n groot draak soos ek!” grom ou Manie.

Klein Pieter probeer om nie bang te lyk nie. “Manie, jy het iets baie spesiaal van my gesteel én ander mense se goed wat vir hulle iets beteken. Hoekom?”

“Want ek het so ’n paar jaar terug gehoor hoe Apie vir Ben vertel dat hy die draak met iemand gesteek het. Van daar af wou ek gehad het almal moes bang wees vir my! Niemand sal hierdie draak steek nie!”

Manie is baie ontsteld en blaas deur sy neus dat die rookwolke uitkom. Klein Pieter probeer om sy lag in te hou, maar hy kan nie meer nie. Hy bars uit van die lag en hou aan met lag totdat ou Manie kwaai vra: “Wat is so snaaks?”

Nadat klein Pieter bedaar het, verduidelik hy aan ou Manie om die draak met iemand te steek beteken om iemand vir die gek te hou. Nie regtig ’n draak te steek nie.

Arme ou Manie lyk so verleë. “Ek is jammer. Ek het gedink die mense van die klein dorpie wil my weg hê en daarom het ek almal se goed gevat.”

Ou Manie het al die mense se goed teruggevat en hulle om verskoning gevra. Hy het ook ’n baie belangrike les geleer – om eers seker te maak wat iemand regtig bedoel wanneer hulle iets vreemd sê.

>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top