
Foto: Canva
Dood
Die dood kom nie soos ’n dief nie.
Hy kom nie net in stilte nie.
Hy lyk nie soos salige vrede nie.
Die dood is ’n stryd,
’n geveg in die donker,
’n gehyg na asem.
Die gegryp na onsienlikes,
iewers in die lig.
Die dood is ’n geklou,
’n stom geroep,
wat geluidloos uit ’n oop mond
opklink.
Die dood is wreed,
hy is ook geduldig.
Hy is tydsaam in sy aanslag,
afwagtend dat lig uit liefdevolle oë verdwyn
en daar dan net
’n dowwe afwesigheid ontstaan.
Wie is hierdie mens na wie ek kyk?
Hoe hard kan ek bid dat genade, Here, hom sal red!
Dit is onbegryplik,
’n stryd waarin bystanders,
hulpeloos,
meekyk.
Waar is die sprokie, die groot lig, die omhelsing?
Wat ek sien,
in my menslikheid
is net marteling wat genadeloos wys,
hoe nietig,
ons mense
werklik is.


Kommentaar
Hierdie gedig is uitsonderlik pragtig en dit is 'n baie waardevolle les.