Daar was ’n tyd, voor mense soos vandag, nog saam met ander ou volke en wesens in vrede op aarde gewoon het. Hulle het geweet dat iets belangriks gaan gebeur; daarom het elke wese sy dagtaak met oorgawe gedoen en geduldig gewag.
Diep, baie diep in Ou Berg, wat met sy voet in die soom van Ou See staan, het daar twee pragtige drake gewoon. Op ’n dag kondig die drakevrou aan dat sy haar vyfde eier gelê het. Al die inwoners van die berge, valleie en Ou See het kom kyk na die pragtige wit ronde eiers. Die toeloop van toeskouers het so erg geword dat die Pa-draak Oerlheeju aangesê het om dag en nag by die grot se deur te waak. Die negehonderd en drie volmane het stadig verby gegaan. Uiteindelik verskyn daar ’n kraak in die eerste drake-eier. Pa-draak en Ma-draak staan en wriemel hul skubhande en hou mekaar styf vas. Pa-draak blaas groot wit rookwolke van afwagting. Gou-gou is Ou Berg toe onder ’n wit rookwolk.
Die fraaiste byna pienk drakie maak haar verskyning. Dadelik is Ma-draak by. Sy vryf met haar groot skubvinger liggies oor die pienk drakielyfie. Die pienk drakie vly haar liefdevol teen haar mamma se lyf aan. Toe die son lang silwer strepe oor Ou See maak en die maan vol en rond in die lug hang, breek die laaste drakie deur sy dop.
Oeraap staan buite Ou Berg-grot en blaas so al wat hy kan op die blaashoring om die vyf nuwe drakies aan te kondig.
Daardie tyd was dit die gebruik dat die sewe Njaamghewers nuwelinge besoek, en uit ’n groot boek met geel blaaie word dan ’n naam gekies. Net soos vandag was ’n naam baie belangrik en geen naam is gering geag nie. Die Njaamghewers het geweet dat die drakies baie spesiaal is, want dit is meer as negehonderd en tien volmaanjare gelede dat daar nuwe drakies gebore is. Hulle name staan al van voortyd af geskrywe.
Eers toe professor-dokter Suid-Ooster hard oor Ou Berg blaas om van die wit rookwolk ontslae te raak, kan die sewe Njaamghewers die staptog oor rotse en kranse voortsit om die vername taak te verrig.
Die Njaamghewers is oud. Hul silwer baarde is lank en swaar. Hul rûe krom getrek. Hulle oë is plooi-skrefies van lank en ver kyk. Die staptog is stadig. Kort-kort rus een eers op ’n rots of onder ’n krans.
Bo in Ou Berg-grot stap Pa-draak diep spore op en af, op en af. Hy brom en mor terwyl hy kort-kort kyk of hy die Njaamghewers al sien. Die klein drakies moet hul name voor sonsak kry, anders sal hulle onsigbaar word. Die son sit hoog en brand al Oeraap se voete, en steeds geen teken van die Njaamghewers nie. Swart Raaf bring tyding dat die Njaamghewers naby is. Almal skarrel in Ou Berg-grot om ’n sitplek te kry.
Dan hoor hulle die ou bekende slepende voetstappe van die Njaamghewers. Een vir een kom hulle ingestap en neem hul plek voor die babadrakies in. Een klipstoel bly leeg. Die toeskouers begin onder mekaar fluister. “Waar is die Njaamghewer Zheve dan?” wonder hulle. Oeraap sluip by die grot se bek uit om ondersoek in te stel. Hy kyk ver en wyd, maar geen teken van Njaamghewer Zheve nie.
Njaamghewers Eehn, Twjee, Dhriej, Vjier, Vhijf en Zhes hou vinnig vergadering. Hulle praat sag en dringend en kyk kort-kort in Pa- en Ma-draak se rigting. Ma-draak verloor ’n paar van haar skubbe van kommer, en Pa-draak blaas groot wit rookwolke wat vinnig oor Ou Berg versprei. Eehn, die oudste en kromste van die Njaamghewers, stamp met sy loopstok op die grond. Almal gee dadelik aandag. “Ons het besluit om sonder Njaamghewer Zheve voort te gaan. Die son sak al vinnig en die taak moet klaar.”
