Dood, waar is jou angel?

  • 7

Ons fok voort en ons fok noord, die vervloekte vliegies geen einde aan hulle nie, hoe meer ons sweet hoe erger raak hulle. Die radio kraak, soos soveel keer te vore; rondom verdediging want daar is soos gewoonlik geen koms nie en die seiner moet nou eers probeer om koms met HK te bewerkstellig. Ek wonder of daar ooit 'n berig deurgekom het sonder 'n gesukkel - daar word aan ons 'n Romeo Victor gegee: enige volunteers? Ek tree aan soos ek teen die tyd weet ek sou en my hele peleton weet ek sal.

Die manne is moeg uitgemergel van dag tot dag se stryd om oorlewing, van wonder wanneer is die volgende kontak, gaan ons dit maak, sal ons ooit weer kan huis toe gaan? Ons kort een ou om die seksie voltallig te maak.

"Gaan jy nie saam nie?" vra ek aan een van die wat altyd saam met my "gevolunteer" het. Sy antwoord was eenvoudig "nee". Het hierdie ou geweet wat sou volg? Ek weet nie. Tot vandag toe weet ek nie, want ek het daar op die "grens" besef hoe sekere goed gebeur wat onverklaarbaar is. Asof die persoon iets aanvoel, ek weet nie. Maar ek het dit baie keer ondervind. Ek tel my R-1 op, kyk of alles op die wapen reg is, natuurlik is alles reg. Ek het vanoggend gekyk, maar dit is tweede of eerste natuur - ons almal doen dit. In 'n firefight mag jou wapen nie storings gee nie.

Ons is al so gewoond aan hierdie soort patrollies dat ons die graad van erns meet aan die grootte van so patrollie. 'n Seksie, ag nee wat, net weer 'n klomp kak inligting wat wie weet waar verkry is. Die son is besig om sterk water te trek, ons beweeg oos, die gebied is bekend aan ons. Ek weet nie hoe ver ons geloop het nie, toe die stank. Hoe nader ons aan die area kom waarnatoe ons gestuur is hoe erger raak dit. Dit is daardie reuk wat jy nooit vergeet nie. Die stank van die dood, nee, die verrotting van die dood.

Natuurlik herken ons die kraal. Petros woon hier. Hy het aangesluit by die SAW om sy en sy gesin se omstandighede te verbeter. Hy verdien 'n inkomste, sy kinders stuur hy skool toe, 'n skool wat die sogenaamde apartheidregering beskikbaar gestel het. Hy wil net die beste vir sy kinders hê, geleerdheid.

Ons bind sakdoeke om ons neuse en monde. Die stank is verskriklik soos ons nader beweeg, ek het al baie dooie diere - verrotte diere - se stank beleef, maar dié van die mens wat besig is om te verrot is vir my die ergste. Ons is net tien beweeg eers om die kraal wag buite, wag wag wag ... om seker te maak boy(ter) het vir ons 'n hinderlaag voorberei nie. Beweeg vorentoe, stadig, die stank trek in ons klere, hare, ons siele in, ons kom nooit weer skoon nie, nooit.

Hulle lê in die oop middelspasie van die kraalkompleks. Almal is naak, asof dit in hulle geval sou saak maak, die fokken dood het hulle klaar.

Petros, hy wat toe al my water opgedrink sy kosbare waterbottel vir my uitgehou het, woordeloos, ek het dit geneem en gesluk en gesluk en gesluk totdat die bottel leeg was. Ek het sy leë waterbottel woordeloos aan hom teruggegee en Petros het breed geglimlag met sy spierwit tande: "no problem, no problem", het hy gesê.

Nou lê hy en sy gesin vir wie hy net die beste wou hê, dood.

Daar waar geslagsdele was is nou gapende verrotte wonde met spierwit krioelende wit maaiers in en in die hoek van Petros se mond die dikste aakligste bondel maaiers.

God help ons dit is verskriklik alles is vrek vrek vrek.Ek braak ja braak want hoeveel keer het ek nie al die dood gesien nie en elke keer soos nou sien ek die wreedheid van die mens.

Minwetende dat ekself net so wreed en harteloos sou raak.

Dood, waar is jou angel?
Boer in Beton.

 

 


  • 7

Kommentaar

  • Boer in Beton

    Die geheim van fantasie verhale is om deeglike navorsing te doen. Jy het baie potensiaal alhoewel jou skryfstyl nog bietjie skaafwerk benodig. het. Praat met ouens wat regtig op die grens was en moenie moed opgee nie. Sterkte
  • Die feit dat hy sy vol waterbottel vir jou gegee, jy dit self leeg gedrink en aan hom teruggegee het, en hy toe vir jou staan en glimlag het, spreek boekdele. Wat ek aflei is dat sy glimlag vol naasteliefde was. Waar was jou naasteliefde?

