Don de Ruiter verklaar Utopia

  • 0

Vlug SA 777, met Don de Ruiter en sy handlanger Sarel aan boord, het pas geland op Gelukkige Eiland. Die doeane-beampte bestudeer Don se paspoort vir ‘n rukkie, kyk vir ‘n paar sekondes stip na die moesie tussen Don se oë en begin dan met die inkwisisie:

Doeanebeampte: Wat bring jou hierheen?

Don de Ruiter: ‘n Oordeelsfout. Ek het die waarheid gepraat. En ek het gewonder en gesing oor goed wat verbode is.

Doeanebeampte: Jy bedoel jy het vloekwoorde gebruik en sedelose gedrag aangemoedig?

Don de Ruiter: Nee wat. Almal doen dit in elk geval. Dit is hoog mode en sosiaal aanvaarbaar. My musiek gaan oor vrede, vryheid van gees, naasteliefde, vry denke en die afbreek van verskille. Sonder ‘n ideologie is alles moontlik en is alles geoorloof. En ek het maar net gewonder wat sou gebeur het as Josef nie met Maria getrou het nie. As hy eerder met Sarah of Debora of enige ander vrou van Samaria gaan wegkruip het in Egipte. En wat sou gebeur het as hy vir ál sy kinders eerder sy beroep as skrynwerker geleer het? Of hul kind dan nog steeds daardie idees sou gekry het wat vir Maria so laat huil het?

Doeanebeampte: Glo jy in helde?

Don de Ruiter: Ja. Veral in dié wat, elke keer as hulle ter dood veroordeel word, weer opstaan en voortgaan met hul werk.

Doeanebeampte: Wat is die waarheid?

Don de Ruiter: Dis nie wat almal vir jou vertel wat dit is nie.

Doeanebeampte: Ek sien hier in jou dokumente jy het ‘n rekord vir anargistiese denke en poging tot omverwerping van die bestaande orde?

Don de Ruiter: Dit is so - ek is nie militant nie.

Doeanebeampte: Jou moedertaal is Afrikaans. Beteken dit vir jou iets?

Don de Ruiter: Ja, ek kon nie net toekyk hoe hulle my taal uitverkoop nie.

Doeanebeampte: Aan wie het hulle jou taal uitverkoop?

Don de Ruiter: Aan die Afrikaner.

Doeanebeampte: Wat is die Afrikaner?

Don de Ruiter: Hulle sê dit lyk so: http://maroelamedia.co.za/afrikaner/pages/afrikaner_tuis.php en so

Doeanebeampte: En wat sê die Afrikaners wat nie Afrikaners is nie daarvan?

Don de Ruiter: Hulle is lankal gewoond daaraan. Hulle lees nie hierdie goed nie.

Die doeanebeampte draai na Don se handlanger, Sarel, en vat sy paspoort.

Doeanebeampte: Sarel ek sien jy is mnr De Ruiter se handlanger. Wat behels jou werk?

Sarel: Ek volg vir Don de Ruiter. Dan veg hy vir een of ander saak van beginsel. Wanneer hy klaar geveg het, tel ek hom van die grond af op, versorg sy wonde en doen traumaberading met hom. Dan luister ek hoe hy vertel hoe en waar hy sy volgende aanval op die volgende vyand beplan.

Doeanebeampte: Wat is Don se volgende teiken?

Sarel: Hy het sy mes in vir Facebook en Twitter. Hy glo dit neem die bekoring van ons kunstenaars, musikante, digters en skrywershelde van ons af weg. Waar ons hulle vroeër net deur hul werk geleer ken het en ‘n bewondering gehad het vir hul mistieke afsydigheid en goddelike skeppingsvermoëns, maak hul narsistiese getwiet en selfbehepte statusverklarings dat hul nou maar net deel van ons gewone mense is. Hulle antwoord selfs persoonlik wanneer ons kommentaar lewer op hul statusbywerkings. Hy sê die sosiale media is vir kunstenaars soos skerp lemmetjies in die hande van kleuters. Nou bloei hulle stukkend-gesnyde sielepuisies oral oor die kuberruimte.

Doeanebeampte: Stem jy saam met hom?

Sarel: ‘n Mens wat kies om mal te wees kan ook kies om geestesgesond te wees. Dit is geen teken van geestesgesondheid om goed aangepas te wees in ‘n siek samelewing nie.

