Dot Serfontein se Vrypas verdienstelik maar nie sonder foute nie

  • 1

Titel: Vrypas
Skrywer: Dot Serfontein

Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781869192976
Aantal bladsye: 352

 

 Dit wil voorkom asof 2009 ’n goeie jaar vir die publikasie van lewensverhale en memoires gaan word. André P Brink, Izak de Villiers en ook Dot Serfontein het vanjaar reeds hulle memoires gepubliseer en daar is gerugte dat Elsa Joubert die tweede deel van haar outobiografie reeds voltooi het.

In Rapport noem Hennie Aucamp onlangs hierdie opbloei in die Afrikaanse herinneringsliteratuur ’n simptoom van kultuurverlies – die groot aantal herinneringsboeke is vir hom “vinnig verbleikende kransies op die graf van iets wat eenmaal ’n dinamiese kultuur was”. Ek is egter versigtiger om juis ’n energieke bedrywigheid in ’n bepaalde genre, of tans ook in die populêre Afrikaanse musiek, as ’n teken van agteruitgang of kultuursterfte te sien, ook al is skrywers soos JC Steyn in sy onlangse Sonkyker. Afrikaner in die verkeerde eeu en nou ook Dot Serfontein in Vrypas van mening dat die vorige eeu vir groter hoogtepunte op kultuurgebied gesorg het. Bejaarde skrywers wat terugkyk op hulle eie lewens, is oral daartoe geneig om die wêreld van hulle jeug as blinker en beter as die hede te beskou.

Reeds vroeg in Vrypas laat Dot Serfontein haar leser goed verstaan dat sy nie skroom om reguit te praat nie. In aansluiting by die titel van haar boek gee sy te kenne dat bejaardes ná tagtig “’n vrypas gegee word om te doen of te laat net waarvoor hulle lus is, sonder dat dit teen hulle aangeteken staan” (12). In haar memoires skets sy dan ook algaande ’n portret van haarself as ’n vrou met ’n sterk wil; iemand wat met oorgawe op haar regte as individu kan aandring. As die dogter van ’n vermoënde Kroonstadse boer en die kleindogter van ’n volksraadslid, Danie Serfontein, wat een van die oorspronklike redaksielede van Di Patriot was, het sy die vryheid gehad om te dink en te doen net wat sy wil: “Ek was gewoond om skotvry op my eie baan by ons huis te beweeg” (91). Terugskouend beskryf sy haarself ’n enkele keer as “’n onhebbelike, arrogante klein merrie” (144) wat daarop aangedring het om by die Afrikaanse Universiteit van Pretoria te gaan studeer al was dit haar vader se wens dat sy by Rhodes Universiteit moes gaan studeer.

Met haar artikels en verhale vir die vrouetydskrif Sarie Marais het Dot Serfontein begin om as skrywer naam te maak. Toe sy in 1951 ’n waarderende brief van MER ontvang, besef sy dat sy “in die binneste kring van die Afrikaanse feministiese volkskultuur aanvaar is” (204) en dat sy ’n plek kon inneem langs medevrouejoernaliste soos Audrey Blignault, Alba Bouwer en Rykie van Reenen. Later sou Serfontein onder meer ook ’n roman in Sesotho, Tjau Thian, en ’n boek oor haar tuisdorp, Keurskrif vir Kroonstad, publiseer. Na die sukses wat haar dogter Antjie Krog in die 1970’s as digter behaal het, het sy egter dikwels gewonder of haar latere manuskripte nie vir publikasie oorweeg is bloot omdat sy Krog se moeder is nie (275).

In Vrypas blyk dit dat Dot Serfontein dit met Antjie Krog se literêre sukses as tienderjarige moeilik gevind het om enersyds haar dogter se vryheid as digter te respekteer en om andersyds haar gesag as moeder te laat geld. Sy het nie gehuiwer om beswaar te maak teen die geskiedenisonderwyser wat haar dogter van die struggle geleer het nie, maar sy het terselfdertyd ook haar invloed gebruik om Antjie se debuutbundel gepubliseer te kry. Dit is duidelik dat sy as ’n konserwatiewe Afrikaner wou verhinder dat Antjie linkse simpatieë ontwikkel.

Vir die progressiewe Sestiger-beweging het Dot Serfontein ook min waardering:

[P]ersoonlik het ek gevoel dat die Sestigers, hoewel hulle hulleself as vrydenkers teenoor ’n versmorende sisteem beskou het, op hulle beurt ’n stel beperkings op jong skrywers geplaas het wat baie tot swye gedwing het en daardie gevaarlike kloof tussen skrywer en leser gebring het wat baie verder gestrek het as die Sensuurraad. (216)

Met haar kritiek suggereer sy verder dat die wending wat die Sestigers in die Afrikaanse literatuur gebring het, veroorsaak het dat haar eie skryfwerk nooit na waarde geag is nie. Met tevredenheid voeg sy egter by: “[D]it is belangriker dat ek dit wat ek gedoen het nié ten koste van myself as tradisionele Afrikaner geskryf het nie” (217).