Hulle maak die groot boek oop en begin name lees.
Glievd. Voorpud. Rhykdjom. Whyshijd. Ghnade. Water van die Kronkelrivier wat oor sewentig en een klippe gespoel het, word oor die drakies gesprinkel.
Net toe Njaamghewer Vhijf sy water sprinkel, hoor almal die donderende geraas by die grot se bek. Oeraap prober Njaamghewer Zheve kalmeer. Maar hy storm vorentoe. Hy gooi sy velsak met Kronkelrivierwater sommer so wild oor die drakies. Hy skree in ’n skril stem. “Julle kon op my gewag het. Maar nee, ek is nie belangrik genoeg nie! Tien duisend en vier oumane wag ek saam met julle vir die drakies. Ek sal julle wys.” Hy wys met ’n ou krom vinger na die drakies en skree. “Avguinz, Yalouzie, Twiijs, Hjaat …”
Oeraap gryp Njaamghewer Zheve en gooi hom by Ouberg-grot uit. Voor almal se oë begin die drakies se kleur verander na groen. “Doen iets! Doen iets!” skree Ma-draak. Groot, blink trane rol oor Ma-draak se skubwange. “My babas, my babas,” snik sy. Die Njaamghewers vergader gou. Met ’n groot spinneraksakdoek vee hulle Ma-draak se trane af. Hulle droog die spinneraksakdoek in ’n halwe drake-eierdop uit. Toe hulle genoeg moederdraaktrane het, sprinkel hulle dit oor drakie Glievd. Maar Ou See sluk die son vinnig in. Net ’n rooi skynsel bly vir ’n ruk oor Ou See hang. Vir ’n oomblik is daar ’n doodse stilte. Niks kan ná sonsak meer aan die ander drakies se name en lot gedoen word nie.
Onder in die vallei en bo in die Ou Berg en selfs in die Ou See is daar tweespalt. Die drakies waarvoor almal soveel ou maanjare gewag het, kan nie eens gesien word nie. Glievd is deur die Njaamghewers gered, maar self sy is nou onsigbaar. Soms, maar net soms kan Glievd so in ’n vlietende oomblik gesien word. Almal kan dadelik Glievd se teenwoordigheid aanvoel. Sy vlieg met haar drakievlerke wyd en ver oor die aarde om wesens bymekaar te bring. Dan raak sy hulle aan met haar drakievinger en albei weet sommer net dat hulle by mekaar hoort. Só bring sy liefde aan die oer-aarde en sy wesens.
Ongelukkig volg Glievd se boeties, Avguinz, Yalouzie, Twiijs en Hjaat, haar oral waar sy gaan. Daar waar hulle Glievd se spore sien, maak hulle amok. Hulle blaas met stink warm asems in wesens se nekke totdat daar ’n donker wolk oor hulle hang. Só saai hulle twyfel in harte waar Glievd se spore lê. Dan gaan lê hulle agteroor en lag dat dit soos donderweer klink.
Glievd probeer steeds oerjare lank om liefde en geluk terug te bring onder die wesens. Avguinz, Yalouzie, Twiijs en Hjaat prober baie hard om Glievd se harde werk tot niet te maak. Glievd se teenwoordigheid is so sterk dat die donker wolke onder klippe en rotse gaan wegkruip. Die boeties, Avguinz, Yalouzie, Twiijs, Hjaat, vlug om maar op ’n ander plek amok te maak.
Tot vandag toe rol Ma-draak se trane soms teen Ou Berg se kranse af en Pa-draak blaas steeds groot wit rookwolke oor Ou Berg. Al kan die grot se bek nie meer gesien word nie, hou Oerlheeju tot vandag toe wag oor Ou Berg se drake. So nou en dan, wanneer Glievd huis toe kom, is almal in Ou Berg-grot gelukkig. Dan kan jy ver oor Ou See uitkyk en Glievd se teenwoordigheid voel.
>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.


Kommentaar
Wat 'n fantastiese storie! Eh hou van die skryf styl, die boodskap en veral die name.
Ek stem volkome saam met Thess. Welgedaan, Elza!