Draak-sprokie-kompetisie: Borrels die draak

  • 0

Panto is ’n seuntjiedraak. Hy gaan na die  Draakskool om te leer hoe om vlamme te blaas. Om  vlamme  te blaas, kom nie sommer vanself nie. O nee! Jy moet eers Draakskool toe gaan om dit te leer.

Hoe kwaaier ’n draak is, hoe meer en warmer is die vlamme.  As ’n draak nog nie reg vlamme kan blaas nie, mag hulle  nie saam met al die drake gaan vlieg nie. 

Panto se pappa kan nie wag vir hom om reg vlamme te blaas nie.  Elke dag vra hy: “Kan jy al vlamme blaas, Panto?” 

“Nog nie, Pappa!” antwoord Panto skaam.  Al die ander drake in sy klas kry dit al amper reg, en net hy sukkel nog baie.

Die volgende dag vra sy pappa weer: “Kan jy al vlamme blaas, Panto?”

Weer moet Panto nee sê, maar vandag gaan sy pappa hom nie net so los nie.  “Wys vir my  wat jy al kan doen.”

Panto is nou baie bekommerd, want hy weet nie wat sy pappa gaan sê nie, maar hy het nie ’n keuse nie.

“Gaan net buite die grot, want ek wil nie hê julle moet goed hier aan die brand steek  nie,” sê sy mamma.

Hulle gaan buitentoe en Panto haal drie keer diep asem voordat hy blaas …

“Wat! Is dít wat jy in die skool geleer het!” skree sy pappa.  “Wil jy hê al die drake moet vir my lag omdat my seun nie  vlamme  kan blaas nie?”

Panto kan nie meer sien waar sy pappa en mamma staan nie – orals is daar net borrels.  Panto het borrels geblaas in plaas van vlamme!

Al die ander drake kom kyk waar al die borrels vandaan kom.  Hulle lag  lekker.  “Borrels! Borrels!  Jou naam is nou Borrels!” skree hulle.

“Ja, ek dink ook almal moet jou nou Borrels noem,” sê sy pappa. “Jy sal nooit ’n regte draak wees nie, want jy kan nie vlamme blaas nie.”  

Borrels is baie hartseer.  Hy is ook baie skaam, want die ander drakies wil nie meer met hom speel nie.  Hulle spot hom net.  Hy gaan skelm agter die groot rotse in en oefen om vlamme te blaas.  Hy kry dit nie reg nie en blaas net meer en groter borrels. 

Terwyl Borrels nog eendag so agter die rotse staan en oefen, hoor hy net hoe die ander drake skree.  Een van die jong drakies het per ongeluk vuur geblaas en die binnekant van ’n  grot aan die brand gesteek.  “My baba is in die grot!” skree die mamma. 

Borrels hardloop vinnig na die grot en begin blaas.  Hy blaas en blaas en blaas.  Daar is later so baie borrels dat die vlamme doodgaan daarvan. 

“Borrels! Borrels!” skree almal en kap hulle vlerke teen mekaar. “As jy nie borrels geblaas het nie, het die vlamme nie doodgegaan nie en kon die baba baie seergekry het.”

Van daardie dag af het niemand weer vir Borrels gespot omdat hy nie vlamme kon blaas nie. 
    
    

>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top