    Dis duidelik dat die dood se angel nie naby aan hom gekom het nie.

    Raed-na-Gael

  • Kobus de Klerk

    Ek dink dit is juis die ouens, soos jy, Boerinniebos, wat dink almal se grenservaring was dieselfde as syne, só asof daar vooraf 'n bloudruk uitgegee is aan beide kante van presies hoe die ops elke keer, repeterend, sal werk, wat met die ouens moet gesels wat werklik daar was... en dán eers agterkom hoe anders, hoe uniek, dieselfde oorlog se individuele kontakte en ops werklik is. En hoe dikwels die seksie- en peletonleiers of bevelvoerders se individuele persoonlikheid ’n merk gelaat het, op hoe elke ops uiteindelik sou verloop… Om nie eens te praat van hoe uniek en individueel elke mens in daardie situasie se eie ervaring van wat om hom heen gebeur het, is, nie.. hoe dinge kan verander vir so 'n mens, dat hy aanvanklik braak by die aanskoue van verminking, sy eie of die vyand, net om later, nadat die dood eenmaal te veel verwerk moes word oor die verloop van 'n kort tydjie, te verander in iemand wat die vlugtende Kubaan of MPLA met die Eland te jaag totdat hy hom onder die eland se wiele kan vergruis, instede van 'n meer genadige - en vinnige - koeëldood.

    Oorlog is wreed en grusaam. Daar is geen resep, behalwe oorlewing en oorwinning, nie, en laasgenoemde is meestal die persoonlike dilemma van die individuele voetsoldaat in 'n kontaksituasie. Dit is Churchill, dink ek, wat op 'n keer gesê het "Battles are won by slaughter and maneuver. The greater the general, the more he contributes in maneuver, the less he demands in slaughter."

    En ja, ek weet die Angola oorlog en die SWA grensoorlog was nie dieselfde konflik nie, maar is dit werklik verskillend in die individuele ervaring daarvan?

    Kobus de Klerk

  • Kobus, die Angola en SWA "oorlog" nie dieselfde nie,  Waar mis ek die bus ?

    Die SA ekskursie in Angola was nie 'n "oorlog" nie, maar eerder hier en daar skermutselinge wat die SAW almal loshande gewen het.

    Was dit nie vir ons papbroekige ruggraatlose volk nie, sou ons die hele Suidelike Afrika militêr kon inpalm.

    Nou sit ons met die "Spear" skildery wat 'n standpunt stel wat geen woorde kan verwoord nie.

    Raed-na-Gael

  • Kobus

    Die persoon se verhale is so vol van basiese foute van prosedures wat gevolg is dat dit vir iemand wat daar was baie duidelik is hy het geen idee waarvan hy praat nie. Ek stem saam dat elke persoon se ervaring verskil maar basiese dinge bly dieselfde.  Dis een ding om fantasieverhale te skryf, maar om dit as jou ondervindings te probeer afmaak is 'n klap in die gesig van manne wat daar was en opofferings gemaak het.

    Ek kan folios skryf maar het nie lus nie

    1 Tydens 'n aanval op hulle tb probeer die seiner hulle rv gee in die nag ! Jy sein die rv van jou tb deur op 'n afgespreekte tyd elke dag. Hk moet presies weet waar jy is.

    2 Ons hero sit die claymores af tydens die aanval !! Claymors in 'n tb ? Dis vir hinderlae.

    3 Van die luitenant tot korporaal en seksie leiers vou onder die druk en hy red die situasie eiehandig. Tydens opleiding sou hulle sy finominale leierskap ge id het en die lt sou nie die kursus gemaak het nie, jy word getoets tot jou uiterste tydens leiers kursusse.

    Ek gaan foute sien in omtrent elke parragraaf. Erken net dis 'n duimsuig storie en dan lees ons dit as sulks.

    Groete

  • Gaan die kakpratery oor die "grens" f-kken nooit einde kry nie?

    Vir die wat meer wil weet, daar is genoeg kredietwaardige boeke, veral oor Koevoet en 32 Bateljon, twee van die mees effektiewe doodmaakmasjiene wat ooit op Afrikabodem bestaan het. Ek het altwee geken en het persoonlike vriende in altwee gehad wie nie die oorlog oorleef het nie.

    Gaan lees dit voordat julle die praatjies op hierdie werf glo.

