Draak-sprokie-kompetisie: Kwartmaan

  • 1

Grys skubvlerke sprei met ’n klapklank wat in die skadu van die berg herhaal. Met die dwarsspleet van sy oog bespeur hy beweging onder hom. Wie sou so dwaas wees om sy landstreek oor te steek? wonder die gedierte. Maar toe hy die soet geur van haar vel in sy neus voel brand, weet hy dat hy haar moet hê.

Onder die kwartmaan raap hy Kathia weg, met die laaste bossie geneeskruid toegevou in haar hand.

*

In Alderberg se winterkou begin die riviere vries. Dieter die skoenmaker het Kathia se mandjie in die voetpad opgetel en jaag deur die bos uit vrees dat iets met sy liefling gebeur het. By haar huis kry hy haar verkluimde vader voor ’n uitgebrande vuurherd; leë apteekstas op die vloer.

Dieter beur aan deur die storm. Sneeu wat al dieper raak maak dit onmoontlik om verder te perd deur die vallei van Zuban te gaan, maar hy weet dat geneeskruid welig daar groei. Sy bors brand. Hy durf nie omdraai voor hy Kathia gevind het nie.

Van voor in die pad kom ’n aardige een verby. “Gaan terug. In die vallei van Zuban lê net dood,” sê beiteltandjieman en bied Dieter ’n handvol pêrels vir sy leerstewels aan. ’n Vrou se angskreet laat Dieter verby die kaalkop skuur.

“Draai terug!” skree hy hees, sy vratvingers waaiend in die wind, maar Dieter kyk nie terug nie

*

By die rivier kry hy ’n meermin wat onder ’n dik laag ys vassit.

“Ek sal my oë vir jou leen om in die toekoms mee in te kyk as jy my help,” pleit sy.
Dieter is verheug toe hy deur haar oë kyk en Kathia reg agter die berg sien sit. Hy hardloop, struikel, val in ’n gat en breek sy been. Die meermin bied haar mensbene vir hom aan om mee te loop indien hy haar tot by die varswaterpoele sal dra.

*

By die poel is dit warm, asof in ’n tropiese woud, met geen teken van sneeu nie. Dieter laat die meermin neersak in die water toe hy iets sien beweeg aan die oorkant.

“Gou! Dit is Astroth! Kom saam met my na die bodem.”

“Nee,” antwoord Dieter, wat weet dat mens nie altyd ’n meermin moet vertrou nie, maar duik instinktief na die geklap van vlerke oor sy kop druis.

’n Haakklou gryp sy rugvel. Die draak se vuurasem laat water om hom borrel. Vir ’n oomblik weet Dieter nie wat om te doen nie en begin benoud skree. Die meermin verskyn weer.

“Help!” skree Dieter terwyl die draak hom uit die water begin lig.

“Kom jy?” herhaal die meermin haar aanbod.

“Ja, ja help my net!”

Die draak laat Dieter terugplons sodat die meermin hom soos ’n stukkie brood kan weggryp. Deur maalstrome sien Dieter vae beelde van die oppervlak. Die draak volkome getransformeer met geen skub of vlerk.

“Nag Nerissa,” groet hy met beiteltandjies glimmend onder die volmaan, en in die verte kom Kathia aan wat sy mantel vir hom bring.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top