Draak-sprokie-kompetisie: Die Draak-gesin hou vakansie

  • 0

“Pappa, hoekom het ons nie ook ’n motor nie?” vra Langstert, die jongste seuntjie van Grootkop en Pop Groen-Draak.

“Dit is net mense wat in motors ry; ons loop waar ons heen wil gaan,” verduidelik Pappa Grootkop. “Julle mag nie naby die dorpie kom nie, hulle sal julle sommer skiet.”

Hier bo van die spelonk af, bekyk die twee seuns die hele Sprokieskus se inwoners. Al langs die kus is die mooiste gekleurde huisies en die kinders gaan swem elke dag in die see as die son lekker warm skyn.

“Maar Pappa, hoekom kan ons dan nie met die trein ry nie, dan kan ons ook soos die mense met vakansie weggaan?” vra Langnek.

“Nee, seuns, onthou dat ek julle gewaarsku het die mense is baie bang vir ons; hulle dink ons is gevaarlik,” antwoord Pappa Grootkop.

Grootkop en Pop besluit om die seuns te verras en hulle na ’n ander omgewing te neem. Hulle sal dan so ’n paar dae daar vakansie hou. Hulle stap oor die berg, deur die hele groen Boskloof na die suide van land toe.

“Ons is nou amper by Kasteelhoogte, seuns; van daar af sal julle die pragtige Kasteel van Carcasonne kan sien. Dit is die grootste kasteel in die land en is in ’n ringvorm gebou, met baie groot mure rondom. In die middel daarvan is ’n klein dorpie met spuitfonteine en mooi, kleurryke blomtuine,” lig Grootkop hulle in.

Die volmaan skyn helder en verlig die hele omgewing daaronder. Die groot valdeur na die kasteel fassineer die seuns.

“Pappa, bly daar altyd ’n koning in elke kasteel?” wil Langstert weet. “Dit moet die mooiste plek op aarde wees. Kan ons maar vir altyd hier op Kasteelhoogte bly? Ons hou baie van die bouvallige ou kasteel waarin ons slaap.”

“As julle baie stil sal beweeg, kan ons om middernag rondom die mure van die kasteel gaan stap,” belowe Pappa Grootkop. “Onthou net om versigtig nader te beweeg, sodat die mense julle nie sien nie, want hulle is baie bang vir ons.”

Toe hulle buite rondom die mure van die kasteel stap, sien hulle al die mooi torings wat op die mure gebou is en hulle hoor die kerkklok daarbinne twaalf keer lui.

Die seuns is baie opgewonde; hulle het nog nooit so ’n mooi dorp gesien nie. Hulle wens so dat hulle ook daar binne kan rondstap, maar hulle weet dat hulle nie gesien mag word nie. Die mense sal hulle sommer skiet.

“Kom ons sit nog so ’n rukkie hier buite by ons bouval, dan kan julle na al die mooi liggies daaronder kyk,” troos mamma Pop hulle.

Grootkop bring vir hulle almal handevol heerlike appels en trosse stroopsoet druiwe om te eet. Elke keer as die perderuiters daar onder voor die groot valdeur stop en klop, spring die seuns op om beter te kan sien. Hulle wens so dat hulle ook perde het.

Dit was die lekkerste en interessantste vakansie wat Langstert en Langnek nog ooit gehad het.

>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top