    Om dit deur allerhande stories en kak argumente te probeer romantieseer is pateties verby, GEEN f-kken oorlog is romanties nie, daar is nie so 'n ding soos 'n oorlogsheld nie, die medaljes en parades en herdenkings is alles patetiese kak om die waarheid weg te steek, dat Suid Afrika tydens die eerste rondte sy kop in 'n ding gesteek het wat hy nie kon klaarmaak nie.

    Wat presies het daardie "grensoorlog"  in my land enigiemand in die sak gebring? Fokkol, dis wat. My land is in sy moer oor "the people's harts and minds" gewen moes word. Boknai man, as jy nodig het om 'n vyand dood te maak, maak hom dan dood. Dis oor te veel praat en parades en brandewyn dat alles vir 'n bol kak gegaan het, presies soos daai spul "leiers" van Nasional Party deur hul VVO meesters beveel is.

    Pleks SA f-kken Mosambiek i.p.v Suidwes ingeval het.

    Ek is onder geen illussies oor SA nie en ek is baie lankal ontnugter en ek het meegevoel alleenlik met die troepe wie geen keuse gehad het nie, hulle moes grens toe. Ek voel saam met die families van die wie gesterf het. Laat die Nasionale Party se spul bullshitters antwoord oor die lewens wat  hulle in die drein afgepis het.

    En KdK, back off, hier raak jou bullshit heeltemal deurskynend.

    Duitswester.

     

     

  • Kobus de Klerk

    Boerinniebos,

    Die punt is ook maar dat daar in kontaksituasies en die wanorde wat dit meebring, baie dikwels van voorgeskrewe prosedures afgewyk, was. As jy daar was, behoort jy te weet. Die seiner was die kontak met hulp of was veronderstel om so te wees – ongeag die patrollie voorskrifte. Jy behoort ook te weet dat daardie roetine reëlings nie gegeld het tydens aanvalle of noodsituasies nie.

    Net soos almal nie die situasies dieselfde ervaar het nie, net so ook, hanteer mense nie die situasie agterna dieselfde nie. Sommige krop op en ontplof gereeld bietjie vir bietjie, ander ly aan ernstige depressiwiteit en sommige pleeg selfs selfmoord - ander werk dit uit die gestel uit deur dit uit te kommunikeer (wyse terapie). Jou kritiek van Boer in Beton is daarom ongevraagd.

    Raed-na-Gael, Waar daar gewapende konflik was, was dit oorlog. Die dae van konvensioneel oorlog verklaar is met die afloop van die Koreaanse oorlog verby – net soos die Japanners se optrede by Pearl Harbor ’n oorlogsverklaring teen Amerika was, so was dit met elke militêre situasie daarna wanneer die integriteit van ’n land deur aktiewe militêre optrede van ander bedreig of geskend word. Laat die terminologie jou nie vervreem van dit wat deur die terminologie beskrywe word, nie – dít is die realiteite. Die grensoorlog was om SWAPO uit te SWA hou, die Angola oorlog, om die MPLA uit Luanda te probeer uithou (totdat die Amerikaners kop uitgetrek het). Dít is die verskil.

    Die insidente waarna ek verwys, het tydens laasgenoemde plaasgevind – dit was konvensionele (so na as wat jy daaraan sal kom) militêre ops op die Angolese grondgebied – meer in besonder, die pantserkorps met offisiere uit Bloemfontein se pantserskool. Jy weet mos wat ’n Eland is… Die punt wat ek wil maak, gaan nie oor die terminologie en die politieke aard van oorlog teenoor insurgensie nie – dit gaan oor die hel van die ervaring daarvan.

    Ons mense het nié alle kontakte gewen nie, maar die meeste belangrikes wel, anders sou ons mense nie tot so na aan Luanda kon vorder nie – die ontplooiing van die G5’s en G6’e het baie tot die suksesse bygedra en daar was bespiegelinge dat dié grofgeskut die Kubaanse opmars vanaf Luanda gestuit het en vir ’n ongevalle insidensie van so hoog as 10:1 (Kubane/MPLA teenoor SA soldate) gesorg het. Maar ons het – nadat met baie van ons eie mense en die vyand se bloed betaal moes word – net weer moes terugdraai, vir niks en dit is baie ontmoedigend. As ons militêr verslaan was, kan mens verstaan, maar dit het nie gebeur nie... waarom iets aanpak en met jongmanne se lewens betaal wat nie beoog word om deurgesien te word, nie? Dit is baie neerdrukkend. Die Amerikaners moes ons van (onder meer) lugsteun voorsien om die superieure MIG 23’s die hoof te bied, maar die res is geskiedenis…

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top