Vrypas kan beskou word as ’n soort outo-etnografie, dit wil sê ’n outobiografiese vertelling wat ingebed word in die kulturele konteks van die skrywer. Dot Serfontein se boek is ’n lewensverhaal wat etnografies sterk ingestem is op die kulturele en politieke strewes van die meerderheid Afrikaners in die twintigste eeu. Al sal dit vir sommige eietydse lesers moeilik wees om sonder meer met Serfontein saam te stem dat die periode onmiddellik na die bewindsoorname van die Nasionale Party (1948–60) “die rustigste en voorspoedigste in die twintigste eeu vir die hele bevolking van Suid-Afrika was” (228) en dat Hendrik Verwoerd se bydrae as staatsman hopeloos onderskat word, is dit beslis boeiend om haar eerlike verslag van haar volksverbondenheid te lees. Vrypas is geen belydenis of apologie oor die verlede nie, maar eerder ’n saaklike verduideliking van die dryfvere wat Afrikaners in hul politieke strewes gelei het.

Die aandag wat Dot Serfontein aan die politiek gee, beteken allermins dat haar boek swaartillend of ontoeganklik is. Vrypas is propvol humor en aweregse kwinkslae. Baie lesers sal skaterlag as hulle lees hoe Serfontein se moeder ’n bloutjie met hulle nuwe paraffien-yskas geloop het nadat haar vader, die “groot ingenieur”, nagelaat het om die yskas behoorlik te versorg:

En skielik kom Ma toe by die eetkamer ingestorm, briesend en van kop tot toon pikswart, die hare in roettoiings oor haar gesig en walms rook agter haar aan.

Ons weet toe almal dit gaan ure kos om alles en Ma terug na normaal te kry. Ons weet ook die groot ingenieur het kort voor ete onbekwaam met die tegnologie omgegaan.

Toe staan hy waardig op, slaan sy skoon wit arm om haar roetswart skouer, druk haar teen sy sydas en vee saggies die toiings uit haar gesig. Sê hy:

“Askies tog, ou swaer.” En ek sien tot vandag nog haar skewe kuiltjie-glimlag van vergewing. So min woorde nodig vir soveel vergifnis by twee swartgesmeerde Nasionaliste vir mekaar. (136)

Dit is jammer dat Dot Serfontein teen die einde van haar boek skielik van koers verander. Die outobiografiese vertelling maak plek vir ’n aantal losstaande sketse oor onder andere die herfs en raad aan vroue wat sowel tuisteskeppers as beroepsvroue wil wees. Vrypas sluit af met ’n grappige “Gebed oor ’n appelroomkoek”, ’n staaltjie oor ’n biduur waartydens Serfontein in haar gebedsbeurt soek na gepaste woorde en toe maar vir Christus uitnooi om saam koek te eet. Dit wil voorkom asof die skryfster belangstelling in haar eie lewensverhaal verloor het en toe maar die slot van haar boek met ’n paar middelmatige skryfseltjies gevul het. Oor die dood van haar man, Willem Krog, lees ’n mens net terloops in ’n onderskrif van ’n familiefoto uit 2004 toe hy reeds oorlede was. Serfontein se uitgewers kon sekerlik by Serfontein op ’n meer bevredigende slot aangedring het.

In Vrypas gebeur dit gereeld dat Dot Serfontein beheer oor haar skryfwerk verloor en sodoende haar leser in die duister laat oor die afloop van insidente uit haar lewe. Gebeure wat aanvanklik meevoerend oorvertel word, vervloei dikwels in vaaghede en swakgeskrewe prosa. Dit laat die vermoede ontstaan dat Vrypas haastig uitgegee is sonder genoegsame aandag aan noodsaaklike afronding.

Hoogtepunte in Vrypas is Dot Serfontein se vertelling van haar studiejare by die Universiteit van Pretoria en haar werksaamheid in Bloemfontein as jong onderwyseres en as joernalis by Die Volksblad. Vrypas bied verder ’n besondere beeld van die Vrystaat deur die oë van ’n talentvolle Afrikanervrou in die twintigste eeu.

Serfontein se boek is nie sonder foute nie, maar dit is nietemin ’n verdienstelike toevoeging tot die herinneringsliteratuur in Afrikaans.

  • 1

Kommentaar

  • Bernardine Abrahams

    Baie dankie om tyd af te neem om my epos te lees. My naam is Bernardine Abrahams. Getroud as Badrunessa Jacobs. Ek was in 2015 gediagnose met ’n brain tumour wat my blind gemaak het in my regteroog. Ek het ’n biograaf geskryf oor my kinderdae wat ek gemolesteer was deur my ouma se buurman, maar alles het nie daar geëindig nie. Is daar enige hulp vir my? Ek weet uitgewers kos baie geld. Dis hartseer want ek kry ’n government grant elke maand en niemand kan my so help nie. Is daar enige hulp vir my, want ek is baie lief vir skryf? Baie dankie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top