Die doeanebeampte wend hom weer tot Don.

Doeanebeampte: In wat glo jy?

Don de Ruiter: Ek het nog nooit die moed gehad om in niks te glo nie.

Doeanebeampte: Is jy en Sarel kop in een mus?

Don de Ruiter: Jy sê so. Ek en Sarel is een.

Doeanebeampte: In daardie geval sal ons julle in hegtenis moet neem. Ons beboet gewoonlik asielsoekers met al hul besittings.

Don de Ruiter: Alles wat ons het?

Doeanebeampte: Dit is nie prakties om meer te vat nie. Gaan wag asseblief vir julle Utopia-paspoorte in die deurgangsaal hier langsaan. Dit is waar almal wag.

Don de Ruiter: Wag hulle lank?

Doeanebeampte: ‘n Uur, ‘n leeftyd, wat maak dit saak?

Don de Ruiter: Wag hulle almal op die inkwisisie?

Doeanebeampte: Nee wat, nie almal nie. Die meeste van hulle is maar net moordenaars en diewe. En vir burgerskap sal julle gemartel word totdat julle die manifes van Utopia hardop uitlees en onderteken.

Die doeanebeampte oorhandig die manifes en ‘n mikrofoon aan Don de Ruiter en beduie hom met sy karwats na die podium van waar hy aan almal in die deurgangsaal die volgende verklaring uitlees - sonder marteling en sonder protes. Die droom het waarheid geword. Sy stem klink helder oor die luidsprekerstelsel:

Ek verklaar die staat van permanente geluk
En aan almal die reg op alle voorregte
Dat lyding onnodig is wanneer daar vir almal brood is om te eet
Ek beveg die wettigheid van oorloë
Van ‘n Regstelsel wat doodmaak en straf
Ek betreur beskawings uitgelewer aan huursoldate
Ek aanskou die afsterwe van die ou orde
‘n Nuwe wêreld sal opstaan uit die as
Ons kan nie wag daarvoor nie, ons het reeds te veel gewag
Ek wil dit nou hê.

Mag my vrou beeldskoon wees elke uur van die dag
Sonder om te buig voor enige gesag
(Ek begeer haar en wil met haar liefde maak)
Mag ons seuns mans word en nie bloot volwassenes nie
En mag hulle alles bereik wat ons eens wou bereik
Mag ons broers, kamerade en medepligtiges wees
In stede daarvan dat ons aparte generasies is wat mekaar beledig
Mag ons vaders uiteindelik hulself emansipeer
En die tyd neem om hul vrouens te liefkoos
Na ‘n lewe van sweet en bloed
En skamele oomblikke van vrede tussen oorloë
Ek verklaar die staat van permanente geluk
(En dit is nie net woorde met musiek nie)
Sonder dat ons hoef te wag op messiaanse tye
Sonder dat dit deur een of ander parlement goedgekeur hoef te word
Ek verklaar dat ons hierna aan niks en niemand verantwoording hoef te doen nie
En dat ons die noodlot in eie hande sal neem
Alleen in beheer sonder enige meester, god of duiwel
As jy hier wil kom woon is daar plek vir almal
Maar helaas , ons moet nog ‘n pad loop voor ons hierdie helder ster sal sien skyn.
Ek verklaar die staat van permanente geluk.

(Déclaration – Georges Moustaki)

La Fin – The End – Dis nou klaar.

Uitspeelmusiek terwyl die titels oor die skerm spoel:

Met opregte dank aan die volgende persone, skrywers en karakters sonder wie hierdie insident nooit sou plaasgevind het nie: Miguel de Cervantes, Alonso Quijano, Don Quixote de la Mancha, Sancho Panza, Dale Wasserman, Joe Darion, Georges Moustaki, Jesus, Jacques Brel, Etienne van Heerden en Kerneels Breytenbach.

http://www.ina.fr/art-et-culture/litterature/video/I00008510/jacques-brel-la-litterature-et-don-quichotte.fr.html?fb_action_ids=10151104641990050&fb_action_types=og.likes&fb_source=timeline_og&action_object_map={"10151104641990050":10150324757633798}&action_type_map={"10151104641990050":"og.likes"}&action_ref_map=[]

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top