
Foto: Canva
Dood slaat nou die til, my lam
voete vertel stories
van kloppende trosse are,
gegroefde hakke:
’n dubbele voos versugting
ek vryf Eight Hour Cream
aan ingesonke brûe
die eelte, die ingroeinaels
sê jammer oor die verlore Sondae
die vergete Green Cross in die kattebak
die Checkers voucher en die Romany Creams
maar haar oë kyk klaar anderpad:
want dood slaat nou die til, my lam
steek die kleingeld in sy sak
klap sy gladgeskuurde hakke
systap my vraende palms
roep ongeduldig: Next!


Kommentaar
Pragtig. Dankie.
Diep en indrukwekkend!
Skreiend mooi!