Draak-sprokie-kompetisie: Domkop Drakie Druipstert

  • 1

Domkop Drakie Druipstert drentel doelloos in Drakensig se bos rond. Hy is baie hartseer. Al die diere spot met hom, want hy is ‘n bietjie dom. Kort-kort snuif hy. “Eina!” skree Domkop Drakie. Vies kyk hy na sy brandende hand. Hy het alweer vuur uitgeblaas in plaas van gesnuif.

“Ha-ha,” lag Boelie Bosaap en slaan bolmakiesie in die boom van lekkerkry . “Jou domkop! Jy moet snuif, nie blaas nie.”

“Ag bly stil,” skree Domkop Drakie moedeloos. Niemand is meer sy maats nie.

“Domkop Drakie, Domkop Drakie Druipstert,” hoor hy iemand saggies fluister. Die geluid kom agter die boom uit.

Domkop Drakie loop versigtig om die boom. Kaboems, slaan Domkop Drakie neer. Iemand het sy stert aan ’n tak vasgehaak aan die agterkant van die boom.

“Hie-hie. Drakie is ’n dommie,” roep Boelie Bosaap, Manie Meerkat en Hendrik Haas en laat spaander al laggend agter die boom uit.

Domkop Drakie Druipstert probeer loskom. Hy ruk en ruk. Die boom begin kraak. “Sjoef!” val die boom om – reg bo-op Domkop Drakie.

“Poef, Ugge-Ugge,” proes Drakie tussen die takke deur.

“Domkop Drakie. Domkop Drakie Druipstert, waar is jy?” koggel Boelie Bosaap. Hulle weet nie waar hy is nie.

“Ou Dommie met die pap stert, ou Dommie wat lyk soos ’n vosperd, waar is jy?” skree Manie Meerkat.

“Drakie hangkop, Drakie souskop, waar is jy?” lag Hendrik Haas.

Maar Domkop Drakie lê doodstil onder die boom.

Boelie Bosaap, Manie Meerkat en Hendrik Haas sit reg bo-op die tak. Hulle sit eintlik reg bo-op Domkop Drakie se neus. Hy begin saggies blaas.

“Eina, my boude!” skree Boelie Bosaap en vat verbaas aan sy warm boude.

“Sjoe, my voete!” en Manie Meerkat spring van die een voet na die ander.

“Ek brand!” skree Haas en verwoed klap hy na sy een oor wat vol vlamme is.

Domkop Drakie wikkel versigtig sy hande tussen die takke in. Dit begin ritsel.

“Waaaaa!” gil Boelie Bosaap en spring deur die lug. “Wat was dit?”

“Die takke gryp my!” skree Manie Meerkat en spring bo-op Hendrik Haas, wat verskrik na die takke staar.

 “Draaaaaakkkkkkkkkk!” Domkop Drakie gee sy hardste grom nog. Skielik kom die hele boom in beweging.

“Help!” skree Boelie Bosaap, Manie Meerkat en Hendrik Haas. Hulle word deur die lug geslinger en beland in ’n poel water daar naby. Al proesend steek hulle hulle koppe uit die water uit.

“Ha-ha-ha-ha.” Domkop Drakie Druipstert gooi die takke van hom af. “Kyk wie is nou bang!” Domkop Drakie vou dubbel soos hy lag. Verbaas en sopnat staar die drie boelies hom aan. Hulle sit nog net so in die poel.

Domkop Drakie Druipstert gee ’n allemintige blaas. Die vuur warrel by sy neus uit en skroei Hasie se kophare af. “Help!” piep Hasie benoud en gryp na Boelie Bosaap.

“Van nou af noem julle my Drakie Slimkop”, en breëbors en baie ingenome draai Drakie fluit-fluit terug na Drakensig.

Nooit weer daarna het Boelie Bosaap, Manie Meerkat of Hendrik Haas vir Drakie Slimkop gespot nie.  

 

>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

 

  • 1

Kommentaar

  • Ek kan net sien hoe die kleintjies hulle verlekker in die drie boelies se ondergang!   Dit is so van pas in vandag se tyd met boelie by skole deesdae die onderwerp van bespreking!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top