Draak-sprokie-kompetisie: Drakie wil graag nies

  • 0

Drakie woon in ’n groot park in ’n regop huisie met ’n baie lang skoorsteen. Sy doopnaam is Amos.

Amos is vandag siek – hy het verkoue en sy neus loop steeds; dan jeuk sy neus  heel erg. Amos het sy maats belowe dat hy in die park sal kom speel.

Mamma, ek gaan wandel en speel met, Wit Swaan, Grys Eekhoring en Swart Kombuiskat.”

“Dit is goed, Amos; sorg dat jy huis toe kom vir tee en draak-soetkoekies.”

Amos stap deur die park na die water waar Wit Swaan swem. Sy draakstert is baie swaar; dit sleep agter hom op die grond.

Mevrou Swaan is langs die kant van die meer. “Goeiedag, mevrou Swaan, hoe gaan dit met u?”  “Heel goed, Amos, en met jou? Jy lyk vir my knieserig?”

“Dankie dat u vra, maar ek het verkoue en ek wil nies,” en Amos gryp na sy neus.

“Asseblief nie, Amos, hou die nies in, want as jou vlam aangaan, skroei jy my vlerke en dan kan ek nie meer swem nie. Maar ek swem nou weer verder. Totsiens, Amos!” roep sy terwyl sy wegswem. Hy wens hy kan nies – sy neus kriewel heel erg.

Amos sien Meneer Eekhoring . Hy het ’n groot grondboontjie in sy mond en is van plan om in die boom te klim.

“Goeiedag, meneer Eekhoring, neem u ete vir u familie?”

“Amos, ons begin ete stoor vir die winter, maar is jy siek – jy lyk vir my so vaal?”

“Ag, meneer Eekhoring, ek het verkoue en my neus loop, en dit jeuk – ek wil graag nies,” en Amos voel na sy neus.

“Nee, nee, Amos, moenie nies nie – jou vlam sal aangaan en dan brand die boom, en my familie is binne-in ons huis. Totsiens, Amos, ek gaan gou weg,” roep

Eekhoring. O ... nou jeuk sy neus so erg, maar hy durf nie nies nie. Hy trek sy asem diep in. Amos sien Swart Kat tussen die struike sluip – hy is besig om te jag vir muise.

“Goeiedag, Swart Kat, is jy besig om muise te jag?”

“Natuurlik, Amos, jy sien dit tog, maar jy lyk vir my oes – is jy dalk siek?”

“Swart Kat ek het verkoue; my neus loop en dit jeuk – ek wil graag nies.”

“Amos, doen dit asseblief nie; as jou vlam aangaan, brand jy my pragtige pels, en ook die struike. Gaan huis toe en nies onder die skoorsteen.” Amos is hartseer. Hy wens dat hy geen draak is nie – almal vlug weg van hom. Sy stert sleep agter hom aan en hy gaan huis toe. “Is jy nou al terug, Amos?” vra Mamma.

“Mamma, ek wil nies, en al my vriende is bang dat my vlam aangaan en dan kry hulle seer.”

“Amos, jy mag nies – jou neus is nat, en dan kan jou vlam nie aangaan nie.”

“Dankie, Mamma, dankie,” en Amos begin nies: “Ai tjoe, ai tjoe, ai tjoe, ai tjoe.”